Jy blaai in die argief vir 2010 Augustus.

Jigsemur!

Augustus 29, 2010 in Sonder kategorie

Ja … so met die jare saam val allerande peste mens mos aan!  En my groot rinderpes is jig/gout/bursitis – noem dit wat jy wil, dit bly ‘n ellendige en pynvolle ervaring.

Nou die dag kuier my jongste sus hier en sy vertel ons van die produk wat mens by Fruit en Veg kan koop genaamd ‘Jigsemur’ en vanoggend besluit ons twee ons gaan dit beproef.

Blykbaar koop baie mense dit want ons het nog so met die bottel na die til toe aangestap gekom toe lui die tildame al die prys!

Vanoggend het Lifiki en my goeie vriendin elkeen ‘n sluk gevat en hulle gesigsuitdrukkings het boekdele gespreek.  In so ‘n mate dat ek half skrikkerig was om dit te drink … en eintlik is dit vir my gekoop.

Maar Lifiki roep my netnou kombuis toe en daar staan toe twee wynglase, elk met ‘n skeutjie ‘Jigsemur’ en vir hom ‘n glas bier en vir my ‘n glas Tab om die smaak af te was.

Julle, sleg se Mosessssss!!!  Daai goed is so bitter dit slaat eintlik vas agter in mens se keelgat.  Maar ek het hom gesluk en die glas Tab gedown … en twee ure later is daai smaak eers uit die mond.

Nou hoop ek net dat ‘bitter in die mond, maak gou gesond’, hier ter sprake gaan wees.  Want om daai goed te sluk en geen resultate te voel nie gaan ‘n bitter pil wees om te sluk!

Prost!!

Ag onthou julle … my treurmare oor Skouspel 2010?

Augustus 28, 2010 in Sonder kategorie

Kiss Ek trek my woorde terug!

Woensdag vra Lifiki vir my om tog die ou pakkie by die poskantoor te gaan haal want soos hy dit gestel het, “Ek is seker dis jou persentjie wat ek vir jou verjaarsdag bestel het wat nou eers hier aankom.”

En ek is nou nie skaam om the erken dat ek ‘n prezzie freak is nie!  Ek gaan mos nooit uit die huis nie maar Donderdag, toe staan ek gestewel en gespoor, hare geteaze, oogpoeder, lipsel en die werke voor die poskantoor se deur om die pakkie af te haal.  Vol verwagting en opgewondenheid!

Maar oooo wee!  Daardie pakkie kom van SARS, al Lifiki se papiere en goedjies Cry.  Nodeloos om te sê, ek was nie ingenome daarmee nie.  Maar ek skryf dit toe af as my ‘good deed for the day.’

Vanoggend is die meneer sommer al vroeg uit die huis.  Weereens is ek ongelukkig want tussen die mengelmoes van sy werk en my werk, mis ons mekaar te veel.  Ons is amper soos die twee skepe wat perongeluk in die nag ontmoet …

Ek skuifel maar toe agter my kompertjie in en begin werk.  Toe ek die garage deur hoor, toe ignoreer ek dit sommer want ek is mos ongelukkig.  Gewoonlik gaan wag ek vir hom by die deur …

Ai julle … slaat daai blinde sambok my so karwats oor my hart.

Ek tik nog so heerlik toe staan hy voor my met ‘n bordjie eetgoed en ‘n DVD in die hand.  Skaam glimlaggie op daai gesig wat ek so liefhet.

“Dis om op te maak vir jou teleurstelling Donderdag …”

Hy het so wraggies vir my die ‘Skouspel Plus’ DVD gekoop!!  “Great balls of fire!”  Ek het onmiddellik die ding op die draaitafel gegooi en met my bordjie eetgoedjies voor die kassie plaasgeneem.

Skouspel Plus was definitief die moeite werd.  Ek dink dit wat hulle op die kassie opdis is sommer simpel en …

Ek lief my Lifiki sommer nou skouspelagtig meer Cool

Om ‘n verhuringsagent te wees is op sy beste maar ….

Augustus 26, 2010 in Sonder kategorie

kakkies … soos Lewies se kakkies (as jy dit nog nie gelees het nie, gaan lees, jy sal jou agterstewe aflag)

So het ek vir ‘n lang ruk ‘n huis verhuur en toe my huurders uittrek, toe sukkel ek om ander huurders te kry en nodeloos om te sê, kry ‘n ander agent ‘n huurder en die kontrak is nie meer myne nie.

Ek was baie ongelukkig, maar in verhuring is daar nie iets soos lojaliteit nie.  Eienaars soek hulle geld en maak nie saak of jy goeie diens lewer of huurders streng keur nie, as jy nie ‘n huurder vinnig genoeg kry nie, dan gaan hulle na ‘n ander agent toe.

Dis maar hoe die lewe is.

Maar vandag op die voorblad van die koerant pryk ‘Drug den Busted’ met ‘n foto van die huis wat ek genadiglik nie meer verhuur nie.  Die huurders het ‘n dwelmfabriek in die huis gehad en ‘n straatwaarde van R6mil in dwelms is gevind.

Dit is sulke tye wat ek besef, mens moet partykeer net goed aanvaar soos dit gebeur, want ‘somewhere in the future, all will be revealed!’

Ek is dank die Vader bly ek is nie die agent wat daardie huurders in die huis gesit het nie!

Ag, vergun my die verleentheid … om ‘n klein, klein bietjie te brag!

Augustus 23, 2010 in Sonder kategorie

Ek het onlangs mos ‘Customized Business Pages’ op Facebook ontdek.

Die enetjie het ek vir ‘n ou skoolpêl van my gemaak.  Ons het mekaar per toeval daar ontdek en sommer vinnig lekker gesels.

Festa Events

Hierdie een het ek gemaak vir ‘n kontrak wat ek op oDeks gekry het. 

Ecert

En die een het ek sommer vir myself gebou

FOBS

Daar is nog, maar ek will julle nie verveel nie en ja, mens is nooit te oud om te leer nie!

En asseblief, ek adverteer nie, ek brag net ‘n bietjie.

Sondagaand iets

Augustus 23, 2010 in Sonder kategorie

Ek sien die mense baklei ‘n bietjie hier rond … miskien is dit net die mistroostige wind wat mense so onrustig maak.  Gelukkig is môre ‘n nuwe dag en dan kan al die onmin onder die mat gevee word …

So gepraat van onder die mat vee!

Toe ek mos die dag effe gatvol geraak het vir die chromosoom wat geglo het dat KFC in die hemel sit en dat wanneer mens bid, dan reën dit lekker gaar hoenders om te eet, het ek amper oornag besluit om ‘n einde aan ons huwelik te maak.

Ek het al die vorige week vir my en die seunskinders ‘n woonstel gereël en doodstil gebly tot die Maandag aangebreek het.  Toe almal hulle gange gegaan het, het ek my susters en vriendin opgekommandeer om my te help trek.  Julle, dit was ‘n konsternasie.  Niks was gepak nie. 

My ouer suster het elke vyf minute gevra, “Wil jy die hê?”

Ek het dan na die item in haar hand gekyk, gou gekalkuleer of die ding ‘n positiewe bydrae tot my lewe sou maak en dan geantwoord, “Los die [email protected]

Ons het die drie karre so op die voorste grasperk geparkeer en soos miere in en uit geloop met arms vol klere, beddegoed en breekgoed.  Alles moes vinnig gebeur. 

Maar die duiwel moet mos altyd sy ou stert kom swaai waar hy nie welkom is nie.  Ons was besig om die laaste goed sommer so in my kar se boot te gooi toe my skoonsuster in ‘n stofwolk daar aangejaag kom.  Te danke aan die bure …

Sy het my eenkant toe geroep en haar beste este preekstemmetjie uitgepluk en ‘n lang relaas aangehaal.  Op die einde van die preek vra sy my, “Hoe kan jy dertien jaar se huwelik sommer so onder die mat vee?”

Ek het haar lank aangekyk en saggies geantwoord, “Die ironie van die saak is, dat ek na dertien jaar van getroude lewe nie eers ‘n mat besit waaronder ek dit kan vee nie.”

So, my liewe blogvriende … leef jou lewe so dat jy ‘n mat kan hê waaronder jy al die stof en gaggies kan vee as jy die dag dit nodig kry.

Troufoto’s … ‘n ruk terug het iemand gevra ons moet dit opsit maar …

Augustus 13, 2010 in Sonder kategorie

myne was nie beskikbaar nie.

Maar hier is ‘n paar (net vandag gekry … dankie aan my pragtige sus wat dit geneem het)

Hierdie is Lifiki, ekke en ‘dial-a-dominee’

Hier doen ons die kersding

My Pa, en Ma (en toe tjank ek sommer nou oor haar foto) ekke en Lifiki

Ekke en die manne in my lewe

En hier is die Bruid en Bruidegom

Soos julle kan sien … alles lekker informeel.

Hier is ekke en my moederliefde, en twee stunning sussies.  Een van hulle is available …

En dis sommer ek

Julle moet lekker naweek hou!!

Partykeer is dit net nodig om vir ‘nou’ te leef!

Augustus 10, 2010 in Sonder kategorie

Ek lees nou Anha se blog oor die laatnagkuiery – wat vir my nie ‘n probleem is nie – en ook Katjiepiering se blog oor die dood van haar ouma … en die twee blogs sit my toe aan die dink.

Die lewe is soos ‘n vlug.  Party se vlugte is lang oorsese vlugte met oulike kelnerinne, lekker besoekplekke, nuwe ontdekkings en relatiewe rustigheid.  Ander sin is weer ‘n heen en weer vlug met daardie sweefvliegtuigies.  Indrukwekkend maar kort en vol adrenalien geleenthede.  Nou nie eintlik dat dit wat ek hier geskryf het, heeltemal sin maak nie …

Ek dink mens moet die lewe met altwee hande vasgryp en leef.  Mens moenie bekommer oor wat ander gaan dink of voel nie (en ek bedoel nou nie moedswillige seermaak handelinge nie) Jy moet doen wat jou gelukkig maak.  Mens leef net een keer.  Elke dag kan jou laaste dag wees.  Hoekom wag vir ander se goedkeuring?

So what as mens ‘n foutjie maak?  So what as die bure skinder?  So what as die familie dink jy’s die swarskaap met ‘n vals blêr?  So what …?

Wat werklik saakmaak is jou realiteit.  Dit waarmee jy saamleef, dit wat jy weet, kan leer, kan bemeester, kan ontdek kan leef …  dit strook dalk nie met ander se realiteit nie, maar dit is nie te sê dat joune verkeerd is nie.

So aan Anha – geniet jou kuiersessies.  Dis nou jou realiteit en dit wat jou gelukkig maak.

Vir Katjie – Jou ouma het ‘n vol lewe gehad.  Sterkte!

En … Ek het toe my hondjie gekry … vir die wat nie weet nie 🙂

My lessenaar

Augustus 3, 2010 in Sonder kategorie

Ek het maar eerder ‘n lessenaar foto’tjie van die internet gaan haal, maar dis hoe my lessenaar lyk.

Die foto kort net ‘n bord en asbak, dan is alles daar!

Hackers!!

Augustus 2, 2010 in Sonder kategorie

Ja, die bleddie goed bestaan!  Net soos ware seerowers vaar hulle die cyber see, kruis en dwars opsoek na plekke waar hulle amok kan saai!

Gister werk ek nog so rusting aan een van die sites, toe ek die volgende oomblik time-outs kry en toe ‘n epos dat my host provider ge-hack is.  En dat almal wat e-posse ontvang het, by hulle moet aansluit anders gaan hulle alles destroy en al ons info bekend gaan maak op een of ander pirate site!

Gelukkig is die host provider nie van hier nie, en die probleem is vinning opgelos.

Ek wonder net hoekom party mense se bestaan wentel om die adrenalien rush van ‘ek gaan iemand nou ‘n knou toedien’.  Waaraan kan mens dit toeskryf?

Soos Yollie Patrollie daar op Facebook (en ja ek is op haar friends list) wat so aangaan oor ander mense se lewens.  Elke dag ‘n ander angel!

Gisteraand op Carte Blanche, vaar een van die ministers uit oor die joernaliste en hoe dit hulle privaatheid aantas as die joernaliste sommer in’barge’ en ‘n lot vrae vra en foto’s neem ens.  Sy sê toe dat – in ander omstandighede – sou sy hulle skiet!  Want hulle optrede verskil nie veel van inbrekers nie.

Hoe ver mag jy jouself in iemand anders se lewe toelaat voor jy as ‘n hacker beskou sal word?  Is dit jou reg om iemand se privaat goed/informasie  te ‘steel’ en dan hulle daarmee af te dreig?

En hier dag ons ons het van Captain Hook en sy trawante ontslae geraak.  Maar … hy het net ‘n gedaante verwisseling ondergaan.  Nou se dae verskyn hy met trendy sonbrille, levis en ‘n designer aktetas!

Ek hoop dit gaan nog goed met almal 🙂