by

Salige aftrede of n ontwortelde boom.

Oktober 4, 2008 in Sonder kategorie

Gert het vier jaar gelede sy besigheid en huis hier in Bloemfontein verkoop om daar by die see te gaan aftree. Nou loop ek hom nou die dag hier op die Boeremark raak en hy sê hy is sak en pak terug. Het  sy huis by die see verkoop vir n aardige bedrag en hier teen die rivier naby ons stad vir hom n stukkie grond met n huis daarop gekoop. Hy boer nou, sê hy. So land ek toe n Saterdag daar op sy plasie om saam met hom rugby te kyk en n vleisie op die kole te gooi.

” Man”, sê hy oor n bier daar vir my, ” Dis lekker by die see maar dis vreemd. Jy maak goeie vriende daar, maar op n manier is jy eensaam. Ek meen, n ou se lewe is so goed ge-organiseerd en beplan. Jy is heeltemaal gereed vir doodgaan. Die huis is betaal, die begrafnispolis is betaal, die mediese fonds en jou beleggings is in plek en jy het geen bekommernis in jou lewe nie. Maar jy voel skuldig, want jy behoort baie tevrede en gelukkig te wees. Maar weet jy Ou Top, jy is nie. Jy eet, slaap, loop op die strand, loop rond van winkeltjie tot winkeltjie, speel bietjie rolbal of golf, maar jy bly voel jy mis iets in die lewe. Jy leef, maar jy voel nie of jy lewe nie”.

Hy bly n rukkie stil en ek sien hy soek na die regte woorde.

” Ek mis tot die koue Vrystaatse winters, een van die dinge wat ons destyds voor gevlug het. As jy vroeg opstaan en jy kyk oor die see of jy kyk na agter waar die berge lê, dan herken jy nie die “scenery” nie, man. Jy bly soek na doringbome, grasvelde, wolke op die westelike horison, selfs na n stofstorm of n kliprantjie. En die mense praat meer Engels daar as Afrikaans. Ja glo my, tot die Afrikaners en die Kleurlinge praat meer Engels as Afrikaans. En die geluide, alles is anders, man.”

“Kyk hier om jou, kyk my troppie mak tarentale, ek het vier boerbokke, twaalf dorpers, drie melkoeie, agt ganse, daar loop twee mak springbokkies, kyk die die twee poue en die kapokkies wat hier in die tuin skrop. Kyk hoe mollig is daai Shetland ponie wat ek vir die kleinkinders gekoop het.
 n Man kan nie eers biltong daar maak nie, alles muf. Hoor die kolganse, hulle vlieg nou oor na die lappie lusern hier agter. Kyk daai geelvink in die wilgerboom, dis skaars lente en hy bou al nes. Sien jy daai borrels op die water, dis die babers wat nou uit hul winterslaap ontwaak.”

” Dis die goed waarmee ek grootgeword het, dis die goed waarna ek verlang. Mense verstaan dit nie, ekself vertaan dit ook nie mooi nie. Ek kon dan soms nie wag dat Desember aanbreek sodat ons see toe kan gaan nie. Ek weet nie, maar so is dit. Hier wil ek bly. Ek hoort hier.”

Hy krap die kole plat, dis nie hout of donkiedrops nie, dis n stronke vuur, hy kry sakke vol van n mielieboer vriend van hom. Op die tafeltjie staan n rottangmandjie met n paar stukke biltong in. Die mannetjie pou staan nou op die grasperk en gee daardie hartverskeurende roep van hom, dan sprei hy sy kleurvolle stertvere uit. Ons staar die pragtige voël byna oopmond aan.

Op sy gesig kan ek sien ou Gert is terug waar hy moet wees.

17 antwoorde op Salige aftrede of n ontwortelde boom.

  1. ja , so pas ons maar orals net lekker in waar ons getoë is . mooi geskryf

  2. loudavisi het gesê op Oktober 5, 2008

    Ai, nou wonder ek of ek nog wil aftree…en wat nou van die huisie by die see?

  3. Die gras is maar altyd groener tot jy agterkom dit was nooit joune nie…

    Mooi geskryf

    L

  4. Ou-Top het gesê op Oktober 5, 2008

    Die jare bring wysheid, ou Gert het sy huis aan n vermoënde binnelander verkoop. Hy het die reg behou om vir die volgende 15 jaar elke jaar in Februarie vir 14 dae daar vakansie te hou. Hy sê dis genoeg, want op 80 jaar oud gaan die huis buitendien te klein wees vir al die dokters en verpleegsters wat sal moet saamgaan.

  5. Ou-Top het gesê op Oktober 5, 2008

    Ag Pruimtwak, ek het nou net jou kommentaar op daai mizdat outjie se blog gelees. Ek wou hom nog antwoord, maar jy het dit vir ons almal gedoen. Gaan lees dit mense, jy gaan heelwat beter voel oor jou Afrikanerskap.

  6. rubyt het gesê op Oktober 5, 2008

    Ou Top
    Dankie , ek verstaan die skrywe so goed. Is dit nie so voor die hand liggend dat ons mense identifiseer hiermee, en dis mos hoe dit moet wees. Waarin lê die eenheid van die volk, juis in dit. Om te weet waar jy hoort. (:

  7. antsussa het gesê op Oktober 5, 2008

    Elke mens het maar sy hartsplek, en elkeen s’n sit op ‘n ander plek.

  8. Ou top , ek lees netnou jou rake kommentaar op liz se blog , en in wese stem ek met jou saam , maar as ek een ding uit Afrika weg-wens is dit blêksemse pine-bome . daai denne verpes ek , alhoewel ek die waarde van dit verstaan en begryp …… maar die koejawel en kweper bome mag maar bly ……hehehe

  9. Ceara het gesê op Oktober 5, 2008

    En tog Ou Top, partykeer is ‘n plek “tuis” al is dit nie waar mens vandaan kom nie.. Interessant waar mens tuis voel en waarom…

  10. Ceara het gesê op Oktober 5, 2008

    LOL Ou Top! ek het nounet jou kommentaar op iemand se werf gelees rakende ‘n sekere stel griewe…. ek was nooit in die weermag nie, maar jou wrewel kan ek nogal goed verstaan onder die omstandighede! 🙂

  11. Ou-Top het gesê op Oktober 5, 2008

    Ek het op Susa se blog iets gesê oorlat ek soms op ander plekke ook die gevoel kry ek hoort daar. Klink nou vir my half spokerig.

  12. anskrige het gesê op Oktober 5, 2008

    Het ek die week pryse uitgedeel het ek jou twee keer eerste prys gegee.
    Hierdie is een van die heel beste blogs wat ek in die laaste 15 maande in blogland gelees het!
    Dankie.

  13. anskrige het gesê op Oktober 5, 2008

    Theo se eie antwoord, n.a.v. jou erkenning van sy foto’s op my blog:

    ****
    Liz het vir my gelees wat jy geskryf het. toe dink ek la’t ek sommer persoonlik dankie se……
    Dankie Outop vir die mooi woorde…..dit is ‘n lekker inspirasie vir my.

  14. Ja nee, jou plek is jou plek en daar voel jy tuis. Dankie vir jou blogs, lees dit gereeld en geniet dit baie.

  15. suletteb het gesê op Oktober 8, 2008

    Hallo Ou Top,
    Ek geniet jou blog meer as enige koerant of storieboek, of wat ookal!

  16. Ou-Top het gesê op Oktober 8, 2008

    My heerlikheid jou Noord Kapenaar, pasop vir daai Dyke van Holland, met aardverwarming wat so toeneem. Jy moet sien hoe het dit hier aan die Kaap gestorm.

  17. suletteb het gesê op Oktober 8, 2008

    Ek het die foto’s gesien op die ouens se blogs!
    Nou wil ek reeds net so skuins agter die dyk langs die see daar by Groede gaan woon. Dit is so snaaks as jy op die dyk loop: aan die een kant net hier onder jou die strand, doer onder aan die anderkant die boere se landerye meters onder seespieël.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.