by

Die "carwatch" wat ek ken.

Augustus 10, 2008 in Sonder kategorie

Hy weet nie ek ken vir hom; hy het op die grens seergekry, aan sy lyf en diep in sy kop. Ek weet hy was n jaar of twee daar in die sielkundige afdeling van die Militêre hospitaal. Ek weet van die medaljes wat hy ontvang het en n paar van ons weet dat hulle die klompie soldate met valskerms op die verkeerde plek neergelaat het. n Logistiese fout. Fout of nie, die paar wat oorgebly het, het hul taak wel afgehandel.

Hy pas my kar al jare op, hier by die winkel waar ek koop. Vroegoggend is hy is altyd eerste daar, gesig verskroei en soveel keer afgedop, dis al pers en pienk. Hy praat nooit, hy vra nooit, as jy hom ietsie gee, knik hy net so effens met sy kop.

Toe tel hy die beursie op in die winkel se manstoilette. Hy gee dit in by die kantoor. Onder toesig word die geld getel en n lysie gemaak van alles wat binne die beurse is. Daar is R14,000 se note in. Die bestuurder sê hy moet wag, die eienaar is reeds gebel, hy is op pad. Die eienaar bekyk sy goed en gee hom n tien rand noot vir sy eerlikheid. Hy vat dit gedwee en stap daar weg.

Die storie loop en almal weet. n Paar dae later is ek weer daar, stil soos gewoonlik help hy my die pakkies laai.

Maar in sy oog sien ek die pyn.

9 antwoorde op Die "carwatch" wat ek ken.

  1. Ja nee, Ou Top… die lewe is onregverdig… sommige van ons dobbelaars, om die tafel, se “chip-stack” loop leeg voor jy daardie wenhand gedeel word. Jou “carwatch” moes die regte ding gedoen het. Hy moes die geld gevat het. Die anner donner het dit nie verdien nie.

  2. Ou-Top het gesê op Augustus 10, 2008

    Kammakazi,soms is daar in myself n twyfeling oor my medemens; maar n ou moet seker nooit twyfel nie. Dan lê die fout by jou. Ekself vind nou op oudag uit my gees groei net deur pyn, nie deur lekkerkry.

  3. abrham het gesê op Augustus 10, 2008

    om te plant moet aarde eers deur ploegskaar oopgeskeur word.

    verwondes van die ‘navigasiefout’ het saam met my saal 2 in 1 mil beset.

    ‘n eenheid van verwondes – vir volk en vaderland.

  4. Ag jaa swaer (sug)

  5. So is die lewe!

  6. Dit staan geskryf:
    Mat 25:21 En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.Mense se oë moet oopgaan.Dankie dat jy dit deel,daar is baie wat dit nie wil raaksien.
    groete.

  7. R10? Net R10?

  8. zephur het gesê op Augustus 13, 2008

    En daai ou met die geld dink hy het ‘n goeie ding gedoen en sal ook so loop en vertel dat hy geld gegee het vir die opteller van sy stukkie fortuin.

    Onregverdig is die lewe

  9. Ag ou Toppie: dit is so tragies. Net so tragies is die ouer gaarde, wat nie geweet het hulle word uitgeworpenes nadat hulle hul lewe opgegee het om hierdie land op te bou nie.
    Hulle met die grys hare, die geboë skouers, ontman omdat hulle nie meer kan verdien nie. Uitgespoeg en verneder.
    (Wag, ek raak warm onder die kraag!)
    Dankie vir jou besoek.
    Jy sê jy het geweet? Wat geweet, ou Top?
    (En dankie vir die mooi kompliment.)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.