by

Jong mans in Afrika.

September 7, 2008 in Sonder kategorie

 Wat is dit hierdie week met karre in my lewe. Vrydagnag hier so halfdrie, word ek wakker van n helse slag hier buite. My honde blaf verwoed en ek storm uit om waar te neem. Teen die dik ysterpaal van die straatlig staan n klein motortjie met sy neus netjies  om die paal gevou. Binne sit n jong man uit sy neus en bloei.. Ek sien rook trek en help hom vinnig uit.

Hy sê aanhoudend:” Ek is oraait, ek is oraait”.  Hy het n knop soos n tennisbal aan sy voorkop, sy neus bloei en hy bewe erg. Nog n motortjie stop en twee poepdronk joutjies spring daar uit en help my om die jong man in my huis te kry.

Hy sit in n stoel en ons dokter hom. Vra hom of ons die polisie of n vriend kan bel. Hy sê, net die polisie en sy vrou. Hy gee haar nommer eers twee keer verkeerd, die derde slag kry ek haar. Hy sê vir haar hy is oraait sy moet nie worry nie. Sy moet net sy broer bel om te kom help. Sy moet solank sy ID boek en sy bestuurslisensie  in die hande kry.

Die twee dronk snare het ek gevra om buite te wag en die kar dop te hou. Ek gesels met die oulike jong man daar in my huis, wil weet of ek hom nie maar self hospitaal toe kan neem nie. Hy wil nie, sê hy het nie n  mediese fonds nie, hulle gaan hom Pelonomi toe stuur. Ons gesels terwyl hy aan n groot glas suikerwater suig. Hy is in die aande glo n klankingeneur vir orkeste en bedags het hy n ander werk. Hy doen dit vir ekstra geld, kom nie meer uit met wat hy kry nie. Sê ook hy het n vrou en n klein dogtertjie by sy meenthuis. Ek kan ruik die man het geen drank gebruik nie. Hy sê hy het aan die slaap geraak, was al amper by die huis. Was glo al die derde job hierdie week.

Hy vra dat ek sy selfoon in die kassie van sy kar gaan haal, hy wil sy broer self bel maar kan die die nommer mooi onthou, dis op sy selfoon. As ek buite kom is die twee dronk javels al weg, die selfoon ook. My buurman staan daar en sê hy sal die kar bewaak. Ek is terug by die jong man, hy klae oor pyn in sy voorarms en elmboë. Ek sê sy broer vat te lank, ek sal hom self huistoe neem en hier kom wag vir die polisie. By sy huuis  het ek skaars gestop of n mooi meisiekind met n dogtertjie in haar arms kom uitgestorm, almal huil, die jong man ook.

“Ek is oraait, Engel, Pappa is oraait”, hoor ek hom met sy dogtertjie praat.

My buurman wag nog by die motor as ek daar aankom. Ek vertel hom van die selfoon, hy sê hy ken die een dronk outjie se Pa. Bly glo net hier agter ons.

Die volgende oggend agtuur is ek daar, praat met die Pa, hy pluk sy seun uit die bed, sy seun bel op sy Pa se selfoon die ander javel. Binne tien minute is die selfoon daar. Ek vat die foon en loop, agter my hoor ek,” Julle donders moet begin werk, hierdie dronknes paartjies gaan nou einde kry. Wat sal jou Pa hiervan sê? Wil jy hê ek moet hom bel?”  Die mannetjie smeek sy alie af.

Ek laat weet die man se vrou ek het die foon, hy is nie daar nie sê sy,  is al weer by die werk.

Hoop tog so die jong man het versekering op sy motor, op n manier voel ek te skaam om hom te vra.

9 antwoorde op Jong mans in Afrika.

  1. Ceara het gesê op September 7, 2008

    Ek is so bly die man is ok.. en dat jy daar was om hom te help. Hy was gelukkig om jou te ontmoet.

  2. Gelukkig het hy voor jou huis verongeluk, anders kon hy dalk nou nog rondgedwaal het met daai knop teen sy kop. Jammer dat geld ‘n man so dryf om langer en harder te werk om vroutjie en kindjie te versorg…respek Ou Top, respek vir jou.

  3. Min mense, jonk en anders, het integriteit en is eerlik genoeg deesdae om nie ander mense se goed te steel nie. Dis n leefstyl van vat wat jy wil wanneer jy wil sodra jy kan…nie n lekker benadering in die lewe nie…die wiel sal draai dink ek…Dis goed jy kon hom uithelp!

    L

  4. Piccolo het gesê op September 7, 2008

    Respek vir jou hulp. Ken die dryf van werk om te sorg. Goed om te hoor hy het tuis gekom sonder ernstige beserings. Groetnis.

  5. Gelukkig vir hom moes hy die paal naaste aan jou straf, dit is wonderlik dat daar nog sulke behulpsame mense soos jy in die omtrek is. Dit was ‘n mooi ding om te doen. Ek is bly jy het die ander latte gaan opsoek het vir daai selfoon, enige iemand anders sou dit daar gelos het.
    Siestog hoop hy het darem assuransie op daai kar. Hoekom gebeur die goed altyd met mense wat regtig hard probeer om ‘n beter lewe te skep vir hulself en hul geliefdes?

  6. Ag siestog, ou Top, as shame man. Ek haal my hoed af vir die jong mans van vandag wat doen wat hulle kan om te oorleef in ons land.
    Hierdie man is in die verkeerde dekade gebore, God sëen hom….

  7. Dit is ‘n riem onder die hart om te hoor daar is nog mense wat soveel sal doen om vreemdes te help. Baie dankie dat jy daardie seun gehelp het. Jy het my gehelp om netnou met ‘n beter hart te gaan slaap.

  8. zephur het gesê op September 8, 2008

    Dis jammer dat mense so moet sukkel en sy vrou en kind sukkel saam, goeie samaritaan ou top. Daar was ‘n doel deur dat hy jou paal moes uitkies om teen vas te ry.

  9. Jy het my geroer, erg.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.