Jy blaai in die argief vir 2010 Junie.

Ek leef darem nog …

Junie 30, 2010 in Sonder kategorie

Vir die wat gewonder het “Waar is Maryke dan?  Ek mis haar so!”  Wees gerus, ek haal nog asem en ek loer kort-kort in om te sien dat julle julself soos betaamlike mense met edele inborste gedra.

Vir die wat ‘n sug van verligting geslaak het en gedink het, “Dankie tog sy’t van die Aardbol af verdwyn.”  Onthou net, onkruid vergaan nie maklik nie.  “Be scared ….. very, very scared.”

Beleef julle ook sulke tye wanneer die werk soos ‘n donderstorm op jy afblixem en jy nie weet of jy Arthur of Martha is nie?  Wel, dis my beurt nou.  Maar ek kla nie 🙂

Gisteraand toe ek in die bed klim toe kry ek hierdie gedagte … maar toe raak ek aan die slaap.

Hoop dit gaan goed met almal, ja, met jou ook 🙂

Oor aanneming …

Junie 24, 2010 in Sonder kategorie

Dit is skielik asof die hele wêreld nou behep is met aannemings (ag okay, dis net sewende laan) en toe dink ek, miskien moet ek so ‘n ietsie daaroor skryf.

Ek was agt maande oud toe my aanneemouers my aangeneem het.

In my rebelse tiener stadium toe ek gedink het dat alles en almal teen my was omdat ek aangeneem was, het ek besluit dat ek my Ma wou opspoor.  Ek het gedink sy sou my met ope arms ontvang, ek sou gelukkig gewees het en blah, blah, bladiblah!

Ek het haar nooit opgespoor nie!    

‘n Paar redes hoekom dit ‘n goeie ding is:

  1. Ek het wonderlike ouers gehad (hulle het hulle foute gehad, maar elke een van hulle kinders is goed aangepas en suksesvol)
  2. Ek het wonderlike broers en susters
  3. Ek is gelukkig
  4. Sy het geen impak op my lewe gehad nie en ek wil nie hê sy moet nou begin nie
  5. Ek weet nie wat ek gaan kry as ek haar opspoor nie – wees gelukkig en tevrede met wat jy ken as ongelukkig en ontevrede met die wat jy nie ken nie
  6. Ek wil nie my lewe ontwrig en emosionele bagasie tot my lewe voeg nie

Een rede hoekom dit nie ‘n goeie ding is nie:

  1. Ek het geen mediese geskiedenis nie – daar skuil dalk kranksinnigheid iewers en ek sal nie weet of dit my gaan tref nie … of dalk het dit al 🙂

Aanneming word vreeslik geromantiseer en gedramatiseer terwyl dit in werklikheid nie so ‘n aardskuddende gebeurtenis is nie.

Ja, die ma wat die kindjie opgee vir aanneming is hartseer.  Sy voel sy het ‘n groot deel van haarself verloor.   Sy worstel met die idee dat sy iets kosbaars ‘weggooi’. 

Maar … die lewe gaan aan.

Hoekom sê ek so?

Want ek het ook ‘n dogtertjie opgegee vir aanneming jare terug. 

Ek het deur al die emosies gegaan, selfverwyt, hartseer, depressie, rinkink om te vergeet, gehuil dat die trane drup op haar foto’tjies en gewens dinge kon anders wees.

Die hartseer fase het ‘n rukkie geduur.  Veral as mens mammas met babatjies sien, dan ruk jou hart en jy voel stukkend.

Maar, een oggend staan jy op en daardie gevoelens is weg en jou lewe gaan aan.  Jy werk, trou, kry kinders, skei, trou weer en voor jy jou oë uitvee, is 20 jaar verby.  Die gedagtes aan die kindjie ‘n vae skim.

Ja, ek dink aan haar op verjaarsdae, Moedersdag, Kersfees en wanneer daar iets op die TV is oor aannemings maar dis nie ‘n konstante gemis en verlange na haar nie.  (Al probeer die media die teendeel bewys)

Nou kan die leser teruggaan na die redes hoekom dit ‘n goeie ding is dat ek nie my biologiese ma opgespoor het nie, want presies dieselfde is dan op my dogter van toepassing.

  1. Sy het ‘n wonderlike familie wat vir haar omgee
  2. Sy is gelukkig
  3. Ek het geen impak op haar lewe gehad nie
  4. Sy weet nie wat sy gaan kry as sy my opspoor nie
  5. Sy wil nie haar lewe ontwrig hê nie

Wil ek hê sy moet my opspoor?  Ja!

Gaan dit my hart breek as sy my nie wil opspoor nie?  Nee!

Die eenvoudige feit is dat aanneemkinders eintlik die beste ‘deal’ kry en dat almal daarmee moet vrede maak.

Die aangenome kind moet aanvaar dat hy/sy ‘n kans gegun is om ‘n beter lewe te hê.  Die aangenome kind moet afsien van die idee dat hy/sy weggegooi was, want dit is nie waar nie.  Daar is ‘n besluit geneem om die baba te bevoordeel omdat die ma a.g.v. omstandighede NIE vir die baba kon sorg NIE!  Die aangenome kind moet besef dat dit juis oor onselfsugtige liefde gedoen is en nie oor hy/sy nie liefgehad was nie.

Die aanneemouers moet besef dat hulle ‘n geskenk gekry het wat met geen ander geskenk op aarde vergelyk kan word nie.  Maak die kindjie groot soos wat jy jou eie kind sou grootmaak.  Sorg dat die kind van vroeg in sy lewe weet dat hy aangeneem is.  Hou sy biologiese ma se kroon op haar kop.  Moet haar onder geen omstandighede sleg maak nie, want eendag, gaan daardie kind sy ma wil opspoor en die kanse is groot dat jy met eier op jou gesig gaan staan.  Onthou dat wanneer ‘n kind sy biologiese ouers wil opspoor, dit nie uit ondankbaarheid is nie.  Dit is meer ‘n gevoel van ‘ek wil weet’.

Die ma wat die baba opgee vir aanneming moet vrede maak met haar besluit.  Jy hoef nie jouself te vergewe nie, want jy het niks verkeerd gedoen nie, inteendeel!  Jy het iets goed gedoen.  Leef jou lewe sodat, as jou seun/dogter jou eendag wil opsoek, jy met trots voor hom/haar kan staan en nie jou kop in skaamte hoef te laat sak nie.

Choose a role model wisely!

Junie 23, 2010 in Sonder kategorie

Sorry vir die rooitaal, maar ek het nie tyd vir vertaal nie Embarassed

I promise you WILL laugh when you find your role model.  NO CHEATING. I was really surprised to find out who my role model was.

FIND OUT WHO TRULY IS YOUR ROLE MODEL.. DON’T SCROLL DOWN YET, DO THE SIMPLE MATHS BELOW, THEN SCROLL DOWN TO FIND YOUR HERO.

It’s CRAZY how accurate this is! No peeking!

1) Pick your favourite number between 1-9

2) Multiply by 3 then

3) Add 3

4) Then again Multiply by 3 (I’ll wait while you get the calculator….)

5) You’ll get a 2 or 3 digit number….

6) Add the digits together

Now Scroll down ……………..

With that number, see who your ROLE MODEL is from the list below:

                              

                              1. Einstein
                              
                               2. Oprah Winfrey
                              
                               3. Snoopy
                            
                               4. Bill Clinton
                             
                               5. Bill Gates

                               6. Gandhi

                               7. Ronald Reagan

                               8. Babe Ruth

                               9. Maryke van Rensburg

                             10. John F. Kennedy

I know, I know…. I just have that effect on people.

P.S. Stop picking different numbers!!  I AM YOUR IDOL, JUST DEAL WITH IT!!

Daardie oomblik …

Junie 22, 2010 in Sonder kategorie

Vanmiddag sit ek en Lifiki so om die eetkamertafel en konfereer.  Hy probeer om vir my een breinsel te verduidelik van Gross Profit en percentages ens.  Natuurlik het ek die hele draad van die gesprek verloor toe hy vir my kyk en so klein glimlaggie gee en dan aangaan met die gesprek.

Ek het my koppie geknik en alles be-aam terwyl ek hier in my kop dink … “Fok, ek is lief vir jou!”  Ek het gedink hoe spesiaal hy my kan laat voel as hy die dag lus het.  Gedink oor goedjies wat hy doen – soos om te sorg dat die gasbottel vol bly sodat ek nie koud kry nie.  Gedink oor hoe hy nie wil hê ek moet vinnig met die bakkie dorp toe ry want ‘dit is so onvroulik’ en dan ewe gedwee die kar vir my gaan uittrek sodat ek nie sukkel met die stram motorhuisdeure nie.

Ek’t gedink aan die kere wat hy sommer uit die bloute vir my vertel hoe gelukkig hy saam met my is.  In die nag as ek probeer uit die bed sluip want hy snork my ore blou, as hy sy arms so styf om my vou en vra dat ek nie moet loop nie.  Ag, toe dink ek sommer baie dinge.

Natuurlik het ek steeds nie ‘n clue van sy gross profit margin nie, maar who cares … Ek lief hom!  Dit is al wat tel.

Ek dink ek het dit finaal verloor!!!

Junie 22, 2010 in Sonder kategorie

Ek sit mos nie voor my rekenaar in die winter sonder ‘n kombersie nie en die kombers moet altyd van my bed afgehaal word.  So, loop ek kamer toe om die kombers te kry.  Ek sien die kat lekker opgekrul in die sonnetjie en die eerste gedagte wat deur my kop flits … “Moenie die kat wakker lawaai nie!”

Is dit nou ‘n teken van kênsgeit, leë nes sindroom of ‘n ‘over inflated sence of consideration?”

Ken julle ook hierdie feeling?

Junie 21, 2010 in Sonder kategorie

Ek ontdek vandag ‘n CD in my ‘vreeslike netjiese’ sitkamerkas.  Daar’s niks opgeskryf nie.  Of dit musiek is of een of ander ‘wonder software’ kon ek nie wis voor ek die CD hier in my PC laat ingly nie.

Groot was my verbasing toe dit vol die lekkerste luisterliedjies is.  En so luister ek nou amper die heel middag na een song.  Die song se naam “Ek kan droom van my sonskip”, blykbaar van JJ Stephens.  Ek het nie ‘n koekin clue wie die man is nie.  Jonk is hy nie, jy kan hoor hy het ‘n ‘mature’ stem. Wat ‘n nice ontdekking! 

Ek voel sommer my tone tik-tik op die lekker ‘beat’ hier binne my pienk pantoffeltjis en telkens, wanneer ek daai ‘volume’ draai dat die stiebeuel in my oorkanaal antwoord gee, dan wil my arms soos ‘n arend se vlerke maak en sprei.  Ek wil my oë toemaak en voel hoe ek sweef en die wêreld van bo kan beskou.  

En hier ontdek die song gesing deur Annelie van Rooyen http://officialmp3s.com/song/6302668-422666/anneli-van-rooyen-ek-kan-droom-van-my-sonskip-mp3-download/ 

Het jy ook ‘n liedjie waarmee jy kan sweef?

Maankind het geskryf oor …

Junie 21, 2010 in Sonder kategorie

‘n Paar sekondes wat so ‘n groot verskil kon maak (en toe is die post wheg! en ek wou vir haar gesê het, dat dit sommer mooi geskryf was!!!)

Samuhr het geskryf oor blogs wat mens moet inlig, vermaak en laat dink en toe dink ek … nou nie diep nie, want Maandae is nie my dag vir diep denke nie.  Maar ek het gedink … hoekom blog ek?  Hoekom is die blogs die eerste site wat ek oopmaak in die oggende wanneer ek nog nie eens behoorlik die slaap uit my oë gevee het nie?  Wat dryf my telkemale terug?

Eenvoudig:  Wanneer ek ‘n opkikkertjie nodig het, dan vind ek dit hier.  Wanneer ek herinner moet word dat ander se probleme baie keer erger is as myne, dan vind ek dit hier.  Wanneer ek my klaagliedere kan neerpen en weet iemand lees dit, dan vind ek dit hier.  Wanneer ek geselsskap soek, vind ek dit hier.  Wanneer ek ‘n ‘fight’ soek, vind ek dit hier. 

Hier is soveel mense met uiteenlopende persoonlikhede dat mens nimmer as te nooit verveeld kan raak!  Mens kan leer van ander, simpatiseer met ander, jy kan ander inspireer, jy kan ander roskam maar bowenal kan jy vriende maak.  Virtuele vriende wat jy nooit sou gehad het as dit nie vir blogs was nie.

Hier is mense wat my ‘amaze’ met hulle talente.  Verf, skryf, griffel, cartoons en foto’s.  Hier is mense wat my inspireer en mense wat vir my ‘n ander ‘angle’ op my lewe gee.  Alles, sonder dat ek my neus uit my voordeur hoef uit te steek! 

Ek vra nie meer hoekom ek blog nie, eerder … hoekom blog ek nie (op die dae wanneer woorde vassteek soos steekse donkies).  Ek vra nie meer of ek mense gaan ‘impress’ met my woorde nie, ek skryf sommer omdat dit lekker is en ek my gedagtes kan deel met die wat dit wil lees. 

So vir elkeen hier op blogland, daar is ‘n plekkie vir ieder en elk in my blogwêreld, want sonder jou, sou my blogwêreld nie so volmaak, opwindend en divers gewees het nie!

Oor die dag van môre!

Junie 18, 2010 in Sonder kategorie

Kerrie-en-rys!

Ek is versot op kerrie-en-rys, maar Lifiki is nie so mal daaroor nie.  So, as ek die dag besluit om dit te maak en dit is ten minste een keer per week, dan doen ek maar ekstra moeite.

Ek maak hom soos my liewe ma dit gemaak het.  Sy was nou nie ‘n sjef nie en as sy iets gemaak het, was dit chunky en sommer lekker so op ‘n ‘slap dasherige’ manier.  Die maalvleis is nie so fyn soos mens sou kry op die kerkbasaar nie en die groente ook nie so perfek in blokkies gesny nie, maar, haar kerrie-en-rys was so lekker, jy’t nie eers die blatjang, piesangs en klapper nodig gehad om die smaak op te kikker nie.

So verkring ek die uie, ontblik die pynappels, ontbottel die gherkins, skil en tjop die aartappels en slaat ‘n ‘mean’ kerrie-en-rys aanmekaar met roosmaryn, borrie,  ‘spice for mince’ en ander goedjies.  Dit kook en prut heerlik en ek kon sommer ruik dit gaan lekkerder as lekker wees!

Ek skep toe later op en ons twee smulpape val weg aan die kos.  Heerlik!

Snaaks, vanoggend toe ek vir my weer so ‘n skepseltjie (om die honger kolletjie in my brein te versadig) opwarm in die mikrogolf en hom daarna weer proe, toe smaak hy mos nog tien keer lekkerder as gisteraand!

Dis toe dat ek dink aan die sêding … ‘Goeie goed kom vir die wat wag!”

Gisteraand was hy lekker, maar vanoggend was hy lekkerder!

Ons is so geneig om vir die NOU te leef en ons hardloop, spartel en woel om die NOU te beleef.  Ons wil nie wag vir môre nie, ons wil nie wag vir oormôre nie en definitief nie tot volgende jaar nie.  Ons wil en moet alles NOU hê, come hell or high water!

Maar partykeer is dit beter om te wag, want dan is daai oorwinning dalk soeter, die sukses dalk groter, die erkenning dalk meer opreg, die jean pant in die winkel dalk goedkoper en die kerrie-en-rys … definitief lekkerder.

So nou gaan ek werk en nie my naweek vandag begin nie, want as hy môre begin, gaan hy beslis meer geniet kan word!

Wat kan mens nou sê?

Junie 17, 2010 in Sonder kategorie

Onthou julle (die wat kinders het) daai klein warm lyfies wat so vas teen jou gedruk was en die sopnat bekkies wat gesmeek het vir soentjies?  Onthou julle die : “Mammie ek lief vi jou” en die blommetjies wat kort onder die koppies afgepluk was?  Onthou julle die halwe bekers koffie wat plons-plons spoortjies in die gange gelos het en die hemelse glimlag as hulle dit ring-maak-nat op die bedkassie neergesit het?

So onthou ek dit toe ook skielik toe ek my seun se ‘status update’ op Facebook sien.  Ek vra toe heel onskuldig … wanneer kom jy vir jou mammie kuier?

Sal die mannetjie nie vir my vertel dat ek dit nie op Facebook mag sê nie! 

 

Toe onthou ek die, “Ag, ma!  Moenie my voor my maatjies soen en druk nie!” en die, “Ek is mos nou groot.” en die “Wag tot ek uit die huis uit is.”

 

Maar … gelukkig gaan hy kom kuier 🙂

Ek het ‘n sussie …

Junie 17, 2010 in Sonder kategorie

Ja, ek noem haar my sussie, want in my hart sal sy altyd my kleinste sus bly.  Maak nie saak hoe kwaai en voor op die wa sy is nie, sy sal altyd daai klein haasbek dingetjie wees wat ek kan onthou. 

Sy was ‘n regte laatlam.  Ek en ousus was in kleuterskool toe kleinsus gebore is en ek onthou nog hoe daai koppie by die geel bêrsie uitgesteek het, toe ek haar vir die eerste keer gesien het.

Sy het die wonderbaarlikste talente en sy is kunstig soos min.  Kleinsus kan ‘n huis omtower sodat dit lyk asof jy ‘n wonderwêreld instap.  Haar gesin kom altyd eerste – al moan sy partykeer omdat sy nie tyd vir haarself het nie – en sy sal uit haar pad gaan om daar te wees, maak nie saak wanneer en hoe hulle haar nodig het nie.

Ek verwonder my altyd aan haar geesdrif en oorspronklikheid waarmee sy dinge aanpak.  Haar positiewe ‘attitude’ is vir my ‘n inspirasie  … en ja ek weet sy gaan hier kom lees … en nee sussie – ek soek nie iets nie 🙂

Wat ek eintlik vir julle wil wys is hoe haar fyn humorsin weerspieël word in haar skeppings.

Hierdie is iets wat sy vandag gemaak het … ek dink ‘n paar vrouens sal wens om die ding vol te maak 🙂

Dis ‘n 55DDD!!!