by

Slagoffers

September 13, 2008 in Sonder kategorie

Afgelope maand n paar slagoffers raakgeloop van ons land se huidige ekonomie. Die prys van kos, petrol, huislenings, kredietkaarte en baie ander dinge, het ons mense ingehaal.

Pietman sit onder n boom op die middelmannetjie van n straat in ons dorp, hy is twee en twintig jaar oud en studeer om n projekbestuurder in die boubedryf te word. n Taxi het voor hom ingeswaai terwyl hy op sy motorfiets gery het. Die fiets is opgeneuk en Pietman het wonder bo wonder net velle af en n seer knieg. Hy het sy ou Opel Kadet n paar maande gelede verkoop omdat hy nie meer die duurder petrol kon bekostig  nie. Die motorfietsie is ten minste baie ligter op petrol. Hy lag en gesels terwyl hy vir sy Ma wag, bly omdat hy leef. Ek ken vir hom, dis hoekom ek daar stil gehou het al was daar al ander mense by hom. Ken ook sy Ma; sy is n enkel ouer, man is jare gelede al weg en betaal geen onderhoud, sommer net verdwyn.

Die visserman kry ek op n stuk grondpad uit na die hoewe van n vriend  by wie ek gaan kuier. Daar is geen rivier of dam in daardie rigting nie, maar hier stap die middeljarige man met n visstok oor sy skouer, weg van die stad. Ek stop en hy klim in my bakkie. Hy wil nie die stok agter op die bak sit nie, hy klou daaraan, klem dit tussen sy bene vas met die langkant by die bakkie se venster uit. Hy is omtrent dieselfde oudrdom as ek, maar hy noem my”Oom”.

“Hel Oom, het vandag n luck gestrike!”, vertel hy opgewonde. Ook dat hy nou na twee jaar se werkloosheid n permanente werk as sweiser op n hoewe hier by n ou wat ystermeubels maak, gekry het. Hy woon ook daar.

“Sommer in n ou stroois , Oom. Ek het dit  self reggemaak. Kry elke week pay. Het n jaar gelede hierdie stok gepawn vir geld om kos te koop. Kry hom nou na n jaar by n ander pawnshop waar iemand hom weer gaan verkoop het. Het n secondhand parafienstofie daar gaan soek.”

Hy bly n oomblik stil en ek sien hy klou al stywer aan die visstok.

” My Pa het hom nog vir my gekoop, op my vyftiende verjaardag. Kyk hier onder, hier staan my naam nog uitgekrap.” Die man is so aangedaan sy stem wil breek.

En Saterdag oggend kry ek vir ou Blink Stefaans by die boeremark. Hy sê hy soek goedkoop vleis. Sy  aanvallige jong vroutjie, twintig jaar jonger as hy, trippel tussen die stalletjies rond. Hy moet haar hier by die koffieplek kry, waar daar n paar draadstoele is om op die sit. Die rumatiek vreet hom op, loop is n straf, sê die ou. Hy bly ook nie meer daar bo in die rykmanswoonbuurt nie. Moes drie jaar gelede verkoop en n kleiner, goedkoper huis in die laagtes koop. Het sy werk verloor en sy paket se geld loop vinnig uit.

Hy het twee jong kinders by die nuwe vrou, sy eie kinders is al lankal groot en getroud. Hy loer so skelm rond of sy naby is, toe fluister hy half vir my.

” Moes nooit nog kinders gemaak het nie, man. Dis duur en ongemaklik in die huis. Hansgat en ek mag nie slaan nie. Sy glo aan die nuwe manier van kinders grootmaak. My geld gaan dit nie maak nie, lewe is net te duur.”

Hy sug en staar na sy skoene.

” Party dae wonder ek of ek die regte ding gedoen het, Ou Top.” mymer hy.

Toe kom sy vrou en twee kinders aan, hande vol gekoop. As hy wegstap met sy mooi wulpse vrou, en hy raak so agter weens die rumatiekstappies wat hy neem, wonder ek ook of hy die regte ding destyds gedoen het, toe hy sy eerste vrou gelos het vir hierdie jong blaar. Daai tyd was heelwat van ons mans so effens jaloers op hom. Nou is hy sestig en sy is veertig, in hierdie donker tye.

Soos iemand gister sê :  Ons kinders is al groot en weg, niemand sien of spot met ons wanneeer daar toast en bake beans in ons huis ge-eet word tot die volgende geldjies weer verdien is nie. Oud en alleen kan n mens baie vat.

5 antwoorde op Slagoffers

  1. Die lewe is oral maar swaar.
    En waar staan dit nou geskrywe dat hemel op aarde is?
    Kla ek met die roomkoeke onder die arms!

  2. rubyt het gesê op September 13, 2008

    Waar lê die wysheid, sy haal ons in. Erken haar net as jy self daardeur gegaan het. Pyn is ‘n simptome van die oorsaak wat dieper lê. Dankie vir wat jy deel.

  3. Dit was lekker om te hoor die arme man het sy visstok weer terug gekry. Mooi storie.

  4. Viswyf het gesê op September 13, 2008

    Ai, ai. Dis so sad.Ek se altyd GEEN koekie is so waardevol dat mens alles wat jy in ‘n eerste huwelik gebou het opgee nie. Die novelty gaan gou verby.
    Baie mooi en waar stuk.
    Viswyf

  5. Vetjan het gesê op September 13, 2008

    Soms is jy bo en ander tyd onder…..

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.