by

Oor lepels en Zioniste

Oktober 11, 2008 in Sonder kategorie

My ou visvang vriend het toe gebel en ek kom nou net terug nadat ek hom gou gaan besoek het waar hy in sy klein Fast Food and Take Aways in die middestad werk. Dis meestal swart kliente daar en ek wag geduldig by n tafeltjie dat hy klaarmaak en hier by my kom sit sodat ons finale reelings kan tref oor ons visvang trip.

Ek drink n koppie koffie en sien die drie swart mans by die tafeltjie langs my het n bord tamatie beesrib bredie bestel. Dis in n die papbord opgeskep bo- oor stampmielies, daar is n paar stukkies vleis met bene en nogal baie sous. Daar is net een bord en een metaal lepel. Ek dog net een is honger. Hulle het elke een daai groen lappie en kenteken van die Zion Church op hul hemde vasgespeld. Christie mense wat elke jaar in hul duisende opruk na n plek daar naby Pietersburg, rook of drink glad nie.

Toe begin die een wat die meeste grys in sy hare het, te eet. Net een lepel vol, dan hy hap vir n tweede keer na die lepel om dit met sy lippe mooi skoon te vee. Dan gee hy die lepel vir die tweede oudste aan, hy vat ook n hap, en maak ook die lepel skoon. Die derde een vat dieselfde lepel en neem sy hap. So gaan dit aan tot die bord kos klaar is. Die bene suig die oudste alleen af.

Hulle betaal en loop waardig by my verby, oudste voor en jongste agter.

Ek soek na die regte woord, maar kry dit nie, naaste is skaamtelose samelewendheid in hul armoede.

Ek sal dit met my vrou doen, as ek swaar genoeg kry miskien met my seuns, of my suster.

Ons het nog nie swaar genoeg gekry, maar dit kom, ek kan sien dit kom.

13 antwoorde op Oor lepels en Zioniste

  1. Ceara het gesê op Oktober 11, 2008

    Geniet die visvang!

  2. Ek is dalk maar eerder dankbaar dat dit nog nie so sleg gaan by my nie. Ek het darem ‘n paar lepels. hehe
    Maar dis ware woorde hierdie. Hier by die werk is dit ook maar so. Vandag bring die een twee snytjies brood en deel met die res, more doen die ander een weer so… Maar nie een sal huis toe gaan en kan sê hy het nie iets gekry om te eet nie.

  3. anskrige het gesê op Oktober 11, 2008

    Ai ou Top, ek raak skoon verlief op hierdie kop van jou.
    PG het nou die aand op Rian gesê mense is skynheilig want mense trou nie met siele nie, maar ek weet darem nie; affiniteit in liggaamlose siele, soos ons hier in blogland beleef, is baie, baie moontlik.
    (My tandeborsel en my ma, nê?)
    Jy kyk diep….

  4. Tog loop ons met die witbrood onder die arm en kla kla kla….en begeer om die lotto te wen.
    (Dis een ding wat ek NIE doen nie…lotto speel)

  5. Sommige Sondagoggende so elfuur kom ‘n peloton van meer as 50 ZCC-mans in hulle kakie-uniforms en swart kepse by my huis verby. Hulle dreunsang is mooi. Soms gaan staan hulle stil, maak kwart-militêre bewegings, dan beweeg hulle voort.

  6. Ou-Top het gesê op Oktober 11, 2008

    Toe ek dit sien, was dit die eerste gedagte deur my kop, Liz.

  7. Ou-Top het gesê op Oktober 11, 2008

    Kleinboer, ek wil so graag vir jou iets sê, maar ek is maar skrikerig, so ek doen dit maar hier op my blog waar jy my maar mag vloek:

    Ek het meer boeke as meeste mense in my lewe gelees. Skrywers kan nie oor iets n boek skryf terwyl hulle nog daai boek leef nie. Jy het jou vrou verloor en jy bly in n omgewing waar die materiaal vir n boek deur jou geleef word. Breek weg na, sê die rondavel op ant Sussa se plaas in die Karoo en skryf asseblief vir ons n boek. Ek bestel die eerste twee boeke nou al by jou. Gee net jou bankrek.nommer.

    n Mens kan eers n boek skryf as daai dinge agter jou is, nie om jou nie. Gaan lees wat sê die ou skrywers in hul boeke daaroor.

    Dankie Lou, Kerneels en Lorindatjie.

  8. Dankie vir die raad, Ou Top. Ek maal in my kop daaroor.

  9. rubyt het gesê op Oktober 11, 2008

    Die Ou Top
    Jy is reg, as jy nog nie dit beleef het om in alle opsigte swaar te kry nie dan sien ek gaan daar nog baie wees om te leer.

  10. zephur het gesê op Oktober 13, 2008

    Ja pap en tik….

    Swaar se definisie is seker baie verskillend van watter kant van die tafel jy sit…of as jy ‘n tafel het.

    Die man in sy groot Merc wat bly in ‘n paleis, as jy hom vra dan gaan hy ook sê hy kry swaar…so ook daai man wat 3 dae laas iets geeet het.

  11. Ou-Top het gesê op Oktober 13, 2008

    Waar Zeppie, baie waar. Hulle het nogal tevrede en gelukkig gelyk. Nie soos ou Luke wat geld vat en dan nog op sy betalers se skoene kots nie.

  12. tronkie het gesê op Oktober 14, 2008

    Sulke stories maak my skaam – ek is te min dankbaar – ek laat sak my kop in skaamte, maar Ou Top, dis hartroerend geskryf.

  13. Dit klink soos nagmaal moet wees…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.