by

Op die water staan n man,

Julie 20, 2008 in Sonder kategorie

Op vakansie by Jeffreysbaai is ek vroegoggend al op die strand. My lyn is in die water en ek sit gemaklik in my stoel en tuur oor die see. Die branders is klein en so kan ek lekker ver oor die water sien.

Skielik gewaar ek n man wat op die water staan, so twee honderd meter in. Ek skrik myself skoon penorent uit die stoel  en sit my hande voor my oë om beter teen die son te kyk. Daar staan verseker n man bo-op die water, regop soos n paal. Ek kyk verward rond om iemand te vertel, iemand wie se oë dalk beter as myne kan sien, maar ek is vinger alleen op die sand.

Ek draai om en staar in ons woonstel se rigting met die hoop dat iemand al op die stoep sou sit en my sien, of dalk ook die man op die see sien staan. Almal slaap nog. Ek begin voel dit kan dalk n voorbode wees en staar weer na die man. Dit lyk of hy met sy hande waai. Dan sien ek die skool dolfyne wat langs en agter hom verbytrek. Dit voel al meer vir my of ek  hier met iets heiligs te doene het. Ek kan ook al hoor hoe my vrou gaan lag as ek haar hiervan sou vertel. Maar ek dink meer aan die Bybel en wat daarin geskrywe staan oor die liggelowiges. Sien is tog glo, vertel ek my aanmekaar.

Die man gaan sit nou op die see, ek kan nog sy bors , kop en skouers sien. Maar waar is almal dan, is ek al mens wat so vroeg wil gaan visse vang? Kan hier nie asseblief net een mens verbykom wat hierdie verskynsel vir my kan bevestig nie?

Hy kom nou nader, ja, hy kom nou al vinniger na die strand se kant. Ek stap tot by die water, hierdie mens wil ek welkom heet. Op n golfie kom hy netjies uitgespoel, sit plat op sy outydse, lang glasvesel surfbord. Hy sleep die gevaarte uit en staan soos n hond die water uit sy hare en bolyf skud.

Dis n seningrige bruingebrande seun van so 20 jaar oud. Ek groet en vra wat maak hy daar buite as hy so staan, ek kon  van hier af glad nie die surfbord sien. Hy het n kort visstokkie in sy hand en so klein sakkie aan n belt op sy maag. Hy glimlag breed.

” Net gou n paar shad vir ek en my Ma gaan haal, Oom. Vang hulle met die spinnertjie daar”, sê hy.

So het ek my eerste “local” raakgeloop en vir niemand daarvan vertel nie. n Paar dae later toe ek hom weer gewaar, het ek hom spesiaal vir my vrou gaan wys.  Nie sommer so nie, nee, ons het so geloop en skulpies optel toe ek haar vra  of ek my verbeel of is daar iets doer op die water. Toe sy versteen en met sulke groot oë vir my sê dis n mens wat daar op die water loop, toe sê ek vir haar sy lieg vir my, ek sien dan nou glad niks daar op die see nie.

Ja, vriend, toe ek uiteindelik vir haar bevestig ek sien ook  n man op die water staan, het sy  nogal heelwat meer Bybels geraak as ek daardie eerste keer.

Toe hy later uit die water stap met sy twee visse , is sy sommer vies vir my en die seun.

5 antwoorde op Op die water staan n man,

  1. Laat weet wanneer jy iemand raakloop wat bv water in wyn verander…dis nou my soort wonderwerk !!

  2. ezile het gesê op Julie 20, 2008

    My hart trek darem nou met ‘n punt see toe. Dankie vir die lekker storie. Ek sien dit so in my geestesoog.

  3. zephur het gesê op Julie 21, 2008

    Moer die man het goeie balans.

    Goeie storie ou Top, het jy darem iets gevang.

  4. Ou-Top het gesê op Julie 21, 2008

    Zeppie, ek dink dis hoekom hy my geflous het, kon dit nie glo nie! Maar hy surf glo van 8 jaar oud. Doen dit darem net vroeg oggend, sonop, as die see plat is en klein deinings het daarbinne. Jy moet hom sien as hy maar soms hier teen die kant waar die branders is, kom speel en n bietjie surf. Wonder of van die lesers nie ook al die snaar gewaar het nie, bietjie verder noord van die hoofstrand.

  5. Wat ‘n lekker storie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.