by

n Vingerwysing.

September 2, 2008 in Sonder kategorie

Ek is stil want ek dink en ek wonder oor hierdie ding wat my verlede week oorgekom het.

Met my ouerige karretjie ry ek in die middelste baan van n besige driebaan straat. Moet seker te stadig gery het of iets, want n duur motor met getinte vensters wil dan die kant verby en dan daai kant verby en aanmekaar druk hy toeter vir my. Die ander karre gee hom nie n kans om verby te kom nie en ek kan ook nie links of regs nie weens die druk verkeer. Hy kom rakelings by n motor verby en ry langsaan my. Sy venster sak en hy skreeu iets op my en eindig toe sy gesprek met n regop middelvinger wat hy vir my wys. Ek dag ek is redeklik veilig tussen so baie mense en gooi toe ook maar n zap sign in sy algemene rigting. Genade, toe word hy heeltemaal beserk.

Hy wring verby en trek reg voor my in terwyl hy aanmekaar toeter druk en  woes vir my beduie . Daar slaan die robot toe rooi. Ja, dis nie my dag vandag nie. Ek besef onmiddellik ek is nou kniediep in die moeilikheid.  Die  man spring uit sy motor en ek sien aan sy bultende bobene en arms, dat hy  nou net uit die gym moes  gekom het. Hy lyk baie groter as  The Beast wat vir die Springbokke speel. Ek besluit dat die veiligste gaan wees om uit die kar te kom en te hardloop. As hy my daar in die kar vaskeer, is ek verseker dood.

Ek los my deur oop om sy spoed te breek en merk op dat al die ander mense in hul karre maak asof hulle glad nie sien hoe hierdie ou wit man nou op sy bliksem gaan kry nie. Ek maak vir my kar se boot, want ek wil die wheelspanner in die hande kry om myself mee te verdedig. Het so groot geskrik dat ek skoon vergeet het van my ou knieg. Die man sal my maklik vang. Ek kry die boot net halfpad oop, toe het hy my.

Hy stamp my net so met die oop hand teen my skouer, toe trek ek tot teenaan die Jetta langsaan waar n wit vrou histeries  skreeu dat ek moet “fokof”.

Die hele tyd skreeu die man op my hoe dom en oud ek is en dat ek nie meer op die pad hoort nie. Nogal in engels, weet jy. Hy sê ander dinge ook, dinge wat dalk by die Menseregtekomissie kan kwalifiseer as onwettige haatspraak. Hy pluk my regop asof ek geen gewig het nie. Ek begin wonder oor my testament en my begrafnispolis. Toe sien ek n man uit sy motor spring se twee karre agter my. Hy het n blou oorpak aan en al is dit n size XXXL, kom die moue net tot by sy elmboë. Sy hare en sy baard is alles aaneen, een woeste boskasie. Sy liggaam is verskriklik groot en effens geboë, so asof hy gedurig moet buk om by duere in te gaan. Hy lyk nes n reusagtige blou Ninja Turtle. Agter hom is n jong outjie van so twintig, rietskraal met n denimbroek en net n rooi T- shirt aan in hierdie koue.

Die Ninja monster skreeu iets op my aanvaller, dit klink soos donderweer. My aanvaller draai om en ek sien op sy gesig hy besef onmiddellik hy kan hier dalk self nou n besering of twee opdoen. Hy probeer padgee, maar die Monstermens het hom aan sy gewrig beet met hand so groot soos n skaapboud.

” Jy wil n ou man moer? Moer hom nou laat ek sien!” bulder hy.

” Ja, slaan die ou top. Jy wil mos. Moer hom nou, lat Krisjan jou kan sien”, hits die geitjie seun vir Ninja monster aan terwyl hy sy dun vingertjie  amper in die verskrikte man se neusgat opdruk.

” Krisjan, dankie man, maar los die ou dat hy padgee, ons gaan net almal in die moeilikheid beland”, probeer ek die Ninja monster kalmeer. My aanvaller probeer op hierdie stadium half agter my wegkruip. Hy gebruik my as n skild.

Die geitjie seun trap vas en skop my aanvaller n helse se hou  op die maermerrie met sy stokou army boots.  Ek hoor hoe my aanvaller skree van die pyn.

” Ja, moenie nou n slapgat wees nie, jou bliksem. Moer die oom nou. Jy wil mos slaan!”, skreeu Geitjie nou skoon histeries van sy lus vir bloed.

” Tata”, sê ek vir my aanvaller wat nou die houding aangeneem het van n jong hondjie wat wil gaan lê en piepie voor die groot reunhond,” vat jou kar en kry koers. Kan jy nie sien Krisjan is besig om kwaad te word nie. Op daardie oomblik het Krisjan die aanvaller se gewrig gelos en het hy sy twee enorme hande so voor hom oopgesprei om sulke krampagtige klem bewegings uit te voer asof hy oefen oor hoe hy my aanvalleer aan die keel gaan gryp en verwurg tot hy dood is.

“Los hom nou vir my Geitjie”, kom dit uit sy mond, maar dis te laat, my aanvaller is sommer bo-oor my kar binne in sy kar en soos n Ferrari uit die kuipe, spring hy daar met skreeuende bande weg.

Ek skud hande met my reddingspan en merk dat heelwat mense nou nadergekom het om die moontlike fight te beskou. Netnou het hulle dan gemaak asof hulle glad nie sien ek word aangeval nie.
Ek bedank nog vir Krisjan en wil weet by watter garage hy werk, toe druk sommige mense al weer toeter vir ons.

Ek groet maar vinnig en spring in my ou karretjie, ek wil nie vandag nog n slag gebliksem word nie.

14 antwoorde op n Vingerwysing.

  1. Ou-Top het gesê op September 2, 2008

    Dankie aan al daai mense wat op die “blank” gereageer het, Jammer man, ek bewe nog effens. dan druk ek die verkeerde knoppe.

  2. sprokie het gesê op September 2, 2008

    Haha, dank vader vir sulke ruwe diamante. Jammer om te hoor dat jy so onmenslik behandel is, ek raak skoon boos as ek dink aan daai ou tang!

    Hoop jy voel nou beter?

  3. “Die Ninja monster skreeu iets op my aanvaller, dit klink soos donderweer. My aanvaller draai om en ek sien op sy gesig hy besef onmiddellik hy kan hier dalk self nou n besering of twee opdoen. Hy probeer padgee, maar die Monstermens het hom aan sy gewrig beet met hand so groot soos n skaapboud.”

    hahahaah, het ek lekker gelag vir DIE storie..dankie

  4. Ceara het gesê op September 2, 2008

    Ek is bly jy het nie seer gekry nie. Wat ‘n skrikwekkende ondervinding.

  5. xamxam het gesê op September 3, 2008

    Ek moenie jou Blog by die werk lees nie, ek is nou in tane van al die lag.
    Bly als het darem oraait uitgewerk, en dankie vir die lag.

  6. Ek is bly jy is veilig. Die fokker (askuus dat ek op jou blog kom swets.) Ek wens ek kon die Krisjan opspoor sodat ek hom oopmond kan soen.
    Ons lag maar vir onsself maar ek is jammer dat jy meer versigtig moet ry in die volgende paar maande, en ek is jammer dat jy nou bedreigings gaan raaksien in die karre langs jou en ek is jammer dat jy ook ‘n victim was van diskriminasie en ek is jammer, ek is jammer, ek is jammer….
    En sommer weer om af te sluit: Die [email protected][email protected]!!!!

  7. Ou-Top het gesê op September 4, 2008

    Ek moet darem sê ek het darem een houtjie ingekry; daar waar hy in my karretjie se deur vasgehardloop het met die stormslag, het sy Rayban afgeval, toe alles verby is en ek wou ry, toe trap ek per ongeluk daarop.

  8. ezile het gesê op September 5, 2008

    Oeps vir die Rayban – is jy seker dit was ‘n ongeluk, OuTop? Ek is so verlig om te hoor jy is darem nog heel. As ek daar was sou ek hom darem self ‘n paar karatemoves wou wys. So ‘n blikslater. Ek hoop hy’t sy les geleer. Dis baie erg, maar jy vertel dit so mooi.

  9. 🙂

  10. Viswyf het gesê op September 6, 2008

    Flippen windgat, opgepofte, adrenalienaangedrewe, klein-peester monster. Glo my, as ek daar was, sou ek baie braaf my 6″ Heels in sy knaters kom indruk het.
    Viswyf

  11. Ou-Top het gesê op September 6, 2008

    Heerlikheid viswyfie jy is so aggresief en seksie, ek kry amper n hormoonversteuring, nou skoon vergeet van die fight.

  12. rubyt het gesê op September 6, 2008

    Ek is bly jy het daaruit gekom. Vetweet eks nou so opgewerk! Die verwaandheid! Hoop jy is nog ok man, so lafenissie het jy seker vir jou gegooi! Sterkte daar en puik skrywe!

  13. Ou top (het ek al vir jou gese dis my Pa se naam op my selfoon? Noem hom nog altyd so.)

    Die brande hier by ons was iets ysliks. Toe ek vandag van Witrivier af terugry huis toe (ek het nie bestuur nie – kan nie sien in die aand nie) was daar alweer ‘n hewige een aan die gang. Ons id BAIE hard vir reen.

    (Ek kom ook baie min by die blogs uit, moes selfs noudiedag vir Kerneels vra om iets vir my te plaas, ek kon nie.)

    Dit gaan baie goed met my, verlief en so aan. Verlief is my beste gemoedstoestand…

  14. Interressant geskryf. Mense het vreeslike maniere en te veel woede deesdae. Ek is bly iemand was braaf genoeg om jou te kom help, te min mense doen dit deesdae. Wys jou aan die einde wat n pieperige mens dit was, net sy groot kar en groot lyf gee hom bravade tot hy sien dis ook nie meer goed genoeg…Nou nie weer vinger wys nie nê? Netnou is niemand daar om jou te hulp te snel en dan mis ons hier op die blogs uit…

    L

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.