Karel bring sy kant.
Julie 22, 2008 in Sonder kategorie
Ek voel n verpligting in my hart om te skryf hoe die ding met Karel daar by die see toe geëndig het. En julle oningeligtes kan maar notas vat, hierdie is verniet.
” Hulle kom net as die gety beginne stoot, sommer hier na aan die kant. Kyk vir skuim en bruin kolle in die water. Daar waar die water maal en die seesand skommel, daar sal hulle wees”, beduie Karel ongeduldig vir my. ” As hoogwater hier so 8 of 9 uur in die aand sou wees, dis die beste tyd. Nie bedags. Staan al ses uur hier en kyk waar die seesand maal”.
Hy gaan wys my in die dorp waar ek die varste aas kan koop, sardiens wat nog half olierig voel en nie heeltemaal gevries is nie. ” Koop aas waar die skuite koop, hulle weet”, sê hy. My eie aas voer hy sommer vir die honger seemeeue wat by ons vangplek draai.
“Nee my donder man, hoe sit jy dan hoek en sinkers aan? Wil jy babers in n pan gaan vang? Julle boere, nooit geweet julle is so onnosel nie. Gee hier dat ek die goed vir jou bind”, raas die ou met my.
” Nee, gee n kleiner hoek, gee n ‘ three way swivel’, daai sinker is te groot, jy moet met die koffie-
grinder vang, met n pen katrol kry jy net kraaineste in die nag”.
Ons sit by my gaslampie en hy sny n repie fillet van n sardien, ryg deur die hoek met vleeskant buite en draai dit met rekgaring vas. ” Dê. gooi nou, net dertig meter, daar na die wit skuim”. Ek maak beswaar, want ek het die oggend met laagwater daar gestaan, dit kan nie eers n meter en n half diep wees daar. Daar sal geen visse wees nie , man. Miskien n krap of twee.
Ek gooi en hy luister waar die sinker plons. “Reg so, rol nou op tot jou lyn heeltemaal stywe is. Nee, man , hou jou stok se punt omhoog, jy moet moes kan voel wanneer hy byt!”
My visstok se punt begin te ruk,.” Hy is daar, laat sak jou stok se punt en katrol tot die lyn styf is, sit jou vinger op die lyn hier naby die katrol. Wat maak hy nou?”
Ek voel aan die lyn op my vinger hoe die vis daarvoor ruk en pluk aan my aas.” Kap nou, man”, skreeu Karel opgewonde. Ek kap en die vis is vas.
“Stadig, stadig, dis nie dam hierrie nie, hier is golwe man! Bring hom in met n golf, moenie trek as die water terug beweeg, die hoek sal uit sy bek uit skeur, dans hy weg”.
Ek doen alles reg en toe die water terugbeweeg lê hy daar op die sand, n kabeljou langer as my voorarm. Ons vang drie kabeljoue en een elf binne n uur se tyd. Ek kan nie glo ek vang al byna n week lank hier en kry niks uitgetrek nie.
Ons drink elkeen n plastiekglaas Old Brown Sjerrie op ons vis. Dan vat hy twee visse en ek vat twee.
” Jongmeid gaan dink ek het die goed gesteel”, lag hy vrolik as ons uitmekaar uit gaan.
As hy op n veilige afstand is skreeu hy vir my,” Julle boere is darem ook nie so kak as wat almal sê nie, hoor!”
Eers by die huis kom ek agter my halfbottel Sjerry het ook verdwyn. Dankie Karel en mag ons paaie weer vorentoe kruis.
Onlangse kommentare