Goeie dag Lettie

Mei 31, 2011 in Sonder kategorie

Epos een kan hier gevind word.

Lettie Botha [[email protected]]

Sent: Wed 2011/04/06 13:30 PM

To:     [email protected]

Mens, dit was nou ‘n lekkerte om ‘n briefie van jou hier in my ‘inbox’ te kry! Jy moet jouself nie te veel kwel oor die kostes van Facebook en eposse nie. Hulle is werklik gratis, maar mens betaal vir die lugtyd. Ek het jou ook terstond by my vriendelys gaan voeg en daardie foto van jou met die geel blom in jou hoed is pragtig Lettie. Nou kan jy spog dat jy reeds vier vriende op jou vriendelys het!  Jy lyk darem goed vir jou jare.  Baie goeie gene geërf.  Ek het gans en al te veel tyd in die son spandeer in my jongdae en die plooie is die bewys daarvan.  Die Cold Cream kon nie die son se strale wen nie.

Jy moet tog versigtig wees vir die Ahmed karakter. My vermaning is nie omdat hy ‘n Indiër is nie, maar wel dat jy hom nie ken nie en dat jy nie jou besonderhede soos jou ID nommer en bankbesonderhede sommer goedsmoeds met hom kan deel nie. Daar is maar baie slinkse karakters oral. Maar soos jy sê, ons pensioen is maar skraps, die dat ek maar help met die administrasie van die ouetehuis vir ‘n ekstra geldjie. Vind tog maar eers uit by Bertus oor die Ahmed karakter voor jy jou fotostate aanstuur.

Ek het nou vir die dertiende keer ouma geword. Ek is so bly vir die kinders en ons Vermaaks het nou ‘n goeie bydrae gemaak tot die Afrikanervolk.

Ek onthou ons kinderdae soos gister Lettie. Ons briefies en giggel oor die seuns. Ek verlang baie keer terug na daardie tyd toe ons so sorgeloos was. Nou is ons grootste bekommernis dat ons ons pensioen sal oorleef! Gelukkig het ons makelaar ons geldjies veilig belê in Propertyshare. Ons ontvang elke maand getrou ons tjekkie in die pos. Ek het al vir Japie gesê hy moet laat hulle dit met die internet oorbetaal, maar hy hou voet by stuk dat hy nie sy geld in die lug wil laat sweef nie. Hy voel dit is nie veilig nie. Die mansmense kan so hardkoppig wees! Soms beny ek jou wat nie ‘n man in die huis het nie. Jy moet maar ligloop vir Stefaans ook. Ek sien baie ou mans hier wat nesskrop by die tannies net omdat hulle iemand soek om skottelgoed en wasgoed te was en hulle kouse te stop. Mos gans en al te suining om nuwe sokkies te koop!

Ek het so uitgesien na my en Japie se aftrede. Gedink ek en hy sal lekker gesels, lees, saamkuier en ons land gaan verken. Maar die stomme man kan nou eenmaal nie ‘n boek in die hand vat en homself besig hou nie en sy vuis bly maar vasgeklem om die beursie. Elke sent moet tien keer omgedraai word voor hy dit spandeer met ‘n trek van misnoeë op sy gesig. Die dat ek maar uit die huis vlug met die werkie van my, anders sal hy my teen die mure uitdryf met sy alewige gepruttel oor pyne hier en skete daar! Hy tree partykeer ook heeltemal vreemd op. Vra aanhoudend dieselfde vrae en deesdae moet alles op ‘n lysie geskryf word. Asof ek die tyd het om dit te doen! Ek dink hy het te veel tyd op hande maar weier om deel te neem aan enige iets hier by die ouetehuis.

Lyk my die mans bly ook maar seuns. Wat vertel jy my van ‘n ‘poke’? Lyk my tye sal ook nooit verander nie. Altyd net die een ding op die brein. Wees maar versigtig, mens wil tog nie op mens se ou dag mens se naam beswadder nie.

Ek het ook by die twitter plekkie ingeloer maar ek verstaan nie aldag daai taal van hulle nie. Jy onthou vir Sara, my oudste dogter? Sy kla steen en been oor die kinders van vandag wat so vreemd skryf. Haar dogter, Santjie, het nou die dag vir my ‘n sms gestuur. ‘Alo ouma. Hu gaanit? Mt m gn dit gud. Ga nu dux. Luv u. Mwah.’ Dit het my ‘n halfuur gekos om dit te ontsyfer! Ons ouers sou nie sulke spelling geduld het nie! Onthou jy ons speltoetse en in die middae hoe ons die woorde tien keer in ons spelreëls boeke moes oorskryf? Tye het baie verander. Ek sukkel om by te bly!

Laat weet tog spoedig weer van jou.

SWAK

Netta

6 antwoorde op Goeie dag Lettie

  1. raymond 2009 het gesê op Mei 31, 2011

    “Like” Lekker humor.

  2. loudavisi het gesê op Mei 31, 2011

    Netta gee goeie raad.

    😀

  3. TS het gesê op Mei 31, 2011

    grinnik – hoe slim kan een mens nou wees?

  4. Modigliani het gesê op Mei 31, 2011

    Ek hou van die twee tannies se briefies.
    Dit sit ‘n warm glimlag op my gesig en in my hart.
    Lekker dag vir jou Maryke.

  5. lora2me het gesê op Mei 31, 2011

    Dierbare Netta! Ag, en die geldjies is in Propertyshare…-max of so iets. Shame, man, hoe kan hulle dit aan hulself doen?

  6. HeavyHenry het gesê op Mei 31, 2011

    🙂

Los ’n antwoord vir raymond 2009. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.