Om op gister se paaie te loop …
Januarie 31, 2011 in Sonder kategorie
Maankind het mos nou al die voorsate se kiekies gewys en toe dink ek ook terug, maar darem nie so vêr nie π
Maar vandag wil ek vir julle vertel van my Ma. Kyk, sy was nie jou Top Chef nie, en sou sekerlik nie by die Vroue Landbou Unie ‘n prys vir ‘presies ingelegde perskes’ of ‘die perfekte skakering van rooi pruimkonfyt’ gekry het nie, maar ek wil jou verseker, haar ingelegde goedjies se smaak hoef vir niks en niemand teruggestaan het nie. Sy het geweet hoe om perskekonfyt te maak met sulke skyfies perskes en ‘n dik soet stroop en appelkooskonfyt wat net reg afgegaan het met ‘n stuk tuisgebakte brood en opregte regte botter. Nie die marge wat ons vandag koop wat blykbaar een molekule verwyder is van plastiek nie. En dan wil ek nie eens praat van daai goed wat sy gemaak het van Waatlemoenskille nie. Watertandlekker!
Sy kon ook ‘n ‘mean’ Kerrie en rys maak. Dan moes ek of my sussies altyd ‘n bietjie Roosmaryn gaan pluk om in te gooi. Kerrie en rys is tot vandag toe nie regte egte Kerrie en rys as daar nie Roosmaryn in is nie. Daarom het ek ook een in my tuin, en as ek nou erg verlang, daan gaan vryf ek daardie blaartjies tussen my hande. Ek kan nou nie sê my ma se geur was in Roosmaryn nie, want dit sou nie waar gewees het nie. Dis net daardie onthou van die pluk van die roosmaryn en haar hande wat dit opgekap en in die pot gegooi het.
Maar daar is ‘n ander ding wat my Ma gemaak het wat ek nog nêrens kon opspoor nie. Nie by die beste braai, ons familie samekomste, my eie kombuis of restaurant nie. En dit is haar Aartappelslaai. My mond water nou hier waar ek sit. Sy’t ‘n spesiale manier gehad om dit te maak. Alles in lagies en dan moet dit een dag en ‘n nag in die yskas staan sodat die geure so inmekaar in wriemel en ons – môre – soos smulpape om die bak kan hang.
Maar daar is ook ‘n ander klein tradisie gekoppel aan hierdie Aartappelslaai van my Ma. Een van my broers eet mos nie uie nie. So, my Ma het altyd die GROOT bak slaai gemaak met uie en langsaan op die tafel, het my broer se bakkie slaai – groot genoeg vir seconds ook – gestaan, sonder die uie. Ek het altyd skelmpies aan syne geproe net om te proe of dit darem lekker is. En dit was!! Net so lekker soos die groot bak slaai.
Ek is tot vandag toe oortuig dat haar geheime bestandeel vir haar Aartappel slaai – opregte moeder liefde was. Daarom dat altwee bakke slaai ewe lekker was.
Onlangse kommentare