by

Wie se land is hierdie dan?

Augustus 18, 2008 in Sonder kategorie

Jare gelede word ek genooi om in die Kalahari van Botswana te gaan jag. Ons is agt  mans en ons permitte is vir blok C, kroongrond wat aan die staat behoort. Jou petrol, kos en water ry jy saam want daar binne is niks, nie eers paaie nie. Net sand, gras en bome. Aarde so plat soos n tafel, so vêr as die oog kan sien.

Vroegoggend is ons op die Ford F250, dis my beurt om te skiet en ek vrek van die koue agterop. Elke middag drie uur as ons draai, stop ons eers om water te drink en n lemoen of twee te eet. Dan vra ou Jeff speels vir ons; “Wys met die vinger waar is ons kamp”. Ek wys elke keer soos al die ander, heeltemaal verkeerd. Hier sal ek vinnig vrek.

Ek gewaar iets bruins langs n valerige bos. Bekyk dit deur die teleskoop en skreeu” Miershoop!”.
Jeff ry nader, hy glo my nie, skielik roer die bruin hopie en n mens spring onder n gebreide bokvel uit. Dis n Boesman, klein en vreeslik geplooi. Hy glimlag van oor tot oor en hou sy hand omhoog. Ek verkyk my aan hom, sy pyl en bogie, twee volstruiseiers met water en n drasakkie van steenbokvel; dis al. Wat van die leeus wat gisteraand naby ons slaapplek gebrul het, wat van hiënas, luiperds en ander ongediertes? Iemand praat met hom en hy laai sy aardse besittings agterop die bak, hy word  deel van ons groep, as gids.

Ek bekyk hom die aand om die vuur, hy eet  heelwat meer as wat n mens verwag sy maag kan vat.  Meestal vet gebraaide vleis. Hy is mal oor vet. Het ons deur die dag gelei na n trop gemsbokke en later na n droeë pan met honderde blouwildebeeste wat daar rus. Hy lag en beduie met sy hande as hy praat. Daar is net een in ons groep wat sy snaakse taal kan verstaan. Ek kan vandag nie eers die man se naam onthou, want dit het met so n vreemde klapgeluid begin. Ons het hom sommer” Shorty” gedoop.

Die sesde dag as ons wakker word is hy net weg. Die Kalahari het hom  ingesluk. Honderde kilometer aan alle kante van ons is daar dan niks; waar sal hy  gaan, wat gaan maak hy daar? Jeff sê hulle maak maar so. Word gou moeg vir ons soort van lewe en verlang na sy vryheid en die stilte van die veld. Dis waar hy wil wees, hierdie oudste kind van Afrika. Ek kry hom verskriklik jammer, ek voel oortuig hy gaan sterf. Ek wou hom nog my flitslig, n knipmes en n waterbottel gee.

Nou lees ek vandag in die koerant navorsers by n grot daar tussen Danielskuil en Kuruman vind uit dat daar mense gewoon het tot 2 miljoen jaar gelede. Met vrouens en kinders. Boesmans, hulle tekeninge nog ongeskonde teen die rotswand.

So lees ek ook van grotte in die Soutpansberg naby die Limpopo rivier, in Nelspruit se berge, in die  Vrystaat, in die Drakensberge, in Mosselbaai, in Ceres naby Kaapstad, oral het die mensies hulle lewe teen n rots uitgeteken, Hulle het daar gewoon en geleef soos ek en jy.

Nou praat almal van die Koi San. Waar is hulle, wie is hulle nou? Al die bruin mense in die land ? Is hulle afstammelinge van hierdie mense? Behalwe natuurlik die Maleiers van die Kaap, hulle het maar nou die dag saam met ons kolonialiste hier geland, die Indiers ook.

Wat sê Tokyo Sekwale nou die dag,” Moenie vra wat het ons die afgelope 14 jaar reggekry nie, kom ons gaan 300 honderd jaar terug”  Wat van 2 miljoen jaar terug, Tokyo?

Nou toets die ouens hulle DNA, die een pragtige boldekop meisie van 50/50 [TV program] se uitslag is; haar mense is al 70,000 jaar hier. n Blanke verslaggewer van n Afrikaanse koerant laat syne in Amerika toets, sy voorsate is al 40,000 jaar in Afrika. Genugtig!  In n dagboek van n Engelse jagter wat in 1867 al in Rhodesië olifante gejag het, lees ek hy loop daardie tyd n jaggroep Griekwas  iewers in die bos raak, hulle van is glo Nero, en hulle kom al jare lank elke jaar olifante skiet in daardie omgewing. Die Griekwas? En hulle praat Afrikaans, sê hy.

Nee my vriend, daai dinge in die gedig van Kamakazi hier op sy blog oor die sperm en die ovum, vind al eeue lank plaas in ons land. Kyk maar na die Springbokrugbyspan, n bruin mens met n mooi gesonde vel wat Afrika se son kan vat, rats soos n steenbok in die veld, gespierd en vinnig soos n luiperd, lang hare soos n kolonialis, spierwit en sterk tande van n karnivoor. Geteel vir Afrika. Ek tel vyf of ses in die Springbokspan, volgende jaar gaan daar tien wees. So ook in ons eerste Krieketspan.

Ek verlang vandag na daai bottergeel ou Boesman wat ek in die Kalahari raakgeloop het, daar is baie wat ek hom graag sal wil vra. En ek weet nou dat dit hy was wat my daardie tyd jammer gekry het, nie ek vir hom.  Soms wanneer die verkalkte are my drie uur die nag na buite jaag en ek op die stoepie sit om vars lug te skep, dan hoor ek in die wind hoe hy vir my lag.

12 antwoorde op Wie se land is hierdie dan?

  1. Dit my goed geinspireer 🙂 EK het saam met die Uvumbo’s groot geword en huil self n traan as ek stil in die wind sit. mag oom lekker Visvang*
    LP

  2. Ou-Top het gesê op Augustus 18, 2008

    Snaaks hoeveel Duitse vanne in daardie wereld is, ons het die laaste aan voor ons Botswana verlaat het op n vriendelike boer se plaas oornag, ene Hymie Stumpke, as ek reg onthou. Onthou jy hoe stil die son opgekom het, geen hoenders wat kraai, of enige ander geluid nie, net die son wat opkom.

  3. Izakdv het gesê op Augustus 19, 2008

    Ja, ek is skepties oor Oprah haarself ‘n Zoeloe noem, maar ek stem dat ons land ‘n heenkome is van baie mense!
    Ek was mal oor Jan J van der Post se stories oor die boesmans toe ek nog ‘n knaap was.

  4. Vetjan het gesê op Augustus 19, 2008

    Jy skryf goeie blogs ou Top. dankie.

  5. abrham het gesê op Augustus 19, 2008

    ou top, ek het so rukkie terug in die malopo gaan kuier. die kruiper broers ontmoet. swartkat is verlede jaar oorlede. na al die eeue is suidelike afrika in blokke opgedeel.hul veg om oorlewing in botswana en het maar 30 000 hektaar van die regering in nsa gekry. afrika se eerste inwoners – bywoners. ek wil van moedeloosheid huil.

  6. Ai, Ou Top, jy laat my nou so verlang na daardie wereld. Is self innie Kalahari gebore. En moes saam met pa gaan jag. Ek moes die byl dra… maar wag, dis ‘n storie vir anner dag. Goeie blog.

  7. Ou-Top het gesê op Augustus 20, 2008

    Wat gaan nou aan! Hie peul al die Kalahari liefhebbers uit. Ek sê baie dankie vir julle almal, was heel onverwags en ek is bly daar is sulke mense. Soms dink n ou jy is maar alleen so simpel.

  8. (Ek wonder of ek en die ou top tydgenote is?)
    Goeie stuk, hierdie. Maar op Carte Blance het die wildsdiewe dit hul reg beskou om steeds pragtige wild uit te roei, in die naam van geregtigheid en vir geld. Ek sien nie strepe nie, ek sien stippelyne, en soms te vaag na my sin…
    Ons tuinier bly in ‘n plakkerskamp en kom een maal ‘n week. Sy enigste werkie, want hy is half lamlendig al. Dan eet hy hom ook boepens, soos ‘n leeu, genoeg om vir ‘n week stadig te verteer terwyl hy wag vir sy volgende werksdag.
    En in die middag, na sy dag se toegewyde werk, hoe onlogies dit soms vir ons mag wees in sy onkunde, dan dra hy trots sy dagloon en sy sakke vol kos huis toe.
    Want dit gaan goed met hom, dankie, vertel hy altyd. Hierrie week het hy ga-eet, baie dankie.
    (Ons het vanaand R500 betaal vir twee mense in ‘n té fancy restaurant…behoort my te skáám!)

  9. Dankie vir Ou Top se positiewe kommentaar. Ja daai bass meneertjies spring sommer soos huppelende dolfyntjies op Groenvlei. Ek geniet eerder die trawling as stilsit in die riete, maar die grotes lê beslis eerder tussen die riete want ek kry net kindertjies op die lyn. Ag, ek doen dit in elk geval net vir die uitkoms en rustigheid, as ek niks vang is ek nogsteeds gelukkig om net iets saam my pa te kon ervaar.
    ?çççççççççççççççŠ Shongo probeer maar so bietjie, maar veels te min

  10. Ou-Top het gesê op Augustus 21, 2008

    Liz hier by ons is die afgelope twee jaar drie gesiene families geskok deur hul seuns wat wilddiefstal gepleeg het. Dan ook nie die goedkoop bokkies nie, nee daai soort wat R100,000 n teelpaar kos. Ek ken die arme ouers, maar dis wat geldgierigheid doen.Die stippellyne;dis waar, maar so is Afrika.

    Shongo,my Pa is lankal oorlede, maar ek onthou net die lekker dinge wat ons saamgedoen het. Die laaste keer in die bos op die walle van die Vaalrivier lê hy met die .22 geweer aan op n rooikop fisant. Hy skiet toe nie,laat sak die geweer en sê, ” Lekkerste pastei op aarde, maar eintlik wil eki hom nie skiet nie. Kom ons kyk maar vir hom”

  11. Ou-Top het gesê op Augustus 21, 2008

    Petrus Pap ek is mal oor jou blog. Mosambiek is een van die mooiste lande in die wereld en min mense weet daarvan.Ek het in 1969 as jong man met my Volla noord gery van Lourenco Margues en het gehoop om Beira te haal. Kon net tot op n plek Inhassora kom vandaar was die pad te erg vir n Volla. Daar het ek n sjinese ou omie wat visse droog of opstop veertien keer agtermekaar in die rietkroeg met veerpyltjie gooi gewen. En hy wou elke keer wed,hy het my n kakhuis vol geld geskuld, want hy het elke keer die betting verhoog om gelyk te breek as hy sou wen. Daai China het my so R100,000 geskuld toe ons klaar is. Hy het my die volgende dag n opgestopte blaasoppie vissie gegee. Nou sien ek ons regering het die Chinas swart verklaar, seker Koi San; selde hoogte, selfde plooie, ek weet nie.

  12. Ou-Top het gesê op Augustus 23, 2008

    Want ek is maar n dom ou man en daar is sulke slim en geleerde mense daar, tog vind ek jou skrywes so lewendig en interessant; ek wil maar net hê jy moet weet ons gewone ou snare is ook verslaaf aan jou blog.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.