Vir Nefertiti – Oor ‘n spesiale juffrou

Mei 26, 2010 in Sonder kategorie

Ek dink nie ‘n onderwyser sal ooit werklik besef watter waarde hulle aan ‘n tiener se lewe toevoeg of, in party gevalle, wegneem nie.

Ek was besonders bevoorreg om Juffrou Augusta Fleck in my lewe te hê. 

Ek was nie ‘n gewillige skoolganger nie.  Ek kan tot vandag toe nie besluit of dit was omdat ons daardie aaklige klere moes dra of, omdat mens vir 50% van jou tyd in ‘n klaskamer moes sit nie.  Nie dat ek jou spreekwoordelike buitelug kind was nie.  Nee, ek wou lees en sing en ander goete doen.

Die lewe het maar ‘n manier om mens taai en skewe klappe te gee.  En ek het dit nie vrygespring nie.

In my standerd agt jaar het iets gebeur.  As ek terugdink aan die gebeurtenis vandag, besef ek, dat ek nie juis veel anders gedoen het as menige ander skoolkinders nie.  Ek en ‘n boyfriend het gevry!  Nou nie jou allerdaagse piksoentjie wat oorloop in ‘n dieper Frenshie nie, meer daai ‘heavy petting’ ding.  Gevoel en gevat en gevroetel.  Wou ook maar weet waaroor almal so tekere gaan.  Ongelukkig, vir ons tweetjies, was ons uitgevang en die ‘heavy petting’ vry is opgeblaas as die grootste sonde denkbaar!  Ons is op die rooitapyt gegooi, koppe gewas en gestroop van alle selfrespek en selfbehoud.  Ons is geteer en geveer sonder die teer en vere as julle verstaan wat ek bedoel.

My boyfriend is toe sommer na ‘n ander skool toe en ek het aangegaan in die skool, elke dag gedink dat almal dink ek is die grootste slet en hoer denkbaar wat die skoolgronde bewandel.  En dit juis in die tyd wanneer mens so vreeslik bewus is van aanvaarding en ook dink dat elke skrum op die rugbyveld ‘n samekoms van ‘bespreek Maryke’ is.

Soos die mensdom maar is, is hierdie oortreding gebruik en opgeblaas om ander se tekortkominge weg te steek.  Julle ken dit.  Fokus almal se aandag op een persoon, dan sien die ander nie jou foute raak nie.  Ek is toegegooi onder ‘n skuldlas wat geen jong ontluikende tienerdogter ooit moes dra nie en daai skuldlas het ek ver in my lewe saamgedra.  Ek het toegelaat dat daardie skuldlas my lewe oorheers.

Maar deur dit alles was daar een onderwyseres wat soos ‘n ligbaken vir my was.  Juffrou Augusta Fleck.  My sangjuffrou.  Wat ‘n dierbare, diep gelowige mens.

Juffrou Augusta het altyd ‘n sprankel in die oog gehad.  Haar stem was soos ‘n engel sin en as sy haar arms so om my gesit het, wanneer ek uit pure moedeloosgeid gehuil het, het dit gevoel asof die hemel om my vou.  Daar het ek veilig gevoel.  Sy het met my gepraat, sy het vir my gebid en bowenal, het sy my altyd raad gegee.

Sy het vir my geleer dat mense kan sê wat hulle wil, hulle kan bespiegel en beskuldig, maar net jy en jy alleen, weet wat die werklike waarheid is.  En dit is aan daardie wete waaraan ek moes vashou.  Sy het my geleer dat jy jou eie beste vriend en bemiddellaar moes wees, want ander mense is te besig met hulle eie goed.  Sy het my geleer dat elke mens spesiaal is, dat foute reggemaak kan word en dat mens moet vergewe om werklike vryheid en vrede te ervaar.  Die laaste les het ek eers baie later in my lewe geleer.

Ek dink Juffrou Augusta wou seker telke male vir my ‘n taai klap gegee het.  Veral wanneer ek regtig uitgehaak het en gerebelleer het vir die eerste span.  Maar … sy het nie.  Met haar liefde en geduld het sy langs my gestaan en my hand vasgehou en my sterker gemaak.  Sy het my verstaan en sy was altyd daar.  Vir my was dit ‘n wonderlike wete dat ek met iemand kon praat wat my nie veroordeel nie, iemand wat nie stories sal aandra nie en die beste van alles, ‘n vriendin vir my kon wees met ‘n skouer waarop ek kon huil en ‘n geduldige oor wat kon luister.

Ek dink dat my lewe baie anders sou uitgedraai het as daar nie ‘n Juffrou Augusta Fleck in my lewe was nie.  Ek kon nie vir beter gevra het  nie.

12 antwoorde op Vir Nefertiti – Oor ‘n spesiale juffrou

  1. UNPOCO het gesê op Mei 26, 2010

    En deesdae is die Juffrou Fleck’s dun gesaai.

  2. Neffertiti het gesê op Mei 26, 2010

    Dankie dat jy spesiaal vir my blog. Ek dink jy het meesterlik uitgestyg en jy ken jouself.

  3. maryke-anne het gesê op Mei 26, 2010

    Dunner as a brak land. Ek was baie bevoorreg.

  4. maryke-anne het gesê op Mei 26, 2010

    Ek het net gedink die juffrou verdien haar eie ‘mention’, nie ‘n opmerking weggesteek in die ‘kommentaar boksies’ nie.
    Dankie Nefertiti vir die kompliment. Ek waardeer.

  5. maryke-anne het gesê op Mei 26, 2010

    Sy was – en is – steeds ‘n goeie mens. Het so paar maande terug gou by haar ingeloer vir ‘n teetjie en ons het heerlik gesels.
    Sy was so verbaas toe ek haar vertel van hoeveel sy vir my beteken het. Ek kon nie glo dat sy nie geweet het nie.

  6. HeavyHenry het gesê op Mei 26, 2010

    Klink of die sommer ‘n nice tannie was.

  7. I-like-silly het gesê op Mei 26, 2010

    Ek het so ‘n Juffrou Slabbert gehad, hulle is bitter min deesdae!!!

    00×00

  8. maryke-anne het gesê op Mei 26, 2010

    Dankie MK. Wat sou ons tog sonder ons spesiale juf’s gemaak het?

  9. maryke-anne het gesê op Mei 26, 2010

    Sommer baie nice.

  10. maryke-anne het gesê op Mei 26, 2010

    Is waar ILS. Sulke juffrouens krap mens nie agter elke bos uit nie.

  11. maryke-anne het gesê op Mei 26, 2010

    Jy praat Kelly. En daai tyd was dit nog erger! Snaaks dat ek eers later besef het dat die wat die meeste geskinder het, al lankal tot die ‘hele’ daad oorgegaan het en dit op ‘n gereelde basis gedoen het. En daar het ek so klein gevoel oor ‘n warm vry van alle dinge!

  12. lindiew het gesê op Mei 26, 2010

    Sulke juffrouens is gebore om skool te gee – daar is by vere te min van hulle!!!! Ek kan dink sy was verbaas om die impak te besef wat sy gehad het op jou. Dis vir haar ‘n gegewe om so te wees, niks naaks nie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.