Jy blaai in die argief vir 2010 Oktober.

Aanlyn Geldmaak Skemas

Oktober 31, 2010 in Sonder kategorie

Kyk, as daar nou ‘n R of ‘n $ in ‘n advertensie verskyn, dan gaan loer ek onmiddellik.  Ek soek mos alewig ‘n formule om geld te maak terwyl ek slaap 🙂

So navigeer ek vanoggend na myhomebiz se webtuiste.  Ag mense, elle lange storie en dit kos net R30 en jy kry ‘n website – presies soos die een waarop jy land en bla-bla-bla.  Dit is net ‘n glorified kettingkuberbriefskema.

Dan wonder ek by myself.  Is daar nog mense wat val vir die tipe goed?  Ek weet R30 is vir my ‘n pakkie sigarette (give or take a few rand) en ek kan dit seker daarvoor blaas, maar ek hou nie van die idee dat hulle probeer om my te verkul nie.  Kettingbriewe is mos nou nie ‘n besigheid nie.

Dan bring dit my tot ‘n ander punt.  Ek werk nou al ‘n paar maande aanlyn en het intussen my gewone inkomste verdubbel met wat ek doen.  Maar, dis harde werk.  Ure se werk.  Maar die betaling is goed.  Ek kry my geld en ek is happy met my bankbalans.

Toe besluit ek ek gaan ‘n kursus aanbied om mense te leer om presies te doen wat ek doen … reaksie?  Min na niks.

My gevolgtrekking … mense sal eerder bullshit probeer en hulle vingers verbrand want hulle kan ‘geld maak terwyl hulle slaap’ as wat hulle ‘n regmatige en bewese manier – wat werk insluit – sal probeer.

Dan sal hulle later huil oor die ‘valse geleentheid’ want hulle was eintlik greedy terwyl hulle hul tyd kon spandeer om regtig geld te maak.

Maak dit sin?

Die brein is darem ‘n snaakse ding …

Oktober 25, 2010 in Sonder kategorie

Julle het seker die iPod banier advertensie gesien en elke keer as ek die ding sien dan lees ek hom helemal verkeerd want die iPod is blou.

Gisteraand kyk ons Carte Blanche en die een deel wat my gefassineer het was die deel oor die speelwinkels vir dames.  Ek en Lifiki het heel aandagtig gesit en luister en toe hulle by die ‘bunny’ ding kom, dag ek ek maak ‘n grap en sê “Ek wil ‘n bunny hê.”

Lifiki het my so ‘n skewe kyk gegee en terwyl hy so met sy vingers aftel die volgende kwytgeraak.  “Dan sal ek afskuif na nommer 7 op jou lys.  Dis mos eers jou rekenaar, dan Lindie (my vriendin), dan die hond, die kat, die TV, dan die Bunny en as ek gelukkig is, sal ek volgende wees.”

Ek vermoed ek gaan nie ‘n ‘bunny’ kry nie …

En hier is ietsie om julle lagspiere te prikkel

http://www.facebook.com/video/video.php?v=1095581365241

Ja, vandag is my hart SEER!

Oktober 7, 2010 in Sonder kategorie

Dit is mos Matriekafskeid in ons geweste en ek kyk die foto’s deur in die koerant.

En daar, is die foto van die mannetjie wat deel was van my seun se verslawing.  Pragtig aangetrek met ‘n mooi meisie aan die sy en ‘n glimlag.  Geen bekommernis.

En skielik oorweldig ‘n verskriklike hartseer my, want dit kon my seun se foto gewees het!  Maar nee, my seun is in rehab. 

Hy is beroof van die opgewondenheid van die meisie vra, klere soek, foto’s, loop op die ramp, die uitroep van sy naam, die kuier en die afterparty.

Ek is beroof van om my kind te sien sy eerste tree gee na die grootmenswêreld met al die gepaardgaande ‘bells and whistles’.  Ek kon nie opgewonde voor ander ouers indruk om my seun en sy meisie te sien aankom in ‘n glans motor en ek kon nie hoor hoe almal handeklap en ‘oe en aaa’ oor die paartjie nie.  Ek kon hom nie vashou en sê “Ek is so trots op jou en geniet jou aand” nie.

Ja, ja ek weet ons het die regte ding gedoen.  Ek weet die besluit was reg want die resultate is goed.  Maar dit maak nie op vir die skielike leë gevoel waarmee ek sit vanoggend nie.