by

Die Oestersmous.

Julie 21, 2008 in Sonder kategorie

Ek sukkel toe daar in Jeffreys om n eetbare vis te vang wat ek kan huistoe neem. Twee Blaasoppies gevang ja. Soek mens na n “local” om raad te vra kry jy nie een nie en as jy een kry lieg hy vir jou, want hy wil nie hê ons binnelanders moet al hulle visse  hier kom vang nie. Twee ander ouens ook probeer wat half profesioneel vir my gelyk het, maar dis van daai binnelanders wat hulle met ou klere en flenter tekkies graag as “locals” wil voordoen. Weet  toe minder as ek.

Op die derde dag daar sien ek n man aangestap kom oor die sand, reguit na my toe. Hy het so bondeltjie lap in sy hand.

” Soek oubaas n oestertjie vir die lyf?”, wil hy weet. Ek sê maak oop die lap dat ek sien. Ek kyk eers rond,want n ou weet nie  deesdae nie meer wat is wettig en wat is nie, hier by die see.

” Nee, hulle is ‘ size'”, beduie hy en wys my so n ringetjie waarmee hy hulle meet.

 Ek het in die ou dae daar by Struisbaai en Port Alfred van die goed geëet en hou nogal van die smaak: met suurlemoensap, swart peper en tabasco. Dis tien baie mooi oesters. Hy begin by R140 en ons eindig by R50

” Nie als gelyk eet nie oubaas, gee n man moerse koerasie!”, praat hy laggend met sy skor stem en stap dorp se kant toe. Ek probeer nog vra van die visvangery, maar hy beduie net.” Hiers fokkel meer vis.”

Ek kyk as hy kaalvoet wegstap. Sy voetsole is wit en silwerskoon. Seewater en sand, dink ek by myself. Hy was net mooi uit sig toe ek agterkom my vismes is weg. “So ou bliksem”,  sê ek vir die seemeeu wat ook al hoeka hier naby staan en my sardynaas met n skewekop beloer. Gaan koop die middag maar weer n mes, maar hy lyk nie soos my oue nie. Daai mes het ek al twintig jaar by my.

Volgende oggend sien ek die oesterman glad nie, die dag daarna ook nie. Die Vrydag hier kom hy verby en maak of hy my nie ken nie. Ek roep hom, want ek soek nog oesters om te koop Vis uit die see trek het ek toe nog nie reggekry nie. Hy vou sy bondeltjie lap oop op die sand, daar is meer as dertig groot oesters. Hy soek n fortuin daarvoor en ek sê,” Gee dan maar weer net tien”. Ek sien hoe hy na die nuwe mes in my trommeltjie loer.

“Kyk, ou ram, my naam is Outop van die Vrystaat, wat is joune?” wil ek weet en steek my hand uit na hom. Hy lyk effens oorbluf en sê, ” Karel, is ek”. Ons skud hande.

” Het vandag vir my n ander mes gaan koop,” sug ek swaar,”my ou mes iewers verloor, maar ek hou glad nie van die nuwe ding. Dê vat hom maar vir jou, ek dink ek is klaar visgevang ook. Glad nie lekker vir my hier by die see nie.”

Hy vat die mes en die R50 gedweë en stap verder aan op die strand. Later by die huis sien ek hy het my twaalf gegee.

Vroegoggend ry ek maar na die kafee en koop die plaaslike koerant om te sien wat  n mens nog hier kan doen. Met my terugkoms sê my vrou. ” Daai skelm oestersmous is hier, wil glo met jou praat. Moet net nie nog oesters by hom koop nie”.

Ons staan op die stoepie en hy gee my ou mes terug vir my.” Kry hom vimore op die sand, laasnag se wind het hom skoon oopgewaai”, sê hy.

” Vrydag my Lanie, naweek lê voor. Hier is dertig van hulle, tien vir vandag, tien vir more en tien vir Sondag. Ek werk nie weekends nie.”

Ek koop al dertig, maar my vrou het ons deur die venster hoor praat.”  Jy doen dit nie, jy staaf hom nog in sy kwaad, hy gaan vir al daai geld tog net wyn en vodka koop!”.

Ek stap vinnig saam met hom van die stoepie af, die geld is reeds in sy hand. Onder sy kraag deur sê hy vir my, ” Ja, oestervreet maak vrouens altyd verskriklik kwaad of verskriklik bly, hy verdra geen middelpad. Sien weer Maandag oppie strand, dan wys ek ouwaas waar die visse byt”.

11 antwoorde op Die Oestersmous.

  1. 🙂 hehe

  2. anskrige het gesê op Julie 21, 2008

    Weereens, briljant.
    Jy herhinner my aan PG du Plessis wat van die nederigste karakter ‘n kleurvolle storie kan maak. (Groot PG fan, ek!)

  3. loudavisi het gesê op Julie 21, 2008

    hahaha! Oulike storie die.
    Is nou so bly daar’s nie oesters hier nie.

  4. Laat my dink aan my ou seekos verskaffertjies. By die kaya by die see(Weskus) weet die vistermanne waneer ek by die huis is… so 1 keer per maand. Dan kom klop hulle aan met Hotnotsvis en seehoenners…(Kreef).
    Nou kyk, ek kry dit al jare by hulle, en ek weet daar is ‘n prys, en daar is ‘n prys. R30 ‘n kreef vir die Kaapse- en Transvaalse karre, die 4×4’s van Upington R40, en dan sommer so ‘n los R50 per kreef ook, as die vooraad naby aan op is.
    Maar dan vergeet hulle, ek weet jy koop jou kreef Maandag tot Donderdag. Vrydae tot Sondae is die dorp vol “filmsterre” soos die toeriste genoem word, wat baie betaal. Maar innie week koop ek dit vir R15 ‘n kreef… grotes.

    Ai, hoe lus ek nou so ‘n ou krefie… MAAAAA!! HET ONS NOG KREEF?!

  5. Ou-Top het gesê op Julie 21, 2008

    Daar is niks soos kapitalisme nie, en dis wonderlik om te sien hoe die mense op voetsoolvlak dit in n fyn kuns ontwikkel het.

  6. abrham het gesê op Julie 21, 2008

    wysheid in aksie – bly oor die mes!

  7. Ou-Top het gesê op Julie 21, 2008

    Ek skryf maar wat ek sien en ek luister na wat ander Afrikaners op hul blogs kom skryf. My aangetroude broederbond neef sê daar is n ding soos n ware Afrikaner. Hy is nog n bietjie jonk, sal nog leer, hier binne in jou bors is n Afrikaner eenvoudig maar net iemand wat Afrikaans praat en skryf vanaf moeders-skoot. Sê hy ook vir my niggie, sy Pa en Ma weet ek is n Sap, omdat my Pa en Oupa teen Duitsland saam met Engeland en Amerika gaan veg het.So dis heeltemaal veilig om te sê: n ware Afrikaner is een wat in die verlede leef, of daar uit die buiteland vir my hier kom skryf hoe kak my land nou is.

  8. zephur het gesê op Julie 22, 2008

    Kan die see ruik en die sand tussen my tone voel.

    JBay jou lekker plek.

  9. oester het gesê op Julie 22, 2008

    hey, outop.
    ek is ook maar een van die ouens wat oesters smous. jy moet altyd jou lyn ingooi waar die manne oesters uithaal. oppas net, want daar is nie permitte in jbay nie. moet nooit meer as 25 in jou besit he nie. jy het in elk geval n bargain gekoop. as jy meer soek, kontak vir krokodil. sy sal jou beduie.

  10. Wat ‘n ongelooflike storie. Ek het lanklaas so lekker gelees!

  11. My manne en bure vang ok vis. Sien die storie oor die grote wat weggekom het in ons fontein.

    Groete

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.