Ek is stil want ek dink en ek wonder oor hierdie ding wat my verlede week oorgekom het.
Met my ouerige karretjie ry ek in die middelste baan van n besige driebaan straat. Moet seker te stadig gery het of iets, want n duur motor met getinte vensters wil dan die kant verby en dan daai kant verby en aanmekaar druk hy toeter vir my. Die ander karre gee hom nie n kans om verby te kom nie en ek kan ook nie links of regs nie weens die druk verkeer. Hy kom rakelings by n motor verby en ry langsaan my. Sy venster sak en hy skreeu iets op my en eindig toe sy gesprek met n regop middelvinger wat hy vir my wys. Ek dag ek is redeklik veilig tussen so baie mense en gooi toe ook maar n zap sign in sy algemene rigting. Genade, toe word hy heeltemaal beserk.
Hy wring verby en trek reg voor my in terwyl hy aanmekaar toeter druk en woes vir my beduie . Daar slaan die robot toe rooi. Ja, dis nie my dag vandag nie. Ek besef onmiddellik ek is nou kniediep in die moeilikheid. Die man spring uit sy motor en ek sien aan sy bultende bobene en arms, dat hy nou net uit die gym moes gekom het. Hy lyk baie groter as The Beast wat vir die Springbokke speel. Ek besluit dat die veiligste gaan wees om uit die kar te kom en te hardloop. As hy my daar in die kar vaskeer, is ek verseker dood.
Ek los my deur oop om sy spoed te breek en merk op dat al die ander mense in hul karre maak asof hulle glad nie sien hoe hierdie ou wit man nou op sy bliksem gaan kry nie. Ek maak vir my kar se boot, want ek wil die wheelspanner in die hande kry om myself mee te verdedig. Het so groot geskrik dat ek skoon vergeet het van my ou knieg. Die man sal my maklik vang. Ek kry die boot net halfpad oop, toe het hy my.
Hy stamp my net so met die oop hand teen my skouer, toe trek ek tot teenaan die Jetta langsaan waar n wit vrou histeries skreeu dat ek moet “fokof”.
Die hele tyd skreeu die man op my hoe dom en oud ek is en dat ek nie meer op die pad hoort nie. Nogal in engels, weet jy. Hy sê ander dinge ook, dinge wat dalk by die Menseregtekomissie kan kwalifiseer as onwettige haatspraak. Hy pluk my regop asof ek geen gewig het nie. Ek begin wonder oor my testament en my begrafnispolis. Toe sien ek n man uit sy motor spring se twee karre agter my. Hy het n blou oorpak aan en al is dit n size XXXL, kom die moue net tot by sy elmboë. Sy hare en sy baard is alles aaneen, een woeste boskasie. Sy liggaam is verskriklik groot en effens geboë, so asof hy gedurig moet buk om by duere in te gaan. Hy lyk nes n reusagtige blou Ninja Turtle. Agter hom is n jong outjie van so twintig, rietskraal met n denimbroek en net n rooi T- shirt aan in hierdie koue.
Die Ninja monster skreeu iets op my aanvaller, dit klink soos donderweer. My aanvaller draai om en ek sien op sy gesig hy besef onmiddellik hy kan hier dalk self nou n besering of twee opdoen. Hy probeer padgee, maar die Monstermens het hom aan sy gewrig beet met hand so groot soos n skaapboud.
” Jy wil n ou man moer? Moer hom nou laat ek sien!” bulder hy.
” Ja, slaan die ou top. Jy wil mos. Moer hom nou, lat Krisjan jou kan sien”, hits die geitjie seun vir Ninja monster aan terwyl hy sy dun vingertjie amper in die verskrikte man se neusgat opdruk.
” Krisjan, dankie man, maar los die ou dat hy padgee, ons gaan net almal in die moeilikheid beland”, probeer ek die Ninja monster kalmeer. My aanvaller probeer op hierdie stadium half agter my wegkruip. Hy gebruik my as n skild.
Die geitjie seun trap vas en skop my aanvaller n helse se hou op die maermerrie met sy stokou army boots. Ek hoor hoe my aanvaller skree van die pyn.
” Ja, moenie nou n slapgat wees nie, jou bliksem. Moer die oom nou. Jy wil mos slaan!”, skreeu Geitjie nou skoon histeries van sy lus vir bloed.
” Tata”, sê ek vir my aanvaller wat nou die houding aangeneem het van n jong hondjie wat wil gaan lê en piepie voor die groot reunhond,” vat jou kar en kry koers. Kan jy nie sien Krisjan is besig om kwaad te word nie. Op daardie oomblik het Krisjan die aanvaller se gewrig gelos en het hy sy twee enorme hande so voor hom oopgesprei om sulke krampagtige klem bewegings uit te voer asof hy oefen oor hoe hy my aanvalleer aan die keel gaan gryp en verwurg tot hy dood is.
“Los hom nou vir my Geitjie”, kom dit uit sy mond, maar dis te laat, my aanvaller is sommer bo-oor my kar binne in sy kar en soos n Ferrari uit die kuipe, spring hy daar met skreeuende bande weg.
Ek skud hande met my reddingspan en merk dat heelwat mense nou nadergekom het om die moontlike fight te beskou. Netnou het hulle dan gemaak asof hulle glad nie sien ek word aangeval nie.
Ek bedank nog vir Krisjan en wil weet by watter garage hy werk, toe druk sommige mense al weer toeter vir ons.
Ek groet maar vinnig en spring in my ou karretjie, ek wil nie vandag nog n slag gebliksem word nie.
Onlangse kommentare