by

Dans oom en die tante nog, wil Borreltjie Blogger weet.

Augustus 6, 2008 in Sonder kategorie

Ek kry nog daai drang wanneer ek lekker musiek hoor, maar my kinders sê ek lyk soos n groot ou beer wat regop staan en waggel. My kleinkinders kan niks sê nie, want hulle rol dan gewoonlik op die vloer rond soos hulle lag. So het ek dan algaande verander van n danser na n vermaaklikheidster. Vroulief gee nie om nie, as ek wil dans dan dans sy met my. Hou ook min of meer van dieselfde musiek as ek.

Maar ek sal jou n geheim vertel Borreltjie. As ons dit net binneshuis kan hou.

My vrou woon onlangs n kursus van ons kerk by en Saterdagaand slaap hulle oor in die oord. Almal kry my jammer, want die laatlam dogter is ook weg vir die naweek. Ek is alleen by die huis. Ek moet net keer, want almal wil reëlings tref vir my. Ek staan vas, ek wil alleen by my huis wees, want ek het n plan.

Kom Saterdagaand en ek trek my gasbraaier tot teen die skuifdeur van my TV kamer. So kan ek braai, luister en TV kyk, alles tegelyk. Ek het heel onnutsig n T-bone met uitermatige dik vet aan gekoop, ook n hoendersosatie en n stuk wors. Ek drink rooiwyn wat my verskriklik “gaut” gaan gee, maar ek gee nie om nie. Vanaand gaan ek DVD’s kyk van my beste musikante van toentertyd. Al daai sangers en plate wat niemand hier veel van hou nie. Vanaand speel ek en die hond hulle oor en oor so hard as wat ons kan, en ek sing saam en ek dans en ek braai en ek drink my rooiwyn; sonder dat iemand pla of sê.” Sit n bietjie sagter, die kinders klae.” of  “Ag Pa, hoe kan Pa na daai ou  simpel goed luister”.

Ek begin by Credence Clearwater Survival, daai John Foggerty kan vir jou sing hoor. Ek speel “Proud Mary” drie keer, ek speel “Bad Moon Rising”, vier keer. Ag man, dis te lekker. Dan is dit ” Peggy Sue” van Buddy Holly, dan Elvis, dan Queen, ou Freddy Mercury. Ja man, ek het n sagte kant ook aan my. Dan John Denver se “Sunshine on my shoulder”. Dis hier waar ek toe effens huilerig raak oor dinge wat verby is. Toe Simon en Garfunkel se , ” Bridge over Troubled water” en “Sounds of Silence”. Dan Foster and Allen se ” Maggi”. Teen hierdie tyd verlang ek al reeds na mense wat ek nie eers meer mooi kan onthou nie.

Toe bel my ou hardegat buurman en vra wat gaan hier aan. Ek is al vol wyn en sê vir hom my dogter en haar vriendinne hou paartie en dan gaan hulle in die middel van die winter kaalgat swem soos daai ysbeer klub in Welkom dit elke winter in die Sandrivier doen. Hy is doodstil aan die ander kant, hy weet nie ek weet hy verander soms in n boomklimmer as my dogter en haar vriendinne in die somer in hul bikinis hier om die swembad kattermaai nie.

Ek speel toe spesiaal vir my katoolse ou buurman Tina Turner se “Nut Bush City Limits”, en ” You have lost that loving feeling”, van die Rightious Brothers.

Na aan die einde van my paartie speel ek ” Stand by Me” van  Benny E. King en ” Blueberry Hill ” van Fats Domino. Die beste los ek vir laaste, dis Joe Cocker met “Up where we belong” en “With n little help of my friends”. Ek staan regop en sing kliphard saam dat die trane so rol. Ek doen dit sommer twee keer agtermekaar.

Buite hoor ek die hond blaf, seker die boomklimmer daar bo in die takke gewaar. Hoop hy verstuit sy ou stert daar in die koue; die man het ook geen kultuur nie.

Ek moet nog deure sluit en sorg dat ek die slaapkamer haal, maar ek voel  goed, so goed as wat n ou man wel kan voel.

10 antwoorde op Dans oom en die tante nog, wil Borreltjie Blogger weet.

  1. ezile het gesê op Augustus 6, 2008

    Lekker lag ek nou en hoor sommer al die lekker musiek so in my binne-oor. Ai OuTop, jy kan darem lekker stories vertel. Jy laat ons sommer almal dans van plesier.

  2. borrels het gesê op Augustus 6, 2008

    Great OuTop !!! … klink of jy ‘n wonderlike aand gehad het.
    Lekker slaap

  3. anskrige het gesê op Augustus 6, 2008

    Ou Top, ek weet waarvan jy praat. Ek het ‘n Freddie Mercury ding aan my en ken elke ding wat hy ooit gedoen het woordeliks.
    En dan kan ek so orig raak oor “Blue Bayou” (Of soos ek altyd gedink het: Blue By YOu). Omdat hy vir my so lekker sing soos Amazing grace.
    En as ek kom by : I’m going back someday, come what may, dan spring ek sommer op en gooi my arms oop sodat my longe meer lug kry en sing-skree ek
    ..to blueeee by youuuuu….
    Elke keer.
    Soveel keer as wat ek voor stem het.

  4. abrham het gesê op Augustus 7, 2008

    die vrede en plesier wat ‘n aandjie ‘uit’ met jouself te weeg kan bring. ek mis net “if i were a rich man”
    daai song doen dit vir my.ek ken al daai songs want dit was voor my landmyn. my musiek het opgehou in 77. gelukkig het ek baie tunes op my grys haredeskyf gestoor.

  5. Ou Top: Al die musiek wat jy noem is ook my gunstelinge.
    Wat van Ruby Tuesday, and then I kissed her en These boots are made for walking?
    Ek dans net as ek huis skonmaak!

  6. Wonderlik, wonderlik, wonderlik! Ek het nou so lekker gelag (en elke liedjie wat jy hier genoem het, so ‘n stukkie van gesing).

    Hou niemand in jou huis van CCR nie? Ai.

    Laat ek jou my claim to fame met Freddy Mercury vertel, (nee, nie die een wat by ons hotel in Spanje opgetree het nie, hy was bietjie camp… uhm, Freddy ook, onthou ek sopas!), sy Ma en suster het af in die straat van ons af gebly in Engeland en so het ek hulle ontmoet. (Nou nie so cool nie, maar darem!)

    Jy sal dalk waardeer dat ek ‘n Travelin’ Wilburries DVD het wat ek die naweek moet kyk?

  7. Ou-Top het gesê op Augustus 8, 2008

    Het nooit gedink julle hou almal ook van hierdie plate nie. En die wat julle daar genoem het, ken ek ook. Maar een aand was te kort, n ou kom nie by alles uit nie. Miskien roep die kerk my vrou weer op vir pligte, ek is lus vir daai
    “If I were a rich man” en ” These boots” en “Blue Bayou” en die Wilburries”
    Dankie julle man.

  8. Ek het sukke stomp voete, soos net ‘n Boesmanland plaaskind kan he. Vol stof het ek hulle gedans(mengsel van die riel en die quickstep), stoksiel alleen, saam met Springbok Radio se top20, alleen oppie plaas, baie jare(30) terug, en ek het gesing dat die honne huil. En ek was gelukkig………… en ek het die plaasjong gebliksem, toe hy my oor die skerm beloer en hardop geproes het… ek mis hom.

  9. Ou-Top het gesê op Augustus 10, 2008

    Hoender, elke mens het maar n donkerkant en ook n sonkant. Jou sonkant maak dat ek al jou skrywes lees, jou donkerkant maak dat jy nou verlang na die wat jy so gebliksem het. Stadig man, jou “refs” loop te hoog.

  10. Ceara het gesê op Augustus 23, 2008

    ‘n Wonderlike vertelling! Dis mos Koning Dawid in die Bybel wat so graag gehuppel het.. Was dit Audrey Blignault wat die storie vertel het van die ouderling wat iemand eenkeer aangespreek het oor hom en sy vrou se liefde vir dans, en die het toe geantwoord “ouderling, ons is Dawidsmense..ons huppel graag…:-). Mag jy nog lank dans en jou buurman vertoorn, dit hou die siel jonk.

Los ’n antwoord vir Ceara. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.