n Seun van Engeland.
Oktober 30, 2008 in Sonder kategorie
n Seun van vyftien jaar oud was saam met ons op die visvangtrip. Hy is gebore in Engeland en praat n soort Engels wat ons sukkel om te verstaan. Hy is n vriend van my se seun, die ou het destyds as Suid Afrikaner daar in Engeland vir n paar jaar gewerk, getrou met n Engelse meisie, die seun gehad en toe die so vier jaar oud was, skei my vriend en kom terug Suid Afrika toe, sonder die seun.
Slim prokureurs daar in Engekand sorg toe dat die seun nooit na Suid Afrika kan reis nie en my vriend gaan kuier toe maar elke jaar vir n week of twee daar in Engeland om hom te sien. Tot hy twaalf jaar oud is, toe word dit toegelaat dat hy alleeen vlieg na Suid Afrika om vir sy Pa te kom kuier. Voor die trip vra die Pa ons moet maar assblief die naweek probeer Engels praat sodat die kind ons kan verstaan. Hy verstaan byna geen Afrikaans nie.
Ek praat heelwat met hom en kom agter dat hy baie gelees het oor Afrka. Ons is sewe mense in totaal en soms probeer die ouens hom bangpraat of skrikmaak oor slange, perdebye en ander sulke goed. Hy glimlag net oor hulle mannewales. Dan vang een n kleinerige karp en vra die seun of hy lus is om n groot baber te vang. Die seun sê ja, en heel aspris sny die ou met sy vismes die lewendige karp se kop af om aan die seun stok vir aas aan te sit. Ek weet almal wag in spanning dat die knaap nou gaan opgooi of protesteer of so iets; dis mos wreed en bloederig. Maar hy knip nie n oog nie, gooi nog self met sy stok die aas diep in die dam.
Hy wag vir n baber om die aas te vat en sit daar op sy stoel langs my met n verkyker en kyk na die verskillende watervoêls op die dam en ook die wat heen en weer oor ons vlieg. Hy vra my hul name en gewoontes, wat hulle eet en so aan. Soms hoor ek hoe probeer hy hulle geluide namaak. Ek begin hou van hierdie klein Engelsman. Kort, kort wil hy by sy Pa weet of die nie koffie, koeldrank, n bier of biltong wil hê nie, Dan staan hy met n glimlag op en gaan haal dit vir die Pa.
Teen ses uur die middag loop sy katrol en hy vang n pragtige baber van 15 kilogram. Terwyl hy die vis speel om dit moeg te maak, skinder sommiges op Afrikaans dat die klein Soutie hom asvaal gaan skrik as daai baber uit die water peul. Sy Pa is in die vlakwater met n skepnet, hy wil bitter graag hê sy seun moet die baber uitttrek. Dan is die vis daar, dis te groot vir die skepnet en die Pa sukkel.
” Dont loose is Dad!!” skreeu die seun en gee sy sy visstok vir my aan terwyl hy soos n luiperd teen die skuinste afduik om sy Pa te help. Hy gryp die vis met vier vingers reg in die baber se bek en sy duim in die holte onderaan; sy ander hand se vingers het hy in een kief gedruk. Met so vee beweging van agterr deur Pa met die skepnet en die seun wat vooraan trek, land die groot baber uiteindelik op droeê grond.
Die vis is rêrig groot; as die seun hom aan die kiewe met moeite optel is die baber se kop onder sy ken terwyl die stertpunt nog op die grond sleep. Almal daar se monde is stil. Hierdie outjie is nie n softie nie.
Op die seun se gesig en aan die uitdrukking in sy oê, kan ek sien sy Afrika jagtersinstink het nou ingeskop. Hy gaan kyk kort-kort na sy vis in die net.
Terwyl sy Pa sy hand met Iodine dokter daar waar die baber se raspertande hom nerfaf geskraap het, sê die seun, ” You know Dad, those Limeys are not going to belief me, they’r going to say I manipulated the fotos.”
Hulle kyk vir mekaar en hulle lag.
Onlangse kommentare