by

Blouwildebeessindroom

Augustus 24, 2008 in Sonder kategorie

n Man skryf die naweek n brief in ons koerant daar uit Nieu Zeeland, Hy spog oor hulle hy daar nou so veilig leef, deure en vensters wawyd  oop, kar se sleutels bly oornag sommer in die kar, mense respekteer mekaar en alles loop sommer net reg: veilig, beskermd, ordentlik, perfek. Hy is kwaad vir Suid Afrika omdat dit hier nie so kan wees. Hy is ook dankbaar hy het die land verlaat het en dat hy en sy gesin nou so lekker bly. Hier by ons was hy altyd bang, bevrees, angstig en op sy senuwees. Hulle is uiteindelik veilig daar in hul paradys.

Nou praat ek netnou met my seun oor Skype daar in Perth, hy is vyf jaar daar. Hy het van kleinsaf die manier as hy oor iets sensitiefs wil praat, hy n derde persoon gebruik. Soos;” Pa, n ander ou van Suid Afrika wat hier saam met my werk, sê gister vir my dat sy lewe nou so perfek en gelukkig is. Hy het n nuwe kar, n nuwe huis, n nuwe girl, n goeie werk en vir die eerste keer in sy lewe het hy geld in die bank. Sy ouers is ook hier en hulle almal is vir niks meer bang nie. Al die bangmaak goeters het in Suid Afrika agtergebly”.

” Maar dan is die lewe moes goed, my seun’, antwoord ek.

Hy huiwer n oomblik en sê dan,” Die ou sê ook, hy kan dit nie vat dat die Australiërs so bang is nie”.

” Nou vir wat is hulle bang?”, wil ek nuuskierig weet.

” Vir alles Pa, hulle is bang vir die see Pa.Hier is byna geen golwe nie, as ons uitgaan met die boot en die deining daar binne word net n halwe meter hoog, beskeit hulle hulself en dwing ons om om te draai! As n vis se vin hom sny of steek moet ons jaag vir die hospitaal dat hy behandeling word. As jy in die see swem en skreeu daar is n haai dan seil hulle soos robbe op die sand uit. Dan is dit n verpoepte haaitjie van n halwe meter lank”.

” Wat sê die ou nog”, wil ek weet.

”  Hy sê hulle is bang vir n fight in die kroeg, as hulle fight dan stamp hulle mekaar so met die bors of met die hande, soos twee hoenders wat baklei. Hulle is bang vir kieme en siektes, vir motte en goggas wat kan byt en moet nie eers praat van n slang nie, dan pass hulle sommer uit. Hulle is bang vir n ongeluk, vir spietkops, vir doodgaan. Hulle is bang vir enige stront, Pa.”

” Pa moet sien as n ou se girl hom hier los, hy tjank sommer dae aaneen. Almal wil net mooi lyk, mooi doen en die lewe moet net perfek vir hom loop. En almal drink vitamien pille en sulke goed en al die kinders is verslaaf aan die internet”.

” My wêreld, ou seun”.

” En hy sê hulle spot jou as jy kerk toe gaan, jongmense gaan  nie kerk toe nie, net die oumense gaan, want hulle raak bang vir die dood”.

” Hoe gaan dit daar, Pa?”

” Ag my seun, dit gaan nog maar woes, daar is nie tyd om bang te wees nie, paraat en wakker ja. Jy moet maar rondkyk en skerp kyk soos n perd kyk”.

Hy lag.

Ek vertel hom van Buchan wat Loftus volgemaak het met mense wat nader aan God wil leef. Hy is verstom.

Ek sê ook,” Ja, hier word nog 56 mense n dag in Suid Afrika vermoor en daar is nog elke drie minute n vrou wat verkrag word. Dis rof, maar gelukkig ly ons nou almal aan Blouwildebeesssindroom, dit trek ons deur”.
 
“Wat is dit, Pa?”, hy klink skoon bekommerd.

” Nee, ons is nou soos n groot trop Blouwildebeeste. Die leeus kom en vang elke dag n paar van ons om op te vreet.  As hulle ons jaag dan hol ons dat die stof so staan, as hulle klaar gevang is en beginne vreet, bedaar ons almal. Soms loop ons dan sommer so tien meter verby die grommende, vretende leeus, want ons weet hulle is nou klaar tot more. Soms kyk ons wie het hulle gevang en dan sê ons, ag wat dis ou Kruppel Sarel, sy tyd was al verby, of dis ou vet Sannie, sy kon nog nooit een kalfie teel. Of, ag dis klein Pietie van ant Siena, sy het al twaalf kalwers grootgemaak, een uit twaalf is darem nie te erg nie.”

” Jirre Pa, wil julle nie maar oorkom hiernatoe nie ?”

” Om te wat, my seun, om te wat?”

” Maak julle maar die geld, dan kom koop julle vir ons n wildsplaas hier, dan skaf ons  n paar leeus en n trop blouwildebeeste aan”.

13 antwoorde op Blouwildebeessindroom

  1. Ozzies klomp papbroeke, hehehe. G’n wonner hulle lyk altyd so netjies as hulle sport beoefen ook nie. Verbeel die anargie as bloublasies toeslaan. Armageddon!
    ?çççççççççççççççŠ Shongo sal mar net hier in die paradys bly.

  2. Ja die gras is mos altyd groener ander kant die draad omdat daar meer mis is. Lekker gelees. Geniet julle dag soos ons ook tussen die leeus – ons weet mos hoe.

  3. oester het gesê op Augustus 24, 2008

    oz is n agterlike, lee land met die lelikste vrouens op aarde. dit is inderdaad n bang, vervelige land waar kinders nie sonder skoene mag rondloop nie (laat staan nog sonder hoed)”because they might step on an needle” watse needle? vra ek want nie eens n den wil daar groei nie. “no, drug needles”
    “o, ok. maar julle kinders gaan skoenvoete he eendag as hulle groot is.” hulle kyk my aan asof ek mal is.

    ek moet nou vir n bleddie maand soontoe en ek weet sommer: elke sekonde daar sal frustrerend wees. want dit is n moer vervelige plek.

    ek verstaan eenvoudig nie hoe n suid afrikaner ooit daar kan bly nie. hul lewenswyse druis in teen hierdie avontuurlustige gees wat so eie aan ons is. kry jou klong om terug te kom, hier is baie werk om te doen.

    terloops, uit my trop word daar nie gevang nie. die bloue hel haal die leeu wat hier kom probeer jagter speel.

  4. Weereens ‘n lekker storie! En jou seun hoort hier,die probleem is die meeste het gewoonlik nie geld om terug te kom nie, so hulle moet maar sleg praat van SA vir hulle eie behoud.

  5. Stunning vertelling

  6. Ou-Top het gesê op Augustus 24, 2008

    Wat geld betref doen hulle donders goed daar, huis 4 jaar terug gekoop en kan nou verkoop teen groot wins. Maklik om huis daar te koop, rente laag. Huis is nou $ 750,000 werd, dis R4 miljoen. Ek smokkel met sy kop, want dis net genoed vir n wildsplaas hier op die walle van die Oranjerivier.

  7. oester het gesê op Augustus 24, 2008

    Ek sit in n restaurant (kapsali rest)by South Bank en bekyk hoe ses fris manne met n klein diggerloader n gat probeer maak. Een man operate die diggertjie, en twee help so af en toe om grond uit te krap. die res staan en gee raad. hulle is gehandskoen en geboot gehoed en geprotect, mens sou sweer hulle gaan nou n tonnel grawe dwarsdeur tot by amerika.

    Ek was seker vir so vier ure daar (want jy loop die trappe af en spring in die water). Huistoegaantyd toes die manne so 4 vt diep met die gat(+- 2m in deursnee). Ek moes terugdink aan die besware teen munisipale werkers en ons mense wat gedurig so kla.

    herre, dit het groot selfbeheersing geverg om nie n donnerse graaf by een van die manne te vat en hulle tog te wys waarvoor die ding gemaak is nie.

    Suid afrikaners maak goeie geld daar want ozzies is maar n bang en lui klomp donners.

    hul grootste misdaad teen die mensdom is terloops hul beleid om mense aan te moedig om aan te teel: one for mom, one for dad & one for the state.

  8. Ou-Top het gesê op Augustus 24, 2008

    Kammakazi, n meisie met die naam Lienke het iewers iets hier op n blog gesê, en as ek dit mag uitbrei Lienke: jy as mens van Afrika, as jy eendag gaan sal jy daar in jou nuwe land nooit meer dieselfde mens kan wees as wat jy eers hier was nie. Daardie mens is dan vir ewig weg. Daarom verlang hulle so, want hulle voel hoe die oorspronklike Afrika mens in homself stadig maar seker sterf en dan met die ryd, heeltemaal verdwyn.

  9. Ou-Top het gesê op Augustus 24, 2008

    Gou gaan opkyk, ja dis Lienke op Izak de Vries se blog. laat mens dink.

  10. lienke het gesê op Augustus 25, 2008

    Haai – het jou kommentaar op my kommentaar toe raakgelees. Jy’s reg oor die Afrika-mens wat mens hier is en nerens anders kan wees nie. Ook oor die spesifieke mens wat jy is wanneer jy by ‘n spesifieke persoon is. Soos ‘n pa/ma en kind, ja. Dus is ‘n verlies dikwels ‘n dubbele verlies – ‘n stukkie van jouself wat vir ewig weg is.
    Iets anders wat hierby aansluit: Ek het eendag ‘n lyntjie in iemand se gedig raakgelees wat ek nooit sal vergeet nie – hy het gepraat van die verhouding tussen hom en sy pa en hoe hy eendag op ‘n tennisbaan gekroek het (die seun). Waarmee hy toe nie kon saamleef nie, skryf hy in die gedig, is hoe dit die beeld van homself wat hy altyd in sy pa se oe” sien terugweerkaats het, verander het en dat dit vir hom meer traumaties as die voorval self was…

  11. sprokie het gesê op Augustus 31, 2008

    Komende van ‘n bangjan: Wat jy se is baie waar, in die eerste wereld kan hul tekere gaan oor die stupidste goed….

    O, en baie dankie, nou besef ek waar my grens flatir vandaan kom: Dit kom van al die ure wat ek as kind moes bid vir die dapper soldate op die grens 🙂

  12. ezile het gesê op Augustus 31, 2008

    Sjoe dit was nou ‘n interessante siening en skrywe. Mensig OuTop, jy het darem ‘n slim kop en skrywershand.

Los ’n antwoord vir TheAfricanNewsferret. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.