Jy blaai in die argief vir 2011 April.

Om te sê my hart is gebreek …

April 26, 2011 in Sonder kategorie

is sekerlik die ‘understatement’ van die jaar.

Maar ek gaan nie kla en sanik vanaand nie, ek gaan net die stilte hier op die blogs inasem en lees en lees totdat my oë nie verder kan nie.  Want op die einde van die dag is daar eenvoudig niks wat ek kan verander aan ander mense se keuses en oortuigings nie.

Ons het Saterdagaand ‘n heerlike speletjies aand gehad en 30 seconds was die aangewese speletjie om eerste gespeel te word.  Maar ons ou mense se breins het mos iewers verroes en daarom het Lifiki toe vir die deelnemers ‘n paar vragies opgestel. 

So ontdek ons dat ‘n kar met ‘n mooi uitspraak ‘n Hyundai Accent is en dat ‘n kar wat in die nag sprankel ‘n Chevy Spark is.  Ons het ook geleer dat as jy ‘n rokkie aftrek, haartjies wegvee, voorberei en dan lekker eet ‘n mielie is, dat seep wat verband hou met ‘n sjokolade stafie, Protex heet en dat Blatjang en brandewyn wel ‘n verbintenis het.  

Wie van julle hou speletjiesaande en wat is julle gunsteling speletjie?

From the Credit bureau … au … eish

April 14, 2011 in Sonder kategorie

Met die nuwe kredietwet is dit natuurlik onwettig vir enige plek om jou te skakel en bemarking te doen indien hulle nie skriftelike toestemming van jou ontvang het nie.  (Onthou dit volgende keer as die twee handjies, die anker, die ontdekker en die bevryder jou skakel en een of ander produkkie aan jou probeer afsmeer.  Hulle probeer punte score, maar hulle mag nie.)

Iederwel, nou die dag kry ek ‘n oproep van ‘n winkel, daai een met die duur kos wat op ‘n stadium nie meer Christelike Tydskrifte wou aanhou nie en die gesprek verloop so:

Ek:  Halloooooo? (Let op die vraagteken want dit was ‘n ‘private number’)

Eishie:  Good day, can (nie ‘may’ nie, asof sy nou nie toestemming nodig het om met my te praat nie) I speak to miss so and so.

Ek:  (Klaar geirriteerd want in die eerste plek is ek nie ‘n mis nie en sy gebruik nog my chromosoom se van) Speaking.

Eishie: Oh, how are you miss so and so?

Ek:  Fine thank you, and you? (Ek is mos maar oordentlik)

Eishie: Very well, thank you for asking.  Miss so and so, I’m calling from so and so and I would like to know if you would like a loan.

Ek: No, I don’t want a loan.

Eishie: Oh but we offer …

Ek: I don’t want a loan and where did you get my number?

Eishie: At the Credit Bureau …

Is dit nou nie baie strange nie?  Kry my nommer by die krediet buro en skakel my om te hoor of ek ‘n lening wil hê!

Ek het probeer nê …

April 13, 2011 in Sonder kategorie

Vanoggend spring ek soos ‘n Vink uit die bed (wonder of hulle spring, maar dis hoe ek gevoel het – vernuwe en weer lus vir die lewe – en dit moet uiteraard gevier word met heerlike boerekos), trippel na die vrieskas, pluk skaapvleis uit wat deur die ys nogals lyk soos iets wat gekook moet word, plaas (gooi) in die pot met watertjies, uie ens, die gewone. Sit die plaat op skugter hitte, want dit moet nie verbrand nie en gaan toe maar aan met die daaglikse goed.

Netnou kom ek in die kombuis en wat sal ek sien, dit was nie kookvleis nie, maar heerlike skaaptjops.  Nie daai wat soos T-bones gone wrong lyk nie, die rondes.  Daai lekker groottes met die ronde beentjie in die middel met die murg.  Daai wat so lekker braai. 

Maar ek was mos nog nooit bang nie en ek weet as vleisies gekook is gaan jy mos nie meer weet of was dit prime tjops of was die kook nie.  Nou het ek hulle in die oond met ‘n heerlike tamatie en uie smoor en Lifiki se gunsteling – stampmielies – is ook in wording.

Wat eet julle vanaand?

30 Sekondes

April 9, 2011 in Sonder kategorie

As die wind waai, dan worry ek nie meer nie.

O my hara, dis rooi soos skarlaken.

Die lewe is ‘n total waste of emotional energy!

April 8, 2011 in Sonder kategorie

Jitte, wat ‘n week!  Nooit gedink ek sal dit eers oorleef nie, maar hier is ek steeds, volrond, gesond en steeds broos om die kiewe.

Die winter het nou so ‘n klein bytjie gegee net om ons te herhinder om die warmkomberse, verhitters en slippers uit te haal en af te stof.  Ek sien nie uit na die ou grou tyd in die jaar nie.  In fact ek sien nie veel uit na enige iets nie.

Ek weet ek praat hier ‘n lot nonsens, so hou verby as dit nie sin maak nie, want dit maak nie eers sin vir my nie.

Ek wonder altyd hoe dit moontlik is dat iemand vir wie jy lief is – en moenie sommer afleidings maak nie, ek en Lifiki is fine, dit gaan nie oor hom nie – jou hart so kan breek dat jy voel asof jy kan skree en skree en skree totdat jy nie meer krag en stem oorhet nie?  Hoe is dit moontlik dat jy so ‘n fisiese pyn kan hê wat geen pil kan wegvat nie?  Hoe is dit moontlik dat jy kan aangaan met ‘n dag se dinge terwyl die trane loop sonder dat jou skouers eers ruk van snikke?  Hoe is dit moontlik dat een dag in die volgende vloei en jy kan geen verantwoording doen vir die tyd nie?  Hoe is dit moontlik dat mens iemand so kan haat agv wat hulle aan jou kind gedoen het dat jy begin planne beraam om die persoon van die aarde af te vee?  Hoe is dit moontlik dat jy ‘n persoonlike verandering kan ondergaan en heeltemal buite jou verwysingsraamwerk sal optree ter wille van?

Die vraag moet seker nie wees – Hoe is dit moontlik? nie.  Die vraag moet eerder wees – Hoe keer jy terug na normaliteit?  Hoe keer jy die tyd, gedagtes en verwensing terug sodat jy op die einde van die dag verantwoording kan doen en weet ‘ek is okay’.  Ek het nie moord gepleeg of iemand vermink nie. 

Ek weet dit sal seker eendag gebeur, dis tog oor en oor bewys, maar hoe lank gaan dit vat?

Ek weet daar is ouers wat verpletter voel wanneer hulle kinders opgee op hulle ouers se drome.  Maar wat noem jy die gevoel as jou kind opgee op sy eie drome.  Sy drome onder die mat invee ter wille van iemand wat dit nooit werd sal wees nie? 

Ag fok, laat ek maar net aangaan met my dag.  Miskien is dit beter so.

Ek en my seun het jou gebed nodig.

April 5, 2011 in Sonder kategorie

Daar is krag in gebed. Al weet jy nie waaroor dit gaan nie. Bid asseblief vir my en my seun Tjaart so lank as wat jy kan. Ons het die kragtige werking van God nodig in ons lewens. Klein skiet gebedjies, groot gebedskring gebede, jou binnekamer gebed. Elke gebed gaan help. Baie dankie!

In duisend klein stukkies

April 4, 2011 in Sonder kategorie

Hulle sê (het nog altyd gewonder wie die ‘hulle’ is) dat mens nooit bo jou vermoë gelouter of getoets sal word nie.  Ek wonder net partykeer wie daardie ‘vermoë’ vasstel?

Kom daar ooit ‘n punt in jou lewe waar die bootjie waarop jy ronddobber die stille waters vind en vreedsaam voortvloei?  Of is die lewe ‘n konstante rivier vol maalkolke waar, as jy uit die een ontsnap, jy in die volgende een land en verswelg gaan word as jy nie gaan swem, al is jou arms lam en jou hart nie meer daar nie?

Iewers in my lewe was een van my sondes so erg dat ek seker die res van my lewe gestraf gaan word en seker is dit nou tyd dat ek dit aanvaar en hierdie maalkolk veg met die laaste bietjie krag wat ek in my oor het.

Jy het jou naels ingeslaan waar hulle nie hoort.

Hom verlei, versoek en omgedop.

Jy giggel en lag vir my in jou mou

terwyl ek desperaat teen jou prikkels skop.

Howaardig spreek jy my aan

my foute in woorde voor my afgespeel

Terwyl jy dit wat dierbaar is vir my

met ‘n grynslag van my steel.

Jou woorde lispel tandloos oor my grein

Geveinsde onskuld jou enigste verweer.

Jou vlees en bloed verkoop jy

vir geldelike gewin.

Terwyl jy my oor en oor maan

dat ek oor my tekorte besin.

Doelgerig het jy inbeweeg

met soete woorde ingedruis.

Maar my belofte aan jou

Ons swaarde het nog nie klaar gekruis.