by

Op n dwaalspoor.

September 9, 2008 in Sonder kategorie

Op n yskoue wintersnag word ek wakker van n geluid soos vlermuisvlerke wat in die donker klap. Bokant ons bed is die waaier dan nou aan. Dis een van daai met twee toutjies, een vir die lig en die ander vir die waaier. Die gloeilamp of n draadjie is besig om te gaan, want kort, kort gaan die lig vir so half sekonde aan. Soos n vuurtoring by die see.

In die kortstondige flits sien ek hier langs my lê my vrou poedelnakend op die naat van haar rug; hande agter die kop ingevou. Ek bly doodstil lê en verwonder my aan haar seksie lyf. Haar lyfie is nog glad soos porselein met borsies wat steeds parmantig regop staan soos klipkoppies in die veld. Ek wens myself sommer geluk met so n pragtige vrou. Ek is darem n man wat weet van vroumense; het destyds goed geweet watter vrou om te kies. Kyk, meeste van haar maatjies is al effens dik en kwaai geplooi. Nee, ek is n man met visie.

Maar dit lyk dan nou vir my asof sy effens sweet. Met toegeknypte oë, lippe effens oop, voer sy sulke rustelose bewegings met haar bene uit. Omdat ek nou half rammetjie uitnek beginne raak, verbeel ek my sy droom dalk van ons honeymoon destyds daar in Mosselbaai. Wat n gelukkige man is ek tog nie. Wonder of sy dan nie koudkry nie, ek bewe dan hier onder die verekombers. Ek sien dan sweet op haar bo-lip vorm.

Versigtig en liefderik strek ek my hande uit om oor een van daai pieke te streel. Fladder haar oë nou vinnig oop en draai sy haar gesig na my.

Genade tog, daar word ek uitgeskel as n gevoellose rampokker wat n vrou wat besig is om te sterf van intense gloede, sekueel aan te rand.

Skaam en opgekrul soos n krimpvarkie lê ek doer op die kant van ons bed by myself en dink.

Dwaalspoor, ou top. Heeltemaal op n dwaalspoor geraak, katoolse ou man.

7 antwoorde op Op n dwaalspoor.

  1. LOL! Wat arme mans nie moet deur nie…!

    L

  2. Nou het ek lekker gelag. Dankie. Geluk met jou 20/20 visie.

  3. He he!
    Ja en as daai hitte verby is, kom daar ‘n soort van ‘n bewerasie en ysige koue!
    Ugh!

  4. Ceara het gesê op September 10, 2008

    Jy het dit so mooi vertel. Sorry vir jou…en vir haar…

  5. Ha ha
    hoe kry ek nou lag.
    Dankie, nou is ek dam nie meer so alleen nie.

  6. Cosmos het gesê op September 11, 2008

    Hahaha….dit was vir my baie erg om my ma, wat baaaie gou koud kry, in die middel van die winter met somers nagklere of minder met oop vensters en ‘n waaier te sien slaap….Maar ek moenie lag nie, my beurt sal kom
    Lekker dag

  7. Nou’t ek darem lekker gesmaail vir hierdie een. 🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.