Was dit n engel of n spook?
April 18, 2010 in Sonder kategorie
Ek was nie vanoggend kerk toe nie, net my vrou en haar vriendinne. Na kerk kom drink die een vriendin by ons tee. Daar was n kort gesprek, die ding het so geloop. Uit respek en geheimhouding noem ek geen name of dorpe nie.
Vriendin: Ek sal dit vir niemand anders vertel nie. Dis verskriklik, ek kan nie meer slaap nie. Ek worry. Ek weet nie of ek aan die slaap geraak en of ek gedroom het nie. Ek weet ook nie of dit my bloedsuiker of iets was nie. Maar dit het gebeur, en ek kan glad nie meer slaap nie.
My vrou: Maar jy het dan bestuur, as jy aan die slaap geraak het, sou jy van die pad af gery het?
Vriendin: Ja, ek was alleen op die pad. Ek het die ryloper al van vêr af langs die pad gesien staan. Ek het nog nooit n ryloper opgelaai nie en ek sal ook nie. Mens lees te veel in die koerante oor ontvoerings en verkragtings. Ek weet nie hoekom ek stilgehou en hom opgelaai het nie. Maar ek het.
Sy sit nou en vee met n sakdoekie aan haar neus en oë. My vrou slaan haar arm oor die vriendin se skouers. Ons ken haar al lank, sy is ons ouderdom. Haar oorlede man was n geleerde mens. Sy is n gewone mens met groot kinders en so aan.
Vriendin: Hy het ingeklim en doodstil gesit, hy het geen tas of enige bagasie by hom gehad nie. Die man het geen woord gepraat nie. Ek het gewonder hoekom ek hom opgelaai het en wou stilhou om hom weer af te laai. Dis nie hoe ek is nie. Ek weet nie hoekom ek hom opgelaai het nie. Hy praat niks.
Ek begin wonder waar die ding nou gaan eindig, want die vrou lyk werklik ontsteld.
Vriendin: Na sowat twintig minute praat hy vir die eerste keer. Hy sê, ” Can I touch you?”
Sy begin snik.
Ek: Maar wat antwoord jy toe, kon jy nie by n dorpie injaag nie.
Vriendin: Ek wou, die volgende dorp was net 10 minute weg. Ek het my lam geskrik, ek het gedink, ja, hier is dit nou, dis n moordenaar verkragter. Ek trap petrol om by die dorpie in te jaag. Hy sit sy hand saggies op my skouer, dit voel of iets uit my liggaam uit skeur. Ek vra hoekom doen hy dit en hy sê saggies ” The coming is very near.” Ek het toe my kop na hom gedraai om te vra wat hy bedoel, toe is hy weg. Daar is niemand in my imotor nie. n Duisend gedagtes en vrae flits deur my brein. Ek bewe ek wil by mense uitkom.
My vrou: En toe?
Vriendin : Ek is by die volgende dorp, ek jaag in, die polisiestasie is naby. Ek praat met die man op diens.
Ek: Wat sê hy vir jou?
Die vrou sit en bewe op haar stoel.
Vriendin: Ek vertel hom alles wat gebeur het. Hy kyk net verergd na my.
Polisieman: Mevrou, jy is nou die vyfde mens wat vandag haar instap en dieselfde kakstorie aan my kom vertel. Ons het belangrike werk om te doen. Ons kan nie na julle oumense se stront stories staan en luister nie. Is jy gesuip? Of is dit n April fools grap wat julle op my probeer speel? Julle moet ophou, ek sal n klag teen julle almal lê.
Ek: Wat doen jy toe?
Vriendin: Ek het my seun gebel en gesê ek sal n uur laat wees.
Ons drink maar ons tee en eet n gemmerkoekie. Ek weet nie, ek wil ook nie weet nie. Ek kan maar net sien die vrou is erg ontsteld, baie erg. Ek dink sy het sielkundige hulp of berading nodig.
Al wat sy verder hieroor nog kon uitkry is: Ek weet nie hoekom ek hom opgelaai het nie, ek doen dit nooit, ek het dit nog nooit in my lewe gedoen nie.
Onlangse kommentare