by

Ons staan vas, ten spyte van Malema en arme Terreblanche.

April 17, 2010 in Sonder kategorie

Was maar half rof die afgelope tyd. Moes dinge hier doen en vroulief onder bedaring bring en my sekuriteit opknap. Die akademiese seun maak hierdie jaar klaar met sy dotorsgraad en dan kry hy ook koers buiteland toe. Maar ek en my klein Ingelse blondekop vroutjie, ons staan vas in die kloof, soms met n traantjie in die oog en soms met n laggie op die lippe. Kom ek vertel julle maar liewer van die laggie op die lippe.

Na die aanval  stel ek my ou army boobytraps met vislyne en goeters in die nag orals om die huis. Ek verduidelik vir my vrou wat om die doen as n “trap” afgaan, so ook aan die akademiese seun. Ek slaap met die haelgeweer, my vrou met n kleiner vuurwapen en die seun met n Samurai swaard van my laatlam dogtertjie wat daar in die Kaap studeer. Ons is paraat soos wat kan kom, maar dit sê nie veel nie. Ek is kruppel, my vrou weeg skaars 50 kilogram, die seun is akedemies en hou niks van bloed en gewelddadigheid nie, die oudste Labrador is 14 jaar oud en vrot van van die rumatiek, die ander een ly aan slaapsiekte en Smooky die jong Labrador is blind gebore.  Hulle slaap almal binneshuis. Ja, ek weet ek moet na regte van hulle laat uitsit en nuwe jong honde kry. Maar ons is te lief en te jammer vir hulle.  Tog sien ek ons as n gedugte span in hierdie oorlewingsstryd. Jy kom nie staan en neuk met ons nie. Hierdie is ons  ” last stand”.  Vir selfrespek, vir eer, vir nasietrots, vir  vaderland en vir die hoop op n beter toekoms in hierdie land vir ons almal.

Een van die “booby traps” gaan om een uur die nag af. Dis n helse slag en en ek is blitsig op, geweer in die hand. Ek sien my vrou is voor my al op pad sitkamer toe waar die “booby trap” afgegaan het. Buite in die tuin moes iets beweeg het, dis waar die  een vislyn gespan was en die emmer met klippe in die sitkamer bo van die boekrak laat val het.

Die akademiese seun spring ook uit sy kamer in die gang voor ons, Samurai swaard klaar omhoog  gereed vir die  kap van die dood na onder. Ek skreeu op hom, ” Pasop dis jou Ma!”  Byna word my arme vrou onthoof, gelukkig val sy half oor Smooky en die seun duik uit skaamte terug in sy kamer. So kry ek kans om verby te kom, ek hoor hier agter my hoe Smooky huil omdat iemand op hom getrap het, ek hoor die akademiese seun sy Ma ophelp en vertroos. Ek en die ou rumatiek hond kom so gelyk in die sitkamer aan en ek skakel die buitelig aan. Ek is gereed om n waarskuwing skoot  deur die venster te skiet indien ek die vyand buite sou gewaar.

Daar sit n allemintige uil op die grasperk, hy moes te laag gevlieg het . Effens bedremmeld styg hy op en vlieg die donker in.

Uiteindelik sit ons  almal daar in die kombuis vir mekaar en lag terwyl ons koffie maak. Soos Pruimtwak sou sê.

Ons is maar n “fucked up” peleton, maar ek sê vir jou, ons gaan veg. Tot die dood toe gaan ons veg vir ons bestaan in hierdie heilige  en wonderlike land van ons.

3 antwoorde op Ons staan vas, ten spyte van Malema en arme Terreblanche.

  1. loudavisi het gesê op April 17, 2010

    Nou weet jy jou traps werk werklik!

    Slim..

  2. oomkallie het gesê op April 17, 2010

    Great pos! Skryf gerus weer.

  3. HeavyHenry het gesê op April 17, 2010

    So met die ongeluk kom darem die humor ook saam – bly om te sien julle kan darem lag!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.