‘n Ope brief aan elke ouer.
November 30, 2009 in Sonder kategorie
Laasweek het ek my seun afgesien na ’n rehabilitasie sentrum. Die rede? Dagga!
Ek het ’n pragtige seun gehad voor hy dagga leer ken het. Behulpsaam, fluks, vriendelik, altyd ’n grappie, liefde vir mens en dier, kortom, ’n sonskynkind!
Maar ek moes kyk hoe hy verander in ‘n kind wat nie meer omgegee het nie. Skoolwerk het met ‘n spoed agteruitgegaan, sy vriendekring het verander, hy het vreeslike gemoed skommelings begin ondergaan, aggressief geraak tot so ’n mate dat hy nie omgegee het wat hy gesê of gedoen het nie. Hy het gejok, bedrieg en gesteel. Sy slaap en eet patrone het verander, sy oë was meeste van die tyd rooi, hy het geheimsinnig geraak. Ek het aande wakker gelê en wag dat my kind, van wie weet waar, huis toe kom. Hy het sy diefwering van sy kamer afgesaag sodat hy kon kom en gaan soos hy wou. Geen respek of agting vir gesag of dissipline gehad nie en het uitdagend geraak.
Klink dit vir jou na die simptome van heroïen, kokaïen of enige ander sogenaamde harde dwelm verslawing? Ja! Al die simptome daarvan, maar dit is dagga.
Almal probeer dagga afmaak as ‘n ‘sagte’ dwelm met geen/niks newe-effekte nie, maar laat ek vandag vir jou vertel, liewe ouer, dagga se simptome vat dalk langer om hulle verskyning te maak, maar die dag as hulle manifesteer, is hulle daar om hulle verwoestingswerk te begin en deur te voer. En die dag wanneer daardie simptome hulle koppe uitsteek, is dit al amper te laat en is jou kind reeds so vasgevang in die kloue van hierdie sogenaamde onskuldige dwelm, dat slegs erge ingryping jou kind daarvan kan verlos.
Ander gevolge van dagga gebruik sluit die volgende in:
- Die kinders se groeiproses raak geïnhibeer
- Kort termyn geheue probleme
- Slaaploosheid
- Steriliteit
- Emfiseem en ander longprobleme
- Emosionele en spirituele probleme
- Algemene afname in gesondheid
- Angstigheid wat lei na paranoia
- Dagga gebruikers raak apaties en dit kan duidelik in hulle skoolwerk gesien word
Dagga is gewoontevormend en veroorsaak ook die effek waar die gebruiker mettertyd groter ‘dosisse’ moet gebruik om dieselfde ‘high’ te kry. Dit is ook ‘n groot rede hoekom dagga gebruikers aanbeweeg na die sogenaamde ‘gevaarliker’ dwelmmiddels.
TEKENS OM NA UIT TE KYK:
- Bloedbelope, rooi oë of slaperige oë
- Onnatuurlike dors of honger
- Onbeheerbare buie en gemoed skommelings
- Babbel baie of onbeheerde gegiggel
- Slegte besluitneming
- Vlekke op hande
FISIESE TEKENS
- Dagga pitte/sade wat rondlê
- Dagga stof in sakke van klere
- Gebreekte bottels of bottel nekke. Kyk ook maar uit vir gewone 2 liter bottels met ‘n gat in.
- Stukkies pyp
- Rizzla masjien en papiertjies met of sonder rasta kleure van rooi, groen en geel
- Geheimsinnige oproepe
- Snaakse reuk in die huis en wierook wat gebrand word
- Oogdruppels en Lip Ice wat baie gebruik word
- Leë banksakkies. Gewoonlik die kleiner sakkies
- Lighters en vuurhoutjie boksies wat rondlê
- Onhigiëniese leefstyl
Moet onder geen omstandighede dink dat jou kind te cute/oulik/intelligent/begaaf is om in die kloue van dagga te beland nie. Dit vat net een verkeerde vriend en jou kind neem sy eerste tree op hierdie pad.
Moet ook nie dink dit is moeilik om dagga te bekom nie. Dit is so maklik vir ‘n kind om dagga te koop as wat dit vir ons is om brood en melk te koop.
Dagga is ook nie duur nie! ‘n Kind kan maklik met sy gewone sakgeld daarmee begin, maar soos hy die paadjie loop, raak dit al hoe duurder omdat hy meer en meer daarvan nodig het.
Moenie dink omdat dagga ‘n sogenaamde ‘sagte’ dwelm is, dat jy jou kind maklik daarvan gaan verlos nie. Die teenoorgestelde is waar! Dit is net so moeilik om van dagga af te kom as wat dit is om van enige ander dwelm te kom. Sagte woorde gaan nie help nie. Dit gaan nie help om jou kind met handskoentjies te hanteer nie. Dit het ek op die harde manier geleer.
Daadwerklike ingryping is die enigste antwoord. Hier kom die ou spreekwoord van “You have to be cruel to be kind” goed te pas. Jy sal moet ‘n besluit neem, ingryp en daarby staan al breek jou hart.
Dagga is nie grappies nie. Dagga is nie speletjies nie. Dagga is ‘n harde werklikheid! Dagga ondermyn gesinne en wedersydse respek. Dagga breek af en verwoes.
Dagga en sy gevolge moet nooit onderskat word nie!
Onlangse kommentare