Vlinders op my maag.
November 30, 2010 in Sonder kategorie
Ja, ek staan op die vooraand van weereens ‘n groot gebeurtenis in my lewe. Later vandag ry ons om jongste te gaan haal. Aan die een kant is ek so opgewonde soos ‘n graad een dogtertjie met haar eerste Barbie Pop, en aan die ander kant so senuweeagtig soos ‘n tienerseun voor sy eerste date!
Kan julle nou glo dat ‘n 43 jarige so senuweeagtig kan wees? Ons is mos veronderstel om mooi groot te wees. Dinge onder beheer te hê en uit te sien na nuwe uitdagings. Maar dis nie so maklik nie. Die toekoms bly maar ‘n scary ding maak nie saak watter ouderdom jy is nie.
Daar is altyd ‘n oproep wat die appelkar kan omgooi. Of ‘n brief wat mens se ekwilibrium kan versteur. Of die voordeurklokkie wat lui en jou lewe onherroeplik verander. Die toekoms is altyd gevul met ‘sê nou maar net’ en die velede met ‘dalk moes ek dit anders gedoen het’.
Maar wat ookal in die verlede gebeur het – goed of sleg, en wat ookal in die toekoms gaan gebeur – goed of sleg, ons stap maar ons paadjies, skop teen die prikkels, omarm dit en maak dit ons eie en ploeter voort met die vaste wete dat ons die regte ding doen alhoewel ons nooit kan weet wat die uitkoms en resultaat gaan wees nie.
Toe ek jonger was het ek gedink, iewers in die lewe kom mens op ‘n punt waar jy kan sê, “Nou weet ek alles en ek sal enige iets moeiteloos kan hanteer.” Maar ek het geleer die lewe is ‘n lewensskool. Jy leer elke dag. Nou en dan dop jy tog ‘n toets al het jy jare se lewenservaring. Jy bly bang, jy word nog opgewonde. Ek dink net die intensiteitsgraad verminder met die jare soos wat mens gemaklik raak in jou mondering.
Ek wens vir elke blogger vandag ‘n wonderlike ‘knock your socks off’ ervaring en mag die Here julle seën soos nog nooit tevore nie.
Ek gesels weer met die terugkomslag.
O JA – onthou julle nog my treurmare oor die matriekafskeid wat ek gemis het. Môre aand woon ek en Lifiki my jongste se matriekafskeid by. Ek gaan saam met hom sy matriekafskeid geniet. Ek dink dis way ‘cooler’ (as ek in Microsoft office getik het, sou ‘cool’ verander het in ‘ kief’ ) as om foto’s van buite te neem. En ek gaan nie my silwer bikini en pienk pantoffels dra nie. Nee, ek gaan vir my mooi optert met ‘n swart nommertjie om slanker te lyk en pikante skoentjies.
Geniet julle dag!
UNPOCO het gesê op November 30, 2010
Alles sal reg wees! Ons dink aan jou!
DeViL010 het gesê op November 30, 2010
Mag alles wonderlik verloop en die senuwees nie meer pla nie en gaan geniet die matriekafskeid ten volle. Jy is ‘n baie goeie mamma en jou kids weet dit, moenie worry nie.
TS het gesê op November 30, 2010
Hoop al jou wildste mooi verwagtinge word oortref
Gharki het gesê op November 30, 2010
Geniet die matriekafskeid. My gedagtes is by jou.xx
harpe het gesê op November 30, 2010
Dink aan jou… ek hoop alles werk uit soos dit moet! Geniet die afskeid!
loudavisi het gesê op November 30, 2010
Dis die opwinding wat jou so senuagtig maak.
Geniet elke rilling!
shlwanjan het gesê op November 30, 2010
Hoop dit het goed afgeloop!
(En geniet die matriekafskeid {-;)