Laatlam in die Kaap laat weet haar Ma sy moet my bigscreen toe vat om die film District Nine te gaan kyk. Van ons ses kinders is Laatlam Engelsprekend soos haar Ma; ek reken dis omdat my kragte begin kwyn het, want die vyf seuns is Afrikaanssprekend. Sy poog van kleintyd af om my meer modern of andersdenkend te maak. Ek lees oor hierdie weird fliek en probeer uit die ding uit kom; ek wil nie n fliek gaan kyk oor goeters wat soos mudprawn lyk en die land wil oorvat nie. Laatlam hou aan smeek en ek is so lief vir haar, ek verlang so na haar daar in Kaapstad, ek stem toe maar in.
Daar sit ons toe voor die bigscreen, nogal na aan voor weens ons onderskeidelike oog en oor probleme. Na die eerste twintig minute wou ek loop, want ek herken die hoofkarakter onmiddellik: hy was veertig jaar gelede die inspekteur by Bantoesake op die plattelandse dorp waarheen my Pa moes trek vanaf die plaas nadat hy siek geword het. Die inspekteur het ou Dorcas, n bediende van die plaas, wat van Maandag tot Vrydag in die dorpshuis gewerk het, byna elke Maandagaand kom arresteer, in n groen bakkie gegooi en gaan toesluit. Die volgende dag het my ouers die boete gaan betaal en Dorcas kon uitkom. Aansoek doen vir n spesiale permit was verniet, want Pa was n Sap, n Smutsman. Ja, ek het vir Wikus van der Merwe met n passie gehaat. En hier is hy die hoofkarakter in die fliek; lyk net so, praat net so, doen net so.
Terwyl ek sukkel om op te staan met my vrou wat my aan die arm rem, wys hulle Wikus se skoonpa. Ek herken die manier van praat dadelik, maaar die gesig sukkel ek mee: is dit nou Vlok, LeGrange of lang Hendrik van der Berg. Ek is nie seker nie en gaan sit toe maar om verder te kyk. Ek raak verdiep in die storie en in die mense om my se reaksies. Ons reënboog nasie is goed verteenwoordig in die saal. My vrou giggel toe hulle Wikus se Moeder wys wat snik van trotsheid oor sy aanstelling as hoof van die magte wat die alien mudprawn moet opdonder. Regs voor my sit n paar wit outjies, toe hulle die aggresiewe Kobus die Rekkie wys, skree die een,” Nou gaan die kak spat!”
Toe die mudprawn blikke katkos begin vreet, sê n engelse ou tannie hier agter vir haar vriendin,” Catfood? Dont you find that a bit strange, dear?” Toe Wikus sy prawn vinger met n byl afkap skreeu die swart meisie studente hier voor my histeries,
” Oh no, dont do that. Serious man, dont do that!” So gaan ons deur die fliek.
Byna elke mens in die saal vind n ander toneel as vreeslik skokkend vir hom of haar. In n paar tonele stem almal saam, daar waar Wikus die bababtjies van die aliens so laat pop en met n vlam doodbrand, daar het almal in die saal simpatie mee. Daar waar die arme prawn beeskoppe en ander afval ten duurste van die Nigeriers probeer koop, daar lag die hele saal instemmend saam. Ook toe Kobus hulle die Nigeriers begin klits. n Afrikaanssprekende man het vir Wikus kliphard gewaarsku, oor die NIgeriese leier. ” Nei man, bly weg da, daai bru gaan jou arm opvriet, man!”
Toe Wikus verander in n prawn en sy mense hom begin verwerp, hoor jy kort, kort , ” Shame” en ” Hardloop Wikus, hardloop!”
As Wikus se vrou ook teen hom draai, hoor ek n gedempde ” Blerrie teef”, hier uit die agterste gestoeltes. Algaande staan ons almal soos een man agter Wikus, die hele reënboognasie, en ook agter die prawn en sy kind wat wil terug na waar hulle vandaan kom.
Wikus is nou n afskuwelike mudprawn, hy sit op n ashoop en vleg n persentjie vir sy vrou uit afvalmateriaal. Ek kon sweer ek hoor iemand snik.
Ons stap almal in stilte uit. Iewers het hierdie eienaardige fliek n koord binne n man raakgeslaan, ek weet nog nie mooi wat en waar nie.
Dankie Laatlam.
Onlangse kommentare