Jy blaai in die argief vir 2010 September.

Ek mis die dae toe ek …

September 28, 2010 in Sonder kategorie

ure hier kon spandeer en almal se doen en late bespreek.  Nou het ek net tyd om vinnig te lees.

Maar daar is goeie nuus ook.  Ek het toe nou intussen ouma geword van hierdie pragtige kleinding 🙂

Ek kan nie wag om haar te begin bederf nie en sien al klaar uit na ons eerste ‘shoe shopping spree!’

Kyk die ou oortjies, neusie en cute bekkie.  En sy lyk alte sexy in haar rooi outfit!

Die varke was to nie so groot nie …

September 22, 2010 in Sonder kategorie

So sit ek toe mos af na die gewraakte huis!  Alles lyk heel aangenaam en selfs die vier honde wat my welkom blaf lyk nie te onaardig nie.  Wel ‘n mengelmoes van kleure en geure, maar aanvaarbaar.  Twee van hulle vat die pad plaas toe die naweek.

Binne die huis soek ek die katte en weliswaar daar is vier volgroeides en vier kleintjies wat binnekort ander huise gaan kry.

Maar die varke(ies).  Ag jinne ma … die oulikste twee klein potbelly varkies wat heel oilik oink-oink as jy so liggies oor die koppies vryf.  En hulle is oppad na een of ander plaas die naweek.

Ek vermoed ek kan nou die asynlappie van my voorkop afhaal.

ALWEER … huurders :-(

September 21, 2010 in Sonder kategorie

Nee kyk, ‘n huurder is nou wragtag ‘n spesie op sy eie … okay nou nie almal nie, maar baie van hulle!

Die naweek verhuur ek ‘n huis aan ‘n besigheidman hier ter plaatse.  Ek vra pertinent – hoeveel troeteldiere?

“Ag,” antwoord hy my. “Twee klein hondjies en ‘n kat.”

Baie verlig skryf ek dit in die huurkontrak … maar o wee!

Die eienaar besluit op ‘n verrasingsbesoek en skakel my vanmiddag.

Het hy vir my te vertelle dat die mense niks minder as vier honde, agt katte en twee *&$*%&$)%& varke!!! op die erf het nie.

*$*%&$#&% en nogmaals *%&#$%&$# en nog ‘n keer *#%&$*%&!!!!

Nou wonder ek … is die mense vertraag, domonnosel of wat?  Hoe de moses hou jy soveel troeteldiere in die dorp aan?  Dit is mos verregaande.

Verskoon my ek gaan ‘n lafenissie soek en met ‘n asynlappie op die voorkop bietjie lê.  My swak hart sal dit nooit as te nimmer hou nie!

Laat ek net vir ‘n wyle hier vertoef …

September 20, 2010 in Sonder kategorie

Jitte, maar ek was lanklaas hier, voel skoon vreemd en hier diep binne my is ‘n klein sprankie hoop dat julle my wel mis.

Wat kan ek sê?  Werk hou my besig, maar moenie dink ek lees nie hier nie.  Ek hou vir julle dop 🙂

Een van die dae word my tweede kleinkind gebore … ja, ek sien uit!  Ek is nie meer gepla oor die ouma ding nie, dis eintlik nogals op ‘n manier … ag … wat is die woord … cute!  Dit gaan ‘n dogtertjie wees so ek sien skoene shopping sprees en kleinkind wat in ouma se make-up grawe, groot rooi lippe so skeef aangestiffie en sulke blou eyeshadow what vir tant Stienie goed sal laat lyk.

Wat is nou mooier as ‘n nuwe lewe?  ‘n Sagte bondeltjie liefde wat so onvoorwaardelik lief kan hê?  Daar is sekerlik nie iets beter as dit nie.

Daar’s niks nuuts in my lewe nie behalwe dat my jongste se ballingskap einde se kant toe staan en ek kan nie wag om die mannetjie hier by my te hê nie.  As ek so oor die foon met hom gesels kan ek my verluister aan sy skielike diep stem, sy insig en die totale metamorfose wat hy ondergaan het.

Ons het laas Saterdag my ma se as in die nussie (nissie) gesit en toe ons so in ‘n kring staan en bid, toe waai daar die allerlieflikste rosegeur oor ons.  Ek weet sy’s okay daar waar sy is.  Ek dink sy kou elke dag Wicky Wax chappies en blaas sulke groot pienk borrels.  En ek dink daar is so ‘n wit vleuelklavier wat sy uitbundig speel … nie so saggies, saggies en skelmpies in die huis waar sy gedink het niemand hoor haar nie.  Ja, ek dink sy is happy.

En ek?  Ek is ook happy.  Want die lewe is goed …

Ai, ai, ai ….

September 7, 2010 in Sonder kategorie

Ja, ek weet julle wil al weghardloop as ek my treurmares aanhef oor huurders maar vandag is my hart baie seer.

Een van my goeie huurders het geld belê in Sharemax en dit blyk asof hulle nie hulle geld of rente gaan sien nie.  Is dit waar?

Ek moes die arme vrou kennis gee om te trek want die eienaar wil nie die kans vat om haar ‘n maand kans te gee nie.

Hoe vee mens nou die trane af van ‘n weduwee wat haar ma en dogter moet versorg.  Watter woorde kan die seer wegvat?

Ek wens so ek was instaat om haar te help 🙁

Het iemand nie ‘n direkte lyn na die Lotto nie?????

Spesiaal vir my sus … 10 Maniere om NEE te sê!

September 2, 2010 in Sonder kategorie

Ek het julle al vertel van my sus(sie).  Sy is ‘n baie besige dame, kunstig, ekstrovert waar ek die introvert is, bok vir sports, dedicated ma en vele meer!

Maar sy laai altyd te veel hooi op haar vurk en ek beloof haar al jare ‘n lys van 50 maniere om nee te sê.  Ek het self ‘n bietjie baie hooi op my vurk daarom plaas ek vanaand net solank tien.

  1. Die maklikste een is NEE.  Mens sê hom as volg.  “Nee” en dan spel jy hom ‘en..ee..ee’ en dan sê jy weer ‘NEE!’ met ‘n dieper en oortuigender stem.
  2. Jammer, ek het ‘n afspraak met my sielkundige oor my fobie vir Ja sê.
  3. Ek is so bly jy’t my gebel!  Ek het juis gewonder wie ek kan nader om my te help met ….
  4. Van die laaste keer wat jy my gebel het, ek dink dit was ‘n jaar terug … (net om die persoon daarop te wys dat hy/sy net skakel as hy/sy jou nodig het) het ek my werk, huis, kar verloor en ek soek juis ‘n plekkie om te bly.
  5. Die ou gebruilike een … Ek moet my hare was
  6. Ek ly aan ‘n seldsame, hoogs aansteeklike siekte neësitis en die dokter het my onder kwarantyn geplaas.
  7. Wie’s jy nou weer?  Ek onthou jou nie …
  8. Maak of jy doof is.  “Askuus?”, “Ag sê net weer.” Luister aandagtig en laat die persoon die hele storie herhaal.  “Ag verskoon my laat ek net my oorfoontjie kry.” Dan sit jy die foon neer.
  9. Maak of jy op ‘n bedelaar by die tuinhekkie skree.  “Ek het nou al ‘n honderd keer vir jou gesê jy moet ophou om my te vra!”  En dan slaat jy so paar keer teen die muur sodat dit soos klappe klink.  “Gee pad hier!”  En dan sug jy liggies .. “Ek is jammer, jy wou vra?”
  10. As hierdie nie werk nie, probeer weer nommer een.

Lekker Vrydag vir almal!!