by

n Baie persoonlike saak.

Augustus 6, 2008 in Sonder kategorie

Bartie en ek het op buurplase grootgeword. Hy en sy swart maatjies, Ramatau en Mosalla het gereeld by ons dis nou ek , Sjadrak en Libamang kom speel en kompeteer. Dan was dit perderesies, swem, kleilatgooi, kettieskiet of springhaasjag. Dit was lekker tye daardie en ons was almal sulke goeie vriende gewees, wonder wat het van almal geword.

Tyd stap aan en Bartie word later Bartel die Broeder en hy maak groot vooruitgang daar in die stad. Ek moes eers weermag toe , want ek was geloot, Bartel nie. Die Broeders het n manier gehad om na mekaar te kyk. Ek meen my arme ou Sap van n Pa kon nooit n Landbank lening kry om nog plase by te koop nie terwyl Bartel se Broederbond pa die een plaas na die ander met Landbank lenings gekoop het.

Maar ek en Bartel bly vriende daar in die stad waar ons werk, nou nie so openlik nie, want ek is nie lid van die binnekring van die Broeders nie en ek stem links. As ons alleen is, dan is ons nog dieselfde ou vriende van die plaas.

So gaan veertig jaar verby, Bartel is skatryk en ek ploeter maar nog so middelmatig voort. Toe lui die foon een Sondag oggend vroeg. Dis Bartel.

” Toppiejani, is dit jy?”, noem hy my op my plaasseun naampie.

” Dis ek, Bartiepollie,” antwoord ek hom.

” Ek is alleen by die huis, en ek het jou nodig my, vriend”, ek kan hoor die ou is emosioneel.

Ek maak verskoning by die huis, vroutjie sal met haar broer kerk toe gaan, ek moet gaan kyk wat is fout daar by my ou vriend.

Dis Desember en warm. Hy sit op die kant van die swembad met sy voete op die eerste trappie  in die water met n glas Jack Daniels in sy hand. Die bottel, die soda en die ys staan daar gerieflik na aan hom.

” Ek het drie seuns en een dogter”, sê hy met saamgepersde lippe, ” Die jongste seun was bederf grootgemaak. n Laatlam. n Rebelse klein bliksem”.

Ek gooi vir my ook n stewige dop, ek kan sien hier is groot fout vandag.

” Al die kinders is reeds getroud en het goeie werke. Ek het pragtige skoondogters en n knap skoonseun, ek het rede tot dankbaarheid”, gaan hy aan.

Ons staar vir n oomblik na die marmer dolfyn wat n straal water hier voor ons spuit. Ek sien die pragtige grasdak lapa hier langsaan, die groot dubbelverdieping huis en die tuin. Bartel is voorwaar n baie ryk sakeman. Hier is prag en praal.

” Die jongste seun het  n meisie en wil aanstaande maand sy verlowingsparty hier kom hou”, praat ou Bartel met sy oë stip op die water. ”  Sy is… , sy is….”. Hy kry nie die regte woorde uit sy mond nie.

Ons sit weer vir n wyle stil en klou aan ons glase.

” Sy is swart”, kom dit vinnig en onverwags soos n pynkreet uit sy bors.

Ek probeer troos deur te vertel dat ons nou n reënboognasie is en dat n mens die kinders n kans moet gee, sy is tog immers net so geleerd soos sy seun. Het mekaar dan op universiteit raakgeloop.

” Moenie kak praat nie man, hy is nie so grootgenmaak nie! My kerk is daarteen, die Bond is daarteen,
my vriende, my sakevennote. Hoe kan die klein bliksem dit aan my doen? Hy kan nie man, ek sal hom onterf, ek sal hom verbied om voort te gaan”, bulder hy met are wat bult op sy nek.

Ek bly liewer stil, ons drink in stilte voort. Later gaan hy weer aan,verbitterd, ontsteld en vol wraaksugtige gedagtes. Ek stuur hom mettertyd na ons kinderdae. Ons praat later land en sand oor ons sorgvrye lewens as kinders daar op die plaas. Ek kan sien hoe die stoom uit ou Bartel blaas. Hy lag selfs later oor ons stoutighede met ons swart bendelede.

Ek praat voordat ek mooi kon dink, seker die Jack Daniels.” Jy weet Bartel, gelukkig kan ek nog n bietjie Sotho praat, so ek kan jou darem help as die lobola onderhandellings begin”.

Hy verstar en kyk stip na my.” Ou Top, jy is n siek wetter…. Jy is n fokken siek, siek mens, man !”

Na n ruk vat hy my hand in n greep,” Jy staan by my? Jy sal by my wees met die verlowing en met die troue?”

Ek sien hoe n spiertjie aan die kant van sy wang beginne ruk. Hy druk my hand verskriklik seer.

” Sal jy seremoniemeester wees, Toppiejani?”

” Ek sal Bartepollie, ek sal namens jou praat, ou vriend”.

6 antwoorde op n Baie persoonlike saak.

  1. borrels het gesê op Augustus 6, 2008

    More OuTop!! Al gewonder wat van jou geword het. Ganit by die huis en met Mev? Dans julle nog?
    Hoop jy het ‘n great dag.

  2. Alweer baie mooi geskryf, Ou Top. Hoop om gereeld sommer baie van jou te lees.

    Dis moeilik om hierdie ‘touchy’ dinge so op papier te sit.

  3. ezile het gesê op Augustus 6, 2008

    ‘n Vriend soos jy is beslis baie meer werd as al die broeders. Dis diep en mooi geskryf – dankie.

  4. abrham het gesê op Augustus 6, 2008

    ou top – n pragtige menslike ervaring. ek het empatie met bartiepollie. as seremoniemeester kan jy dalk n paar name by die gastelys voeg – Ramatau, Mosalla, Sjadrak en Libamang. dink net watse stories het hulle oor lewensdraaie te vertel.

    mooi loop, ou top.

  5. Jirre, Ou Top, my henne-kuikentjies moet ok nog man vat. Is jou Sotho nog gangbaar?

  6. vdwaltmd het gesê op Augustus 6, 2008

    die wiel draai….

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.