by

My kleinkind sien eerste lig in Perth.

Februarie 19, 2010 in Sonder kategorie

Toe kom hy n paar dae na my verjaarsdag; gister gaan kyk hoe lyk hy daar in die hospitaal. Omdat die son verblindend skerp is in Australia is die meeste mense hier al half blind. Net ek kan sien die seuntjie lyk op n druppel water net soos ek. n Foto word geneem waar ek hom in my arms vashou, word by die huis geprint en ek klim op Skype om vir vroulief in Suid Afrika te wys hoe ons twee lyk. Sy roep opgewonde na die enigste ander mens in ons huis doer in Bloemfontein; Polina ons huisbediende. Hulle kwetter saam oor hoe mooi hy is.

” Maar  hoe roep ons hom?”, wil Polina weet. Sy staan agter my vrou en ek sien die twee duidelik op my skerm.

” Ethan”, antwoord ek en spel die naam wat my vrou in groot letters  vir ons ousie neerskyf.

“E-tand”, probeer sy en na n rukkie se sy, ” maar hoekom Ouwaas? Hy es gebore saam met die tand?”.

Ek kyk na die foto voor my, ek lyk so oud en grys. Die baba so pienk en gesond.  Ons twee hier in hierdie vreemde land.

En ek dink aan die skraal ou mannetjie met sy pienk beentjies wat vanoggend toe ek hier voor die huis op die grasperk gesit en rook het, skielik die poedeltjie se chokechain vir sy bejaarde vroutjie gegee het en toe vinnig  en vasberade op my afgepeil het. Hoe ek die sigaret tussen my tande vasgebyt het en vir myswelf gese het,” As hy my kom uitkak oor ek in  hierdie sindelike woonbuurt op n grasperk sit en rook soos n  lunhchtime werker in Afrika, dan donder hierdie boer

vandag n Ausie tot binne in sy militere hospitaal.”

Hy steek hier reg voor my vas:” Good morning mate”, se hy, ” Are you allright?”

Ek se ja, ek is heel oraait.

” Ok mate, thought you had a stroke or something. Had me and the girl there worried for a second. Dont see people on the grass often here.”

Vreemde plek, vreemde mense, vreemde dinge. Ethan sal moet kop hou hier, en hy sal gereeld in Afrika by sy oupa moet kom kuier, anders gaan hy perspektief verloor.

Hierdie plek is te perfek, te gesond, te mooi, te skoon, te ryk, te vooruitstrewend, te veilig ,  en stil, verskriklik stil, nie eers die honde blaf hier nie. Die bokserhonde het lang sterte soos Vrystaat windhonde.

Die naaste aa n Afrika was gisteraand so twee uur, toe probeer n outjie aanmekaar “wheelie” met sy V8 Holden bakkie. Die strepe le vanoggend orals. Almal is kwaad, dit sal more in die koerant wees.

Ek vertel vir vroutjie en Polina dat wit ousies hier dagwerk doen vir R750  per dag. Polina wil weet of sy kan kom, ek se ja, maar sy moet onthou met R750 kan jy net ses pakkies sigarette  koop.

7 antwoorde op My kleinkind sien eerste lig in Perth.

  1. Ek kyk na die foto voor my, ek lyk so oud en grys. Die baba so pienk en gesond. Ons twee hier in hierdie vreemde land.
    Ai oom, daar pik ek toe sommer ‘n traan!!!
    Baie geluk met die klein pienk voet…hoop hy gaan vir julle baie vreugde bring al gaan hy so ver van julle wees.

  2. Smeer ‘n mandjie met gips(of is dit nou teer?) en bring hom saam……

  3. Mooi skoon stil land, dis hoe dit hoort. Mooi loop.

  4. Ou-Top het gesê op Februarie 19, 2010

    Iemand vra vir my in n e-mail brief hoe is Australia. Na lank se dink, besluit ek: Australia is presies soos wat ons almal wil he Suid Afrika moet wees. Maar daar is die heel tyd iets ongemaklik in die lug, ek weet nog nie wat dit is nie maar ek begin vermoed dat wanneer jy alles perfek reggekry het, behoort almal gelukiger te wees as wat ek hier om my sien. Wanneer alles perfek is en werk, begin die klein onbenullige goedjies jou te pla. Daai ou het nie perfek parkeer nie, die ou praat te hard, drie vliee binne in die huis is n krisis, die hitte, die jong mense wat n beach party hou en n bietjie mors en raas. Klein dingetjies wat mense erg ontstel, te erg.

  5. zephur het gesê op Februarie 19, 2010

    Vreemde wêreld…

    Hahaha so gras sit is weird wat nou as jy sou lekker lê en slaap op die gras…daar sou seker ambulanse en polisie gestop het met een groot spoed.

    Geluk met die kleinkind…

  6. Haha outop, goeie pos, lekker gelag nou! O en baie geluk met die kleinkind!

  7. loudavisi het gesê op Maart 7, 2010

    Ek wil nooit weer ‘n skrywe van jou mis nie!

    Geluk met die kleinkind, Ethan. Mooi naam.
    Hoop hy is net so oulik soos klein Ezra.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.