Hallo Ouma!

Mei 31, 2011 in Sonder kategorie

Die vorige epos kan hier gevind word.

Bertus Botha [[email protected]]

Sent: Wed 2011/04/06 15:45 PM

To:     Lettie Botha [email protected]

Jinne Ouma! Ouma kan mos nie ouma se ID en als vir die man stuur nie! Ek het sommer daar by Ouma se Facebook gaan inlog en die mannetjie van Ouma se vriendelys verwyder. Hierdie mense soek net die bankbesonderhede en voor Ouma jou oë uitvee, dan is die bankrekening leeg! Het Ouma nog nie gehoor van die Nigerian 419 scam nie? Ouma moet dit bietjie gaan google.

Ek is baie besig hierdie week met eksamens, so ek sal nie kan kom kuier nie. Maar miskien sal Pa-hulle. Ek kan ook nie gaan jol nie, want Pa sê as ek nie deurkom nie, moet ek gaan til slaan by Checkers. Hy sê ek moet nie probeer om ‘n vier jaar graad in vyf jaar in te squeeze nie.

Dit gaan goed met Ansie. Ek weet sy is die vrou vir my en dat ek en sy eendag gaan trou. Wat sê Ouma daarvan? Ouma hou mos van haar? Madelein hou nie baie van haar nie. Sy sê Ansie is ‘n fortuinsoeker – asof sy kan praat!  Blerry coogirl!  Ansie het my nog net goed behandel en sy swot hard op Universiteit want sy kan nie bekostig om haar beurs te verloor nie. Gelukkig is hierdie my finale jaar. Volgende jaar gaan ek en Ansie oorsee om eers die wêreld te leer ken. Ek sal vir Ouma poskaarte van al die plekke saambring. Noudat Ouma mos email het, kan ek baie spaar op posgeld. Maar moenie worry nie, ek sal elke dag vir Ouma ‘n email stuur!

Ek word so kwaad vir Madelein. Mens sou sweer sy het die graad agter haar naam en nie Pa nie. Al wat sy doen is in skoonheidsalonne rondlê en kuier met haar vriendinne in koffie winkels. Ouma sal nie glo nie, sy het nou vir die vierde keer hierdie jaar die sitkamer oor laat doen. Ek kan nie verstaan dat Pa dit sommer so aanvaar nie. Hy werk so hard en sy doen niks! Sy het nuwe skryfbehoeftes bestel met ‘n briefhoof as Mev. Dr. Botha. Sy is sommer aansitterig en ek kan nie glo dat Pa met so ‘n vrou kon trou nie. Sy is niks soos my Ma was nie.  

Sy weet ook nie dat ek op haar Facebook profile kan ingaan nie. Ouma moet sien watse messages sy van die mans kry. En dan antwoord sy hulle nogals! Partykeer is ek sommer lus en vertel vir Pa. Wat dink Ouma? Mens kan mos nie met ander mans flirt as jy getroud is nie? Maar ek wil ook nie hê die outoppie moet stress nie.

Oom Stefaans het my nou die dag vertel hy hou baie van Ouma. Julle moet julle gedra en nie doen wat ek nie sou doen nie Ouma Laughing

Ek gaan nou eers groet Ouma. Ek moet oor tien minute in die klas en die proffie is maar streng op tyd. As mens vyf minute laat is, dan merk hy jou afwesig maar dis ‘n heel ander ball game as hy laat is. Dan moet ons daar sit soos uile op kluite en wag vir die sir om op te daag.

Sien Ouma volgende week.

Bertus

Ns: Sal Ouma asseblief weer vir my van daai Oats koekies bak? My koekblikke is maar leeg en Ouma weet dat daai ‘Ouma beskuit’ tog nooit soos Ouma se koekies kan proe nie.

9 antwoorde op Hallo Ouma!

  1. lora2me het gesê op Mei 31, 2011

    Verskuilde agenda’s…;D…ha-ha, koekies. Baie lekker gelees, hier by jou, Maryke.

  2. TS het gesê op Mei 31, 2011

    ek lees lekker by jou

  3. 🙂
    die sprong van skryfblokke tot rekenaarskerms is ongelooflik

  4. Modigliani het gesê op Junie 1, 2011

    Ek geniet regtig hierdie briefies 🙂

  5. maryke-anne het gesê op Junie 1, 2011

    Dankie Lora

  6. maryke-anne het gesê op Junie 1, 2011

    Ek’s bly Tina.

  7. maryke-anne het gesê op Junie 1, 2011

    Jy praat!

  8. maryke-anne het gesê op Junie 1, 2011

    Ek’s bly jy geniet dit.

  9. Ek-Myself het gesê op April 18, 2012

    Lekker gelees!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.