Vervolgverhaal Deel 2/10

Mei 30, 2011 in Sonder kategorie

Dit was ‘n donker stormagtige nag. Die bome in die woud het gekraak en gekreun onder die aanslag van die stormwind.

Om elke donker hoek van die ou murasie het die wind gehuil soos ‘n honderd verlore siele. Midde in die storm het ‘n deurnat gestalte staan en kyk na die ou murasie…

 

Die enigste drie mure wat nog staande was het geen skuiling gebied teen die storm nie. Met ’n diep gemoedssug het die man nader gestap aan die agterste muur waar die ou denneboom se wortels al vir jare deur die vloere gestoot het. Rus, dit is al wat ek nou wil doen, het hy by homself gedink terwyl hy steeds agterdogtig om hom rondkyk. Sy oë was reeds lankal gewoond aan die donker, tog het elke skaduwee, elke krakende tak hom onrustig gestel. Met sy rug teen die boom kon die snerpende wind hom darem nie heeltemal bykom nie en hy het die swaer leersak nadergetrek. Uit een van die kantsakkies het hy ’n foto gevis, sy hand daaroor gehou om dit te beskerm van die reën en in die donker die gelaatstrekke probeer raaksien. Hoekom hy nou juis na die foto moes kyk weet g’n mens, daardie gesig was verewig in sy geheue.

 

Uiteindelik het die storm begin bedaar, en saam met die sagte rammeling van die donderweer, nou kilometers weg het hy uiteindelik ingesluimer. ’n Onrustige, droomlose slaap het gevolg, maar kort voor lank het die koue en ongemak hom uit sy sluimer geforseer. Nou toe. Aanhou. Aanhou. Nie opgee nie.   Hy het sy sak weer oor sy rug gegooi, sy deurnat baadjie stywer om hom gevou en verder begin stap. Dit was steeds pikswartnag donker en hy kon geen ander teken van lewe sien nie. Doelgerig het hy na die Weste begin stap. Tyd was nie meer aan sy kant nie, die gebeure van die vorige twee dae het sy spoed heeltemal gebreuk. Hy moes van beter geweet het, maar die duiwel het ’n manier om mens se fyn beplanning deurmekaar te krap.

 

Die gebeure het soos ’n ou film in wit en swart deur sy gedagtes gedraai, herhaaldelik, oor en oor, asof die oomblikke hulleself wou verewig in sy geheue. Hy skrik toe hy besef hy het by ’n teerpad aangekom. Die metaforiese skeiding in paaie. Die teerpad sal hom vinniger by sy bestemming kry, maar die ongebruikte grond paadjie sal verseker dat hy nie gewaar word nie. Hy onthou in sy ouma se huis was daar ’n prent teen die muur, die maklike pad lei na die hel en die moeilike pad na die hemel. Die simboliek daaragter was vir hom altyd meer treffend, hy het niks gevoel vir die “eindbestemming“ nie, dit was die reis wat belangrik was. En hier, nou, staan hy voor daardie keuse. Die bestemming is dieselfde, maar die pad wat hy kies, wel, die pad sal beslis ’n invloed hê op hoe die toekoms daarvan gaan uitsien. Sy besluit is geneem en hy vat die……….

Grondpad. 

Hy was nog nooit ‘n man wat die maklike uitweg kies nie en hy is nie van plan om dit vandag te begin doen nie.  Buitendien is hy nie lus vir vraende kyke en nuuskierige vrae indien hy opgelaai word as hy die teerpad vat nie.  Hy wil, nee, hy moet alleen wees.  Alleen, afgesonderd en verwyderd sodat hy sy volgende stappe kan beplan.

Ag Here, dink hy, hoekom het U die mens keuses gegee?  Kon U nie dink dat ons, met ons brose ego’s en eiewaan, nooit die regte besluite sou kon neem nie?

In sy geestesoog sien hy hoe mense hom koggellag wanneer hulle uitvind van sy onbesonne daad.  Hy sien die koerantopskrifte, sien Riaan Cruywagen se afkeur wat pluk aan sy mondhoeke terwyl hy sy skandes vir die wêreld oopvlek.  Hy weet dat hy nie vir ewig sal kan wegkruip nie.  Hy weet dat hy een of ander tyd die gevolge van sy daad sal moet verduur … maar nie vandag nie.

Die reën begin bedaar en plek-plek maak die wolke oop sodat die oggend son kan deurbreek.  Hy voel verlig.  Dis asof die son vir hom ‘n teken van hoop inhou maar hy weet dit is valse hoop.

Van vêr af sien hy die rokie draai.  Nog net een bultjie, dink hy, dan kan ek rus.  

Hy staan besluiteloos voor die lamlendige tuinhekkie van die draadlose heining wat die stoftuin omhein.  Al kleur wat hy sien is die geel Checkers sakke wat rusteloos deur die wind rondgepluk word.  Dan hoor hy dit.  

“Kom oubaas se honne.  Dis tyd vir ontbyt.  Kom, kom …” raak die stem stil toe die man om die hoek van sy eenvertrek huis verskyn.

Hy kyk hom skuinskop met skrefiesoë aan.  Met al die plooie op die man se gesig kan hy nie uitmaak of die oë vriendelik of vyandig is nie.  Hy sit sy hand op die tuinhekkie.

“Nie ‘n tree verder nie Boet,” sê die man terwyl hy nader stap.  “Wat soek jy hier?  Hoe het jy my gekry?”

“Ek soek net koffie dan sal ek weer oppad wees.”

Die hond aan die man se sy begin knor.

“As jy nie vir my sê wie jy is en wat jy soek nie, sit ek die hond op jou.”

Hy staan besluiteloos.  Sal hy sy identiteit weggee of …

Ek tag vir Maankind!




3 antwoorde op Vervolgverhaal Deel 2/10

  1. Modigliani het gesê op Mei 30, 2011

    Lekker!!!
    Nou om te sien wat MaanKind vir ons optower….

  2. mdoepie het gesê op Mei 30, 2011

    Great !!

  3. pasella het gesê op Mei 30, 2011

    Die intrige verdiep!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.