by

Paniekbevange.

September 20, 2008 in Sonder kategorie

My oudste suster was altyd maar n bietjie wild en avontuurliutig. Het ryk getrou met n ewe avontuurlustige man. Daar is wildsplase waarop Amerikaners kom jag, daar is invoer en uitvoer bedrywe en n huis of twee by die see. Weens ouderdom word daar nou afgeskaal en dis later net een huis by die see en net die een wildsplaas met die skaars wildsoorte daarop wat hulle mee besig is. Op haar oudag kruip hierdie eienaardige siekte  toe na vore: paniek of angs aanvalle. Dis waaraan sy nou ly en behandeling voor ontvang.

Ek weet nie eers van so siekte, maar sy sê haar dokter noem dit Angst- aanvalle. Klink so half Duits of Gestapo-agtig vir my en ek wonder of die arme Jode destyds die eerste lyers hiervan was.

Lui my selfoon gister so vieruur die middag, dis my suster, sy sit in n vliegtuig op pad na Jan Smuts en daar is verskriklik wind. Die vliegtuig ruk en val, almal in die vliegtuig sit al en braak in daail sakkies wat die lugwaardinne vir hulle uitdeel. Sy is heilig oortuig die vliegtuig gaan val en dat sy gaan sterf. Haar einde is hier. Ek probeer troos en raad gee, maar ek kry nie  kans om n woord in te kry nie.

Ons gesprek loop amper so:

” Dis verby, Ou Top. Ek weet, ek voel dit hier binne in my. En jy moet mooi luister vandag”, praat sy en ek hoor sy is verskriklik ernstig.

” Daai leunstoel van Pa, onthou jy hom nog? Die ou leerstoel waarop net hy gesit het?”.

” Ja man, ek onthou die stoel, en bedaar nou. Sluk n pil en bedaar. n Vliegtuig val nie sommer net van n wind of n “pocket” of twee nie. Bedaar, Sus”, kry ek n woordjie in.

“Ek het hom met n bont Nguni vel laat oortrek, hy staan in ons slaapkamer op die plaas. Gaan haal die stoel, vat na jou plek toe. Daar is $ 200,000 se note in die rugkant toegewerk. Kyk dat ons kind dit kry, maar vat eers vir jou genoeg. Is van die bokke se geld. Hoor jy my, hoor jy my?”. Sy is heeltemaal paniekbevange en haar stemmetjie is sommer so dun van die Angst.

Ek wou eers vir haar sê: my liewe sussie, al het jy dit in Alaska gefluister, sou ek dit nog steeds hier duidelik gehoor het. Dis mos n helse klomp geld. Maar ek sê toe maar ek sal sorg dat die dogter dit kry, as die vliegtuig sou val. Toe word ons afgesny.

Teen sesuur sê my vrou, ” Dink jy nie ons moet maar bel om te hoor of hulle veilig geland het nie”. Ek sê nee, ons kyk maar liewer die nuus.

Later, net toe ek soos n ryk man begin voel , toe bel Sus en sê hulle het veilig geland en dat sy sommer vir my gelieg het oor Pa se stoel.

Dat haar pille werk is verseker, vat net n bietjie lank. Maar ek wonder nog steeds oor daai Nguni vel oor Pa se stoel.

6 antwoorde op Paniekbevange.

  1. rubyt het gesê op September 20, 2008

    Ou Top
    skryf asseblief nog dit verdien om gelees te word. Ja daai stoel laat my ook wonder. gaan soek!

  2. Lekker lag ek nou oor die lieg van die stoel.
    Terwyl sy nou nie by die huis is nie, moet jy bietjie daar gaan kuier man! Vat vir jou een van daai los-torring goetertjies saam en krom naalde dat jy weer kan toewerk.
    Waar het jy nou weer gesê is hulle plaas?
    (For a short time only: sneak preview op my blog)

  3. Waar sê jy is die plaas?
    Ek is nou lus vir jag, meskien kan ek koffie kry en dit op die Nguni stoel drink…ek sal my vrou vra wat gebruik mens om gare mee los te trek.

  4. Ceara het gesê op September 20, 2008

    Ek hou van die manier waarop jy die stories vertel..baie goed.. Nee angst aanvalle is nogal oud, in victoriaanse engeland was dit mos die “vapours” of ” a turn” en moes die corset losgemaak word en vlugsout aangedra word en so aan… :-).

  5. Hierdie is een m%^$# lekker storie gewees. Moet net nie dat die taksman hom lees nie. Hulle konfiskeer dalk alles en begin Nguni koeie jag. Miskien moet jy met ons vertel waar bly Vlentergat. Hy klink ook asof hy ook op hardgestopte meubels sit deesdae…

  6. Dankie vir die lekker storie, ek het lekker gelag.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.