by

Ek is n slegte soort mens.

Oktober 6, 2008 in Sonder kategorie

Elke dag besef ek dit meer en meer. Dit wat ek moet doen, die doen ek nie. Dit wat ek nie moet doen nie, die doen ek graag.
 
Vanoggend weer. Ek lees my Bybel vroeg, voor die koerant. Die koerant word sesuur in die oggend afgelewer, die hond blaf ek ek gaan haal die koerant wat ek net so opgevou langs my bed laat lê tot ek klaar my Bybel gelees het. As ek die koerant eerste lees, is ek nie meer lus vir die Bybel nie, ek is ontstig en wil my vrou wakker maak en vertel wat het nou alweer in die land gebeur het. Dan vergeet ek van die Bybel en gaan sit die ketel aan vir koffie. Ek veg teen hierdie swakheid van my.

Net so met die jig, ek kan biltong en tamatie eet en niks oorkom nie. My vriende nie. Maar raak ek net aan droeëwors, het ek jig {gaut}, sommer binne minute. Ek weet dit, maar ek doen dit nog steeds af en toe. Ek verstaan dit nie, ek is mos al n ou en wyse man, wat is dit dan met my?

n Bruin gebraaide vet  skaapribbetjie is dodelik vir my gal en my cholestrol vlakke. Wat doen ek? Ek steek hom diep  in die vrieskas weg en as ek een Saterdag alleen by die huis is, bel ek ou George en hy bring krummelpap saam. Dan braai ons die ribbetjie en eet dat die vet om ons monde blink. Binne n uur is ons naar en duiselig, drink suurlemoensap en allerande boererate om by te kom voor die vrouens terugkom van die kwekery. Is dit stuitigheid of n verdoeselde poging tot selfvernietiging?

Ek praat soms te gou, ek weet ek moet n wagter voor my mond sit, maar ek doen dit nie. Dis wanneer my vrou sê ; ” Ag ou man, was dit nou wragtig nodig!”  Dit was nie, en ek weet dit, maar ek doen dit. En terwyl ek weet ek was verkeerd, probeer ek myself regverdig en verdedig.

Soos by Pic en Pay vandag, die Augustus wind waai stormsterkte en dis die westelike deur van Pic en Pay wat ons nader. Die een deur is effens toegestoot om minder van die westewind en stof in te laat. Maar dit veroorsaak n tonnel van erge wind reg by die deur.  n Pragtige bruingebrande blonde vrou van so vyf en twintig kom met n pakkie in haar hand uitgestap. Die  vasgekeerde westewind vang haar lenterokkie en vou dit byna oor haar kop. Sy het net een hand om mee te keer en sy kry dit nie mooi reg nie, ek is so naby ek kan sien sy dra n n blink dingetjie aan haar naeltjie. Ek weet ek moet nie so staar nie, maar uit vrees dat ek teen die glasdeur kan vasloop, maak ek my oë nie heeltemaal toe nie.

Ja, ek is n slegte mens wat gedurig teen my donkerkant moet stry.

10 antwoorde op Ek is n slegte soort mens.

  1. hacjones het gesê op Oktober 6, 2008

    Dit wat jy van vertel is lekker sondetjies! Geniet hulle!

  2. ezile het gesê op Oktober 6, 2008

    OuTop, jy’s maar net ‘n mens wat die lewe geniet. Ek sou geworry het as jy nie vir die magie gekyk het nie… want dan het jy nie meer geleef nie. Wys my die (ware) man wat nie sou kyk nie. Nou moet jy nog net dankie sê vir die gawe wind en ophou skuldig voel. Met ‘n glasie in die hand.

  3. Ceara het gesê op Oktober 6, 2008

    Ou Top ek stem saam met Ezile, dit sou eienaardig gewees het as jy nie gekyk het nie. En wat die ribbetjie betref, mens moet tog somtyds dinge doen wat die lewe die moeite werd maak, anders wat sou die punt van ‘n lang lewe wees? 🙂

  4. Ou-Top het gesê op Oktober 6, 2008

    Hallo julle drie naguile. Ek dink ek begin nou verstaan wat vriend George bedoel as hy altyd uitgelate vir my sê, ” Dit was nou donners lelik, maar weet jy hoe lekker was dit!”

  5. DroomKind het gesê op Oktober 6, 2008

    Lol. Ek stem saam met die ander naguile Ou Top. So lank jy nog nie by Ezile se “te” gaan draai nie is die saak nog reg.

  6. Ou-Top het gesê op Oktober 6, 2008

    Julle is so ordentlik en vergewend met my ek bieg sommer verder: besef julle dat ek weet nou daai mooi vrou hou van pienk goetertjies met swart frilletjies ? En dat sy n blou feetjie links onder haar naeltjie laat tatoeër het? Sien julle hoe oplettend was ek, selfs met half geslote oë?

  7. loudavisi het gesê op Oktober 7, 2008

    Ou Top, jys ook maar net mens!
    Geniet en dra die gevolge waardig.

  8. ou top , ek ken jou nie , maar as ek een wens sou kon hê , is dit om met jou , flenter , kamma , hj, kerneels , zeppie , ysprins , willie en ludwig , en en en en en hele paar anner manne om die vuur te kon sit… f+k , ….. en liz sal maar die dop moet aandra dink ek …… alles tussen water en dit sonder water …….en wie het dan nie ‘n donker kant nie ?? laat die eerste een wat ‘n klip gooi dan onder die son gaan lê …..

  9. tronkie het gesê op Oktober 7, 2008

    Ai Paulus ons het mos almal daai probleem – die goeie wat ek wil, die doen ek nie – jy het darem vrek goeie oë vir ‘n “ou” man soos jy sê – sien gou en vinnig en raak en in detail! Ook mos maar net mens. Lekker aand.

  10. Ek is die voorsitter van die donkerkant klub…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.