Ek lewe – hulle sterwe.
Oktober 24, 2009 in Sonder kategorie
Ek moes lankal hieroor geskryf het. Van die twee Britse Setlaar afstammellinge daar van die Oos-Kaap wat my destyds gehelp het toe ek in die nood was. Fred Jackson en Bob White, ou vriende daar van die Oos-Kaap. Te min mense weet hiervan, en ek is bang ekself begin vergeet.
Gedurende die somer van 1981 is daar n diepsee visvangkompetisie aan die Wilde kus se kant noord van Oos-London. Daar is seker veertig deelnemers en die eerste prys is n splinternuwe boot met enjin. Groot mans is opgewonde soos kinders. maar dit reën en dit storm, die see is woes. Die tweede dag is daar minde reën maar die see is rof. Die prys moet gewen word. Net drie bote met waaghalsiges daarop gaan uit. Ek is op een van die bote, want ek is n waaghalsige.
Skaars buite op die oop see hou ons kajuitberaad. See is te rof, te gevaarlik, ons beslluit ons jaag terug na die riviermond waar ons uitgekom het. Ek sit agter naby die twee enjins en ek sien eerste die monster van n brander wat uit die onstuimige see opstaan en op ons afkom. Ek skreeu vir die skipper voor. Daar is weinig wat hy kan doen, die monster tel ons op en gooi ons deur die lug, die boot maak n vorentoe bollemakiese, ons trek soos vrot velle deur die lug.
Die wind is stormsterk, deurmekaar branders, weerlig en reën. Dis soos n boksgeveg teen n baie groter en sterker man. Jy word deurmekaar geslaan. Sterk systrome keer dat jy vir die kant kan swem. Dis n draaikolk van meer as 200 meter, om en om terwyl jou kragte kwyn. Soms sien ek mense op die strand op en af hardloop. Iemand kom ingeswem met n tou, vorder tot naby my, toe vat die systroom hom. Hulle trek hom uit en hy land in die hospitaal. Die wereld om my word al witter, ek is doodmoeg, ek weet ek gaan sterf, en ek gee wragtig nie meer om nie, dis al amper twee ure lank wat ek veg om my lewe. Wat van die ander drie wat saam op die boot was geword het, weet ek nie. Ek is klaar, gedaan, halfpad versuip, halfpad bewusteloos, die reddingsbaadjie hou my bo.
Op die sand staan twee vriende van my, Bob en Fred. Hulle is nie booteienaars nie, hulle soek n boot om my te kom haal. Lewensredders wil nie meer in, na die eerste probeerslag, die water is bruin, gaan haaie ook wees.
Fred staan met n bier in die hand,” Jongtop gaan versuip, slapgatte wil nie n boot leen, ek sal hom gaan uithaal!”
Bob staan langs hom op die sand.” Hulle sê n helikopter is op pad, maar kan ure vat, Jongtop gaan dit nie maak nie.”
Bob is my assuransie agent. Hy gryp n booteienaar vas,” Ek doen die man se polisse, as hy sterf sal ek sorg dat sy vrou jou betaal vir die boot. As jou boot skade het en hy leef, sal hy jou self betaal. Ek kan die man goed. Leen jou boot vir Fred.”
Bob skryf agterop n pakkie dertig Stuyvesandt sy borgakte uit. Fred het n boot, Fred is bekend as een van die beste skippers in die Oos-Kaap. Bob is al grys, Fred wil hom nie saam vat nie. Fred soek n vrywillige, hy is al op die boot wat teen die wal in die rivier staan. Niemand wil klim, see is te kwaai. Fred vloek wal se kant toe,” Fokken slapgatte, ek sal die man alleen gaan haal!”
Oor die sand kom n jong man aangehardloop, hy gooi n kitbag neer, hy trek sy klere uit, hy sit sy rooi beret terug op sy kop. Net n beret en n swart PT broekie het hy aan. Dis n jong parabat wat vir die naweek duimgooi na sy ouerhuisi en hier kom skuil het teen die reën. Iemand het hom beduie wat hier aangaan.
In die water weet ek van niks, ek het reeds aanvaar my einde is hier, ek probeer maar net asem skep as die branders my n kansie gee. Dit lyk soos bruin berge hier om my. Ek wil slaap, ek is moeg en vaak en alles om my lyk na wit.
Ek hoor iemand skreeu. My oë gaan oop, ek sien n geel bootjie skuins van my. Voor in die boeg staan n jong man met n rooi beret. ” Left, left, keep it left from him!” skreeu hy op Fred wat agter die stuurwiel staan. Die jong soldaat het n langs stok met n reuse hoek vooraan, n diepsee “gaff”. Hy hak my deur die reddingsbaadjie op die blad. Die see ruk hom amper oor die kant. Hy beweeg af nader na die agterkant van die boot, het my uiteindelik aan die kraag beet, sleep my oor die kant tot binne in die boot. Fred, “duck” en “dive” die verwoede branders wat my wil terughê in die see. Ons kronkel kruis en dwars om nie omgedop te word nie. Dan kry Fred n groot brander, hy bly net agter die kruin, die enjins kerm, ons beur tot in die rivier. Alles is ewe skielik kalm.
Ek staan op sand en wil aanmekaar agtertoe val, darom beur ek vorentoe, dan val ek nie. Iemand gryp my vas, dok Dempers wil my ondersoek, maar hy kan nie as ek aanhou loop nie. Ek braak seewater uit, my keel brand, my longe brand, my hart klop teen my ribbes, my liggaam bewe. ek is half blind. Ek leef.
Ja, ek leef tot vandag toe, hoekom weet ek nie. Fred en Bob is reeds daar waar net groot visse boer.
Saluut Fred en Bob, vriende in nood. En jy klein parabat ,waar jy ookal is vandag, die Outop onthou en ek dra jou merk hier op my blad.
Onlangse kommentare