Jy blaai in die argief vir 2011 Junie.

My swak hart Netta!

Junie 1, 2011 in Sonder kategorie

Die vorige een kan hier gevind word

Lettie Botha [[email protected]]

Sent: Thursday 2011/04/07 08:00 AM

To:     [email protected]

Eers skrik ek toe ek die ‘SWAK’ aan die einde van jou epos lees maar toe onthou ek hoe ons afkortings gemaak het en dit aan die einde van al ons briefies gesit het, dit was soos ons geheime kode. Hierdie een was sommer baie spesiaal! Sealed With A Kiss! Ons het altyd gedink die Engelse taal is so grênd. Ek wonder of die jongetjies nog sulke afkortings maak? Dis seker daardie vreemde taal van hulle waarvan jy geskryf het in jou epos. Ek het ook maar gesukkel om dit te ontsyfer.

Bertus het toe vir Ahmed afgehaal van my vriendelys. Hy sê dis een of ander Nigerian Scam. Toe vertel hy my, ek moet dit gaan google. Ek wonder nou nog wat vir ‘n ding is google? Onthou jy Netta toe die seuns ons so op en af gekyk het, dan het ons gegiggel en gesê hulle oogle ons? Dis seker maar dieselfde ding, net met ‘n fênsier naam. Maar ek weet nie waar om daardie google ding te kry nie. Ek het al oral daar op Facebook gesoek, maar ek wil nie te veel rondkarring nie, netnou breek ek iets. Ek sal hom maar vra as hy weer kom oë wys. Die arme kind skryf nou eksamen so hy spandeer bietjie tyd voor die boeke. Ook maar jammer dat my drome nou nie bewaarheid sal word nie. Lyk my ek is vir ewig verdoem om maar ‘n bietjie te sukkel.

Bertus vertel my dat die Madelein ogies maak vir die manne daar op Facebook. Sy het seker nou die ‘poke’ ding onder die knieg. Ek sal maar eerder nie vra nie, netnou dink sy ek spioeneer op haar. Ek en sy sit mos hoeka nie langs dieselfde vuur nie. Bertus wil nou by my weet of hy vir sy Pa moet vertel van Madelein se dinge daar op Facebook. Dit is seker sy goeie reg om te weet of wat praat ek Netta? Ek kon nog nooit vatplek aan die vrou kry nie maar sy was my seun se keuse. Wat kan ‘n ma doen as ‘n kind gekies het? Mens kan maar net bid en hoop vir die beste en eendag wanneer dinge uitmekaar val, moet mens maar help om die stukke op te tel en aanmekaar te las. Kinders hou mens maar nederig en op die knieë, maak nie saak wat hulle ouderdom of salaris is nie.

Ek is jammer om te hoor dat Japie so moeilik raak. Hy was altyd so ‘n harde werker en het goed gesorg vir julle. Maar om oud te word is mos nie vir sissies nie en ek vermoed dit raak die manne erger as wat dit vir ons raak. Ek was maar altyd so ‘n bietjie jaloers op jou met jou goeie man. Veral in die tyd toe ek met Hennerik getroud was. Die man was mos meer lief vir die Bybel as wat hy vir werk was. Ai, as ek dink hoe ek my vingers stompies moes werk om huis en haard aanmekaar te hou terwyl hy Bybelstudie doen, dan raak ek sommer weer die kluts kwyt van kwaad! Onthou jy Netta die dag toe ek my en my seuns se goedjies gepak het en hom en sy sewe Bybels gelos het? Onthou jy hoe ons my aardse besittings op die bakkie gelaai het sonder enige hulp? Kwaadgeit maak mens darem sterk. Die beste besluit wat ek ooit in my lewe gemaak het. Net jammer die kinders het so swaar gekry, maar gedane sake het nou eenmaal nie keer nie.

Ek is bly jy het ‘n werkie om jou besig te hou. Die geleerdes sê mos ons oumense moet die brein besig hou anders verloor ons dit. Die dat ek maar aanhou bak vir die tuisnywerheid hier op die hoek. Dit hou my besig en stop darem hier en daar ‘n gaatjie toe.

Ou Stefaans het my gisteraand uitgevat vir ‘n ete na ‘n deftige plek. Die plek ruik sommer na geld en dan wil ek nie eens praat van die vreemde benamings vir die kos nie. Pleks hou hulle by vis of hoender sodat mens kan verstaan! Ek bestel toe maar die eerste ding, wat vir my lyk of dit lekker kan wees, onder die ‘Main Course’ gedeelte.  Iets van ‘n terrein met guacamole – ek weet nie eens hoe om die vreemde woord uit te spreek nie – en polenta.

Nou sal jy my nie glo nie Netta! Daar daag die bord kos op met die boontjies wat so eenkant lê sonder aartappels en hulle is nie eers fyngedruk nie! Nee, hulle lê daar met ‘n strikkie van gras vasgemaak in ‘n bondeltjie!  Geen geel groente in sig nie.  Ek was juis lus vir ‘n skeppie stroopsoet pampoen!

Ek begin toe rondkyk om te sien of hulle nog ‘n bord gaan bring want daar is nie ‘n stukkie vleis te bespeur op my bord nie. Net so snaakse torinkie kos, gedrapeer met repies groen en ‘n smeerseltjie sous wat in kringe oor die bord lê. Die bord het mooi gelyk maar die kos was aan die skraps kant. Geen wonder die ryk vrouens lyk soos visgrate met vel oor nie. Mens kan mos nie oorleef met so min kos nie!

Stefaans het gesien ek kyk hulpeloos rond en hy vra my toe wat is fout. Ek sê toe vir hom hulle het ons vleis vergeet. Sal die man nou kliphard uitbars van die lag in daai deftige plek! Mens, ek wens jy kon die kyke sien wat ons gekry het! Hy vertel my toe dat die vleis weggesteek is in die torinkie ding. Tik my om met ‘n veer Netta!

Ek het maar langtand begin eet. Dit kos was toe heel smaaklik maar kan jy glo, daar was geen guacamole of polenta te bespeur nie – tensy dit die sous en die groen grasserige goed was. Ek wou ook maar nie weer vra nie want ek was bang die man lag weer vir my. Maar die Avokado was lekker. Ek het hom nog nooit so geproe nie! Heeltemal anders as die gewone Avokado en Mayonnaise konkoksie wat ek altyd aanmekaar slaan. Ek dink die kok het vermoed ek is eintlik in murg en been ‘n plaasmeisie, die dat hy pap ook in die torinkie gesit het. Maar bid jou aan Netta! Geel mieliemeel! Jy onthou daai jaar toe dit so erg droogte was toe ons net geel mieliemeel kon kry? Ek was mos so mal daaroor want dit het vir my soos regte mielies gesmaak. En hier loop ek dit weer raak in die deftige eersteklas restaurant! Ek het net nie baie gehou van die twee repies vleis wat tussen die Avokado en pap weggesteek was nie, hulle was maar aan die rouerige kant en jy weet ek hou van my vleis so gaar dat die veearts hom nie meer kan red nie.

Lyk my die Stefaans was op sy tyd ‘n vername man want toe die kelner, wit vegedoek oor die arm, die wyn tafel toe bring, gooi hy eers so bietjie in Stefaans se glas. Stefaans het die glas so skuinsweg na die lig gehou, daaraan geruik, ‘n klein slukkie gevat, dit so in sy mond gespoel en toe met ‘n kopknik aangedui dat die wyn reg is. Nou wonder ek, wat sou hulle met die wyn gemaak het as dit nie reg was nie? Ek wil nou nie skinder nie Netta, maar ek dink Stefaans se smaakgoed het iewers by sy agterstewe vasgeslaan want daardie wyn was so suur soos laasjaar se verslane asyn en as jy hom in jou mond kry, dan trek hy sommer die kiewe so bymekaar. Dit voel amper soos daardie saamtrekkery van die keel as mens pampoentjies het.

Volgende keer gaan ek vir hom vertel ons gaan eet eerder by die Spur. Ten minste verstaan ek hulle spyskaarte en hulle borde is nie so karig geskep nie.

Groete vir Japie en die kinders.

Lettie