by

Halfpad.

Desember 7, 2008 in Sonder kategorie

Omdat Bloemfontein halfpad tussen Pretoria en Jefreysbaai sit. sien ek hierdie tyd van die jaar nogal heelwat kennisse en familie. Drink gou tee hier en kuier n rukkie, soms word hier oorgeslaap ook. Maar ek geniet dit en ek leer nuwe dinge van die lewe by hulle; mense op vakansie is in n goeie luim en maak hulle harte makilk oop vir n mens.

My ou vriend Ben en ek sit so in die koelte onder die boom, die vrouens maak tee daar binne; die geskeide dogter en haar seuntjie ploeter hier voor ons in die swembad rond. Dan sê ou Ben:

” Op my oudag sien ek n ding wat ek vroeër in my lewe al moes geweet. Kon n man baie gehelp het. Veral vir Tienkie, kon van die begin af sien daai man van haar was n rubbish; as sy dit net kon sien.
Die manier wat n mens sy tee of koffie met die lepel roer. Daar lê die waarheid van hul karakter.”

Hier kom die vrouens nou voor ek iets kon sê en en let op elke een se bewegings met die lepel. Dis absoluut waar. My eie vrou roer vinnig, driftig en deeglik. So is haar geaardheid ook. Ben se vrou roer stadig, amper soos n ou wat met n roeispaan rustig op sy bootjie sit en roei. Dan proe sy eers,uit die lepel, is tevrede en sit die lepel neer. Sy is so, n aardse rustige mens, word nooit verskriklik kwaad nie, glimlag na elke behaaglike slukkie. Die geskeide dogter roer vreemd, die lepel is penregop, dan krap sy so vinnig op die bodem rond, roer dan so twee draai anti kloksgewys en twee keer kloksgewys; skep dan diep op die bodem , trek die lepel uit en kyk of daar nog suiker aan die lepel kleef.

Ek weet nie, ons het nie tyd gehad om die verskillende roere mooi te ontleed nie, maar ek weet elke mens roer anders, en hulle roer elke keer dieselfde. n Mens moet die goed klassifiseer, man.

Toe kom n oom van my daar aan, ouer as tagtig. My tannie is siek, hulle is op pad na hul huis by die see. Bly al jare in n aftreeoord in Transvaal. n Kleinseun bestuur, daar is nog kleinkinders in n ander motor. Ek en my oom is na aan mekaar.
Hy sê:” Laaste keer Toppie, gaan daar bly as almal terugkom in Januarie. Het n verpleegster gekry om te kom help.”

Hy bly lank stil. Ons kyk vir mekaar. Baie woorde is nie nou nodig.

”  Sy weet. Toppie.  Altyd haar wens gewees om eendag by die see…”, kom dit skor uit sy mond.

Ek sit my hand op sy arm, iewers met die pakkery moes hy homself gestamp het, daar is n pers kol  aan die binnekant van sy arm.

Tannie sit daar eenkant op n tuinstoel by my vrou. Sy herken net my vrou, vir my glad nie meer. Sy glimlag terwyl my vrou met haar praat.

Ja, haar lewe lank was sy tog so lief vir die see.

9 antwoorde op Halfpad.

  1. tronkie het gesê op Desember 7, 2008

    Nou voel ek skielik SO hartseer. Maar die roer-storie is interessant – gaan van nou af oplet daarna.

  2. ezile het gesê op Desember 7, 2008

    Aaaaai OuTop, aaaai. Jy sê so baie met so min woorde. En so mooi. My hart gaan uit na jou en jou mense. En ek roer soos gewoonlik 20 keer na regs as ek my man se koffie roer. My eie roer ek gladnie – ek drink nie suiker of melk nie. Ek wonder nogal wat sê dit van my… Hoe roer jy joune?

  3. aixo het gesê op Desember 7, 2008

    Outop , twee weke terug sit ek en dink aan die selfde ding . Almal in my huis roer regs -om , ek linkis /anti-clock wise om . seker die ander wat verkeerdom roer . maar ek het nog geen idee hoe die wat die koffie bitter en sonner melk drink ook nog soms roer nie . hulle is seker die ongelowiges . hehehehe .

  4. My man staan so hand in die heup, koffie op die toonbank, hy kyk direk af in die koppie en roer stadig en deeglik, anti-kloksgewys. Ek? soos Ezile…hoef niks te roer nie.

  5. Ou-Top het gesê op Desember 7, 2008

    Dankie mense vir jul opmerkings. Vanmiddag kom kuier hier vriende, die man wil sy koffie uit n beker hê. Is maar soos ek, hou nie van koffie in n piering en koppie nie. Hy roer net so drie keer na regs. Drink dan stadig en behaaglik, totdat daar net so een duim koffie in die beker oorbly.Dan swaai hy die beker anti clockwise vir n hele paar keer en drink die balans met een sluk af. Ek vra hom wat doen hy nou. Hy antwoord dat hy die eerste keer net effens met die lepel roer, hy wil hê daar moet heelwat onopgelosde suiker op die bodem lê, dan skommel hy dit aan die einde sommer so met die beker om te meng.
    ” Poeding”, sê hy. ” die laaste sluk moet stroopsoet poeding wees”.

    Ja, jy is reg, hy is erg oorgewig en lief vir melktert en sulke dinge. En hy lag baie en maklik. Joviaal, soos hulle sou sê.

  6. Ceara het gesê op Desember 8, 2008

    Pragtig geskryf soos altyd Ou Top… Baie jammer oor die oom en tannie. sterkte.

  7. Dankie *snik snik*

  8. Ou Top, na aanleiding van jou kommentaar op my blog Hoe Ver. Dankie daarvoor. Die vraag ontstaan nou: Is sy vrou dalk bewus daarvan? Is sy dalk bereid om so ver te gaan om hom dit maar toe te laat omdat sy hom liefhet en nie wil verloor nie, of dalk hou sy haar maar net dom?

  9. gidivet het gesê op Desember 23, 2008

    ‘n Roerende storie. Ja die lewe is ook maar net ‘n afpakplekkie op die lang pad.

    Ek ly seker aan OCD: toe ek nog suiker ingegooi het moes die koffie 48 keer geroer word, 12 keer (in 3-slag maat) kloksgewys, dan weer 12 keer antikloksgewys, en so voorts. My vrou se as sy dit geweet het sou sy nie met my getrou het nie…Ek’t myself seker maar ‘n guns gedoen toe ek die suiker gelos het.

Los ’n antwoord vir aixo. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.