by

Ek het baie om voor dankbaar te wees.

Augustus 27, 2010 in Sonder kategorie

Ek gaan aanhou werk tot ek neerslaan;  ek het die geld nodig want inflasie en stygende lewenskoste het my ingehaal.  Ek het ook agtergekom dat as ek by die huis sit en niks doen nie word ek stadigaan siniel.

Nou kom ek uit die aard van my werk by hierdie twee oumense aan wat hul fabriek al twee jaar gelede gesluit het en die kantore voor aan die punt van die groot gebou in n soort woonstel ingerig het waarin hul nou permanent woon. Dis beknop en half deurmekaar, vol glaskaste met ornamente, fotos en silwer bekers wat iemand gewen het. Hulle het geen skuld nie en  besit net die fabrieksgebou wat seker n miljoen of twee werd is. Verkoop kry hulle hom nie. Hulle leef maar van hul annuiteit wat maar karirig is. Albei is siek, die een loop moeilik en het ernstige rugprobleme, die ander het al n paar hartomleinings gehad.

Ons drink koffie en ek kyk na die opgestopte bokkoppe teen die mure. Ek vra maar deur wie en waar is hulle gejag. Ja, sê die oom, sy een seun was so lief vir jag en die natuur, dis sy klomp trofees. Die tante staan op en  verskoon haarself, sy wil glo eers haar pynstillers gaan drink. Die Oom vertel dat die seun drie jaar gelede om sewe uur die aand op n Vrydag deur n rower by n robot in Johannesburg doodgeskiet is. Hulle het hom uit die kar gegooi en met sy kar weggery. Sy Ma het vyf minute voor die voorval  nog met hom op die selfoon gepraat en hy het gespot en gesê hy is binne tien minute daar, sy Ma moet die gebakte vetkoek warm hou, die botter moet sommer nog smelt as hy dit aansmeer, en hy soek appelkooskonfyt daarby, dankie Ma. Die seun was altyd vol grappies en dinge.  Hulle het die naweek by die seun en sy vrou gaan kuier, dit was n paar maande na die Oom sy eerste operasie.

Die Oubaas vee so met die hand oor sy gesig. Die ander seun, sê hy,  die jonger een, hy is in Februarie vanjaar deur n groot lorry vol stene  op die pad na Delmas reg van voor gestamp. Hulle moes saag en breek om sy stukkende lyf uit die bakkie te kry. Daar is vyf kleinkinders, maar hulle is ver van hier.

Die tante kom terug, ek kan aan haar oë sien dat  sy in die kombuis gaan staan en huil het.

Ek vra niks meer oor die bokkoppe uit nie.

Ek sit daar en dink aan my ses kinders wat almal nog leef.  Tog is ek soms ondankbaar en kla te veel oor my lewe.

Jy moet jou seëninge tel, Outop, jy moet hulle tel.

7 antwoorde op Ek het baie om voor dankbaar te wees.

  1. pasella het gesê op Augustus 27, 2010

    Ek stem Ou Top, ek is dankbaar vir al die vreugdes in my lewe.

  2. Kla met die wit brood onder die arm, het die ou mense van gepraat.

  3. Soveel om voor dankbaar te wees.
    Dis waar.

  4. abrham het gesê op Augustus 28, 2010

    bietjie bietjie seeninge maak baie. begin by een, jy sal gou meer as tien he. onthou jy daai halleluja liedjie – tel jou seeninge, tel hul een vir een – spooktrap

  5. Ek het onlangs ‘n tannie moes troos wat albei haar seuns op dieselfde ouderdom, twee jaar uitmekaar, albei aan onnatuurlik oorsake, verloor het.
    Ek sien haar so een keer ‘n week in haar tuin. Dis nie meer die tannie wat daar staan nie. Net ‘n dop.
    En dan ry ek huis toe, na my ma toe, en ek wonder of sy weet hoe geseend sy is. Om al drie haar seuns nog te hê. Al drie haar kleinkinders…

  6. zephur het gesê op September 1, 2010

    Heerlike Lentedag vir jou Ou Top

  7. aeht1 het gesê op September 2, 2010

    Sjoe

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.