by

Karel bring sy kant.

Julie 22, 2008 in Sonder kategorie

 Ek voel n verpligting in my hart om te skryf hoe die ding met Karel daar by die see toe geëndig het. En julle oningeligtes kan maar notas vat, hierdie is verniet.

” Hulle kom net as die gety beginne stoot, sommer hier na aan die kant. Kyk vir skuim en bruin kolle in die water. Daar waar die water maal en die seesand skommel, daar sal hulle wees”, beduie Karel ongeduldig vir my. ” As hoogwater hier so 8 of 9 uur in die aand sou wees, dis die beste tyd. Nie bedags. Staan al ses uur hier en kyk waar die seesand maal”.

Hy gaan wys my in die dorp waar ek die varste aas kan koop, sardiens wat nog half olierig voel en nie heeltemaal gevries is nie. ” Koop aas waar die skuite koop, hulle weet”, sê hy. My eie aas voer hy sommer vir die honger seemeeue wat by ons vangplek draai.

“Nee my donder man, hoe sit jy dan hoek en sinkers aan?  Wil jy babers in n pan gaan vang? Julle boere, nooit geweet julle is so onnosel nie. Gee hier dat ek die goed vir jou bind”, raas die ou  met my.

” Nee, gee n kleiner hoek, gee n ‘ three way swivel’, daai sinker is te groot, jy moet met die koffie-
grinder vang, met n pen katrol kry jy net kraaineste in die nag”.

Ons sit by my gaslampie en hy sny n repie fillet van n sardien, ryg deur die hoek met vleeskant buite en draai dit met rekgaring vas. ” Dê. gooi nou, net dertig meter, daar na die wit skuim”. Ek maak beswaar, want ek het die oggend met laagwater daar gestaan, dit kan nie eers n meter en n half diep wees daar. Daar sal geen visse wees nie , man. Miskien n krap of twee.

Ek gooi en hy luister waar die sinker plons. “Reg so, rol nou op tot jou lyn heeltemaal stywe is. Nee, man , hou jou stok se punt omhoog, jy moet moes kan voel wanneer hy byt!”

My visstok se punt begin te ruk,.” Hy is daar, laat sak jou stok se punt en katrol tot die lyn styf is, sit jou vinger op die lyn hier naby die katrol. Wat maak hy nou?”

Ek voel aan die lyn op my vinger hoe die vis daarvoor ruk en pluk aan my aas.” Kap nou, man”, skreeu Karel opgewonde. Ek kap en die vis is vas.

“Stadig, stadig, dis nie dam hierrie nie, hier is golwe man! Bring hom in met n golf, moenie trek as die water terug beweeg, die hoek sal uit sy bek uit skeur, dans hy weg”.

Ek doen alles reg en toe die water terugbeweeg lê hy daar op die sand, n kabeljou langer as my voorarm. Ons vang drie kabeljoue en een elf binne n uur se tyd. Ek kan nie glo ek vang al byna n week lank hier en kry niks uitgetrek nie.

Ons drink elkeen n plastiekglaas Old Brown Sjerrie op ons vis. Dan vat hy twee visse en ek vat twee.

” Jongmeid gaan dink ek het die goed gesteel”, lag hy vrolik as ons uitmekaar uit gaan.

As hy op n veilige afstand is skreeu hy vir my,” Julle boere is darem ook nie so kak as wat almal sê nie, hoor!” 

Eers by die huis kom ek agter my halfbottel Sjerry het ook verdwyn.  Dankie Karel en mag ons paaie weer vorentoe kruis.

17 antwoorde op Karel bring sy kant.

  1. trouby het gesê op Julie 22, 2008

    🙂

  2. borrels het gesê op Julie 22, 2008

    Klink na ‘n lekker vakansie…

  3. Vetjan het gesê op Julie 22, 2008

    Is aas wel die geheim?

  4. ezile het gesê op Julie 22, 2008

    Ai, ek het nou lekkerrrr gelees. Dankie vir die opvolg en geluk met daai visse wat jy gevang het en dat jy Karel ingekatrol het.

  5. Ou-Top het gesê op Julie 23, 2008

    Petrus, nee, ek het verskeie kere rooi aas, chokka en sardien diep ingegooi, net n sandhaai gehaak. Nes die son sak en dis hoogwater is die goed hier reg voor jou neus. Kennis en ondervinding, dis die geheim. Soos Karel sê: net n seeman weet.
    Flenter, jy is reg, maar my gooinet, die het ek self vir hom gegee, die volgende oggend toe hy kom groet en my help pak. Gooinetgooi is hard op die heupe en jou knieë, ek is vir eers klaar met dit. Hy sê vir my hy sal sommer my permit “gippo” na sy naam, want die harders daar by Kabeljousrivier se monding wag vir hom!
    Net vir interessantheid wil ek darem sê.
    Toe ons die oggend staan en swartkoffie drink voor ons die treiler pak, vra ek hom van die Sjerrie.
    ” Ag, man jy vreet mos oesters, het nie die goed nodig nie!”

  6. zephur het gesê op Julie 23, 2008

    Daai kabeljou het seker vorentoe gesmaak…of hoe.

    Karel jou ramkat.

    Man nou het ek ook baie tips gekry vir die visvang in Jbay in die aand.

    Lekker dag verder.

  7. abrham het gesê op Julie 26, 2008

    ou top my e mail is [email protected]
    gooi my n briefie dan gesels ons.

  8. Ou-Top het gesê op Julie 29, 2008

    Want ek het griep, ek lees, dis baie minder moeite vir n seer liggaam ….en ek dink wat ek vir Abrham moet skryf,die naam is net so geheimsinnig en ontstellend as sy skrywes, en ek kan in my onnoselgeit nog nie met sekerheid sê of ek hom as jy of sy moet aanspreek nie. Ek meen by die tavern mag hy nie blue-movies kyk nie. want hy is nie n man nie, maar daar in die Molopo het hy White Fang se sussie nog voor spataarneus Gert Taljaardt gespyker.Maar ek gaan, ek wil met hierdie mens praat, ek moet.

  9. anskrige het gesê op Julie 30, 2008

    My boete is vissermanne. Blesbokspruit was in die jare 60’s leeg-gevis deur hulle. Ek mog nie saamgaan nie, want Pa het gesê dogtertjies loop nie in die veld rond nie, die boys gaan my ryp.
    (Sies vir jou Pa, ek is nog steeds bang die boys ryp my- maar jy moes my ook gewaarsku het teen die manne wat wou gryp en/of rape….)
    ((Nee wat, ek is nie ‘n victim nie: ek het maar ja gesê as ek gesien het hier kom moeilikheid….hehe))

  10. gidivet het gesê op Julie 30, 2008

    Heerlike storie.

  11. zephur het gesê op Julie 31, 2008

    Ou top waar is jy…..

  12. ezile het gesê op Augustus 1, 2008

    Baie geluk met jou welverdiende prys, meester Top. Skryf asb. gou weer sulke kosbare stories.

  13. anskrige het gesê op Augustus 1, 2008

    Baie geluk ou Top: jy is klaar ‘n wenner vir ons almal en nou is dit amptelik.
    hoop die griep is al beter… ek en liefie het beurte gemaak om die week vrot sleg en lethargic van koors te wees.

  14. Baie geluk met die wen, en hou aan met die stories. Dis absoluut briljante kos vir ‘n jong man vasgevang in ‘n koue kantoor se siel.

  15. Ou-Top het gesê op Augustus 4, 2008

    Dankie Kerneels, Ezile en Liz, het op julle blogs iets geskryf. Voel maar klein.

  16. zephur het gesê op Augustus 4, 2008

    Nou kan daar baie oester gaan staan en koop word. Geluk jy verdien dit.

  17. Oi, waar is jy? Geluk met jou prys, was voorwaar welverdiend.

    Kom nou, ons wil nog lees!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.