Toe en nou.

Mei 27, 2010 in Sonder kategorie

Ons, altans ek, het grootgeword sonder ‘n selfoon en die gedagte aan ‘n foon sonder ‘n draad wat ingeprop is in die muur, het nooit eers by my opgekom nie.  Ek onthou nog daai fone met die ‘draai’ sleutels.  Ons het geweet hoe om die tiekieboks sin te fnuik sodat jy nie vir ‘n oproep hoef te betaal het nie.  Jy het ‘n pen gebruik en elke nommer wat jy gedraai het, weer vinnig terug na sy oorspronklike posisie geforseer en wonder bo wonder, lui die foon aan die ander kant sonder dat jy ‘n munt in die gleufie het. 

Ander kere het ons ‘n muntstuk gehad met ‘n geboorde gaatjie en ‘n garing.  As jy klaar gebel het, het jy bloot net weer die muntstuk uitgetrek.  Ek het tot nou toe nog nie ‘n manier uitgevind om ‘n selfoon te fnuik sodat mens nie hoef te betaal nie.

Ek onthou ook die oproepe wat gemaak is (as die forseer aksie en garing nie werk nie), waar die sentrale die nommer skakel en die ontvanger van die oproep vra of hy/sy die oproepkoste sal aanvaar.  As koshuiskinders het ons baie pret met daardie een gehad en het lekker gegiggel oor die opmerkings wat gemaak is.

Vandag se dae word daar links en regs ‘pcm’s’ gestuur en genadiglik kan jy nie hoor wat die persoon aan die ontvangkant daarvan dink nie.  As die wat vir my ‘pcm’s’ stuur my kan hoor, sal hulle ore tuit!

Dan oor die TV.  Die TV was beskou as iets direk van die hel!  Ons het gesmeek, gesoebat en gekerm vir een, maar my ouers het bly vasskop in hulle besluit dat daardie karakter ondermynende monster, nie ‘n plek in ons huis sou kry nie, maar, daar was ‘n toegewing.  Ons kon Dinsdae aande by die Venters, Haas Das se Nuus kas, Kraaines en nuus gaan kyk.   Gelukkig het tannie Venter altyd die lekkerste gebak gehad en hierdie aande was lank ‘n hoogtepunt in ons lewens. 

Einde ten laaste het my pa toe egter besluit dat die TV wel mag insluip en ons kinders het daardie Blaauwpunkt met ope arms ontvang.  Kort daarna het die Sony Betamax video masjien gevolg.  Ek onthou hoe ons ure moes sukkel om die ding ingestel te kry.  En dan praat ek nie eers van die hoeveelheid ‘tapes’ wat goedsmoeds opgeëet is deur hierdie masjien nie.  Die masjien was onversadigbaar.

Nou beweeg my gedagtes na die Sondagmiddag Top 40.  Ek dink dit was 40 maar ek is nie meer so seker nie.  Ons was vasgenael voor die die radio met ons vingers op die ‘record’ knoppie.  Dit was heeltemal onwettig, maar hoe keer jy nou tieners wat musiek wil hê maar die sakgeld is skraps?  Die omroepers het dit natuurlik geweet en ALTYD voor die liedjie heeltemal klaargespeel het, tot groot frustrasie van die opnemer, een of ander opmerking gemaak, maar ons het ons nie van stryk laat bring nie.  Ons het bloot die kasset ge’rewind’ tot op daardie punt en die volgende liedjie weer van daarvandaan opgeneem.

Die grootste uitvindsel daarna was die kassetspelers wat outomaties die kasset se ‘B’ kant gespeel het sonder dat jy die kasset self moes omdraai.  So het jy ure se speel genot gehad sonder die alewige ruil van die kasset. 

Maar daardie kassette het ook maar voos geraak veral as jy hom vir die tiende keer oor’tape’.  Dan het die liedjies so trekkerig begin klink en kort voor lank is jou hele ‘tape’ deur die kasset monster opgeslurp om nooit weer te speel nie.  Ek onthou hoe ek baie ‘tapes’ met naellak gespoeg en geplak het as die monster net ‘n klein happie gevat het.  Die liedjies het daarna ‘n bietjie vreemd geklink, maar al wat saak gemaak het, was dat jy musiek gehad het om na te luister.

Vandag laai mens die musiek sommer af op jou selfoon, rekenaar of iPod.  Ons gebruik nie meer ‘tapes’ wat kan trek en plate wat kan krap nie, maar daar is virusse wat sommer jou toestel se geheue kan opvreet!  Wanneer dit gebeur dan verlang ek sommer terug na daardie ou goed wat vandag, op ‘n vreemde manier, meer ‘solid’ voorkom. 

Die lewe beweeg teen so ‘n snelle pas dat mens partykeer sukkel om by te bly.  Winde van verandering waai daagliks en as jy nie IOL, 24news, Facebook en ander aanlyn goed lees nie, dan gebeur daar goed sonder dat jy eers weet.  Inligting is vlietend en ‘n belangrike brokkie nuus kan verlore gaan as jy jou oë vir ‘n sekonde te lank knip. 

Al hierdie dinge laat my dink en wonder of dit vir julle ook laat voel asof julle op ‘n mallemeule rit is?  Voel dit vir jou asof daar ‘n mal mens aan die stuur van die mallemeule is?   Wonder jy ook wanneer mens halt kan roep en ontsnap?

En dan dink ek … as ek as volwassene, wat al ‘n paar ‘coping skills’ aangeleer het, so voel, hoe voel ons kinders?

5 antwoorde op Toe en nou.

  1. louisna het gesê op Mei 27, 2010

    Pragtig Maryke. Het jy jou skuldig gemaak aan die gekruik van ‘n lang tiekie? Toemaar, dit was common practice.

  2. maryke-anne het gesê op Mei 27, 2010

    Ja jong. En ons het op baie geleenthede die koshuis se kombuis ge’raid’.

  3. louisna het gesê op Mei 27, 2010

    Ek was ook maar net mens

  4. ontsnap of afval…..

  5. Dis soos die Engelse sê: “Stop the world, I want to get off!”

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.