by

Die winter kom, want die boemelaar het kom groet.

April 18, 2010 in Sonder kategorie

Dirkie die boemelaar het hierdie week kom groet, hy trek nou Noorde toe, tot die somer weer kom. Nou weet ek die winter is hier, sommige witstinkhout bome in ons straat se blare word al geel. En ek was die oggend nie eers tuis toe die ou kom dagsê het nie. Hy was n lid van die ou Kleurlingkorps destyds innie Kaap. Net Polina ons huishulp en Thomas die tuinjong was tuis. Polina sê die groetery het so afgeloop.

Dis Donderdag, ons swartsakke is buite op die sypaadjie maar ons het op TV gesien die Munisipale werkers staak. Polina moet dophou, as hulle lorry dit nie kom laai nie, moet sy dit inbring anders krap katte, honde en honger boemelaars die sakke stukkend en more lê die hele straat vol gemors. Thomas hoor die slaapsiek hond blaf en as hy gaan kyk is dit Dirkie wat in die sakke krap. Thomas is n klein outjie en amper so oud soos ek, hy probeer ou Dirkie verwilder maar hy kry vinnig n antwoord.

” Man gaan doen jou blêrrie werk, kyk hoe lê die honnestront daar op n gras. Los my uit, ek kom vir die Seur groet. Gaan sê vir die Seur ou Dirkie is hier. Sê vir hom ek loop vandag.”

Thomas dreig hom nog n slag daar van sy veilige posisie daar agter die ysterhek, toe vervies ou Dirkie hom.

“Jy dink jy is Malema nê? Jy dink jy kan op my kom skrou? De Lille gaan vir julle almal nog opdonder man! Wa is Polina, roep vir Polina, ek praat nie met n tuinier nie. Jy tel net drolle op man!”

Polina het die gedoente deur die kombuisvenster gesien en gehoor. Sy stap uit, sy het n aansienlike gewigsvoordeel bo Thomas en ou Dirkie.

” Jy breek weer onse sakke, en more kom Thomas nie werk nie dan moet ek optel. Sien jy hier, dis my selfoon, ek bel nou die polisie laat hulle jou kom haal”, bulder Polina en stap onverskrokke na die hek.

” Jy dink jy is n whitey, jou vetgat. Bel, bel ek sal hulle vertel wat julle vir my sê. Julle dink ek is n hond,” skreeu Dirkie terug.

Polina stuur my n “please call me”. Ek bel haar terug. Ek sê vir haar sy moet dit op ” speaker phone” sit.

Dirkie hoor dis ek, ek vra Polina om nader te staan, ek wil met Dirkie praat maar sy is te bang hy sal weghardloop met haar foon. Sy hou dit maar naby die traliehek.

Dan hoor ek vir Dirkie praat. ” Seur, Seur ek kom net groet, ek gaan vandag, dit word nou nat en koud hier. Maar  hulle vloek op my, ek het fokkel vir die lang pad Noorde toe, Seur. Hulle vloek my hier. Hierdie dik ousie het n graaf in haar hand.”

” Jy moet mooi loop ou Dirkman, staan daar, Polina sal vir jou iets bring. Wag net daar. Ons sien mekaar as die somer weer kom,” sê ek vir hom.

” Nee Seur, ek kom nie weer, ek is klaar, ons sien mekaar eendag weer daar Bo, Seur,” sê Dirkie en hy wys vir Polina die sere op sy bene, hy is verskriklik maer. Polina sê sy een oog kan nie meer oop nie. Hy haal swaar asem.

Ek beduie haar na n blou boek in my studeerkamer, daarin is geld weggesteek; twee een honderd rand note vir die wis en die onwis. Sy kry dit uiteindelik en gaan gee dit vir ou Dirkie. Hy is tevrede  en skuifelend daar weg.

Net n siel wat ek hier op aarde raakgeloop het en om een of ander rede n goeie rapport mee gehad het. n Groetende siel, vir ewig weg. Polina en Thomas sê hy sal dit nie eers vir n week maak nie, hy is gedaan, kan skaars loop. Hy het hulle bedank en het daarop aangedring om elkeen van hulle met die hand te groet. Polina sê hy het kliphard gehuil toe hulle sy hande vat.

Wederom my ou boemelaar vriend.

7 antwoorde op Die winter kom, want die boemelaar het kom groet.

  1. ‘n Traan in die oog storie nê.

  2. DallaSePa het gesê op April 18, 2010

    !!!

  3. Neander het gesê op April 18, 2010

    Goeie blog, voorspoed ou top.

  4. loudavisi het gesê op April 18, 2010

    Dis so hartseer, Ou Top.

    Jy het ‘n goeie hart.

  5. oomkallie het gesê op April 18, 2010

    Dankie vir die besoek Ou Top. Jou insig sê daar is niks met jou brein verkeerd nie. Dis wat mense nie verstaan nie! Hul glo dat ‘grys’ ‘n teken is dat alle ander selle ook stomp geraak het…

  6. maninblack het gesê op April 18, 2010

    Bon Voyage Dirkie. Ek hoop jou pad is glad, gelyk en doringvry.

  7. Ou-Top het gesê op April 18, 2010

    Ja Lo Ammi, en dankie dat jy my op jou blog na daai ander meisie se blog gestuur het. My probleme is klein, julle moet daardie arme meisie ondersteun. Sy het n hart van goud.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.