Jy blaai in die argief vir 2009 September.

Dit het gehael in Klerksdorp!

September 30, 2009 in Sonder kategorie

En my man sê, dis die naaste wat ek ooit aan sneeu sal kom …

Die laaste twee foto’s is van een van my huurders, hulle arme kar!

Na aanleiding van DsP se “curved yellow fruit”

September 28, 2009 in Sonder kategorie

Kyk, daar is sekere kosse wat op aarde geplaas is om die rykes van die plebs te onderskei.  Goed soos Swartwoudkoek en groente gesny in lang dun repe as versnappering by ‘n party en seldery!


En dan het ek nou Sondag ‘n nuwe een ontdek.  ‘n Groen Piesang!  Word daar in Checkers ten toon gestel onder “green banana”.  Blykbaar kan dit geskil en gebraai word soos ‘n aartappel.  Maar daar word egter gewaarsku dat dit ‘n bitter smaak het.



Nou, wie de Moses gaan gewillig ‘n bitter gebraaide groen piesang eet?  Seker maar dieselfde mense wat wortels en seldery sien as ‘n goeie plaasvervanger vir daai kaas/vienna/uitjie op ‘n stokkie ding.

Lyk vir my maar onlekker 🙁

Oooo hali ha, holi ho, hielie hie hie hie!

September 28, 2009 in Sonder kategorie

Man, ek giggel nou so lekker in my mou.  Eintlik giggel ek nie, ek lag uitbundig.  So uitbundig dat my logge, oor die 40 jarige lyf sommer op en af wip, onder my blommetjiesrok, van pure lekkerkry.  (Ek gebruik die beskrywing aangesien dit gebruik word vir trolle, en ek al telkemale as ‘n trol uitgeskel is)

Dit gebeur gewoonlik wanneer mens ‘n WOW moment beleef.  En hier praat ek van die sogenaamde trolle.

Eintlik is ek ‘n vreeslike naiwe mens en die liggies vat maar lank om aan te gaan in my boonste verdieping, maar vandag het hulle aangegaan.

Ek het nog altyd gedink dat elke site sy eie trolle het.  Sy eie ou groepie.  Maar vandag het ek agtergekom dat dieselfde ou groep van site tot site beweeg en hulle gemors mildelik onder die deelnemers saai.  Dieselfde stories oor en oor.  Niks nuuts nie.

Dieselfde taalgebruik, dieselfde dreigemente en helaas seker ook dieselfde prokureur, forensiese span ens ens ens.

Ken ek name?  Nee!  Hoe de duiwel sal mens ooit weet, want diesulkes blog/forum/facebook/myspace/woes/gogga onder soveel verskillende aliase, dat ek self wonder hoe hulle dit regkry!  Dit moet darem tyd vat en een moerse dagboek om alles in hulle hokkies te hou? 

Hierdie mense sit heeldag en swerf van site tot site en gaar goed op om te gebruik.  Hulle werkwyse is eintlik fenominaal!  Ek dink ‘n paar spioenasie netwerke kan ‘n paar lesse by hulle gaan neem. 

Ek staan telke male verstom oor hoe hierdie mense ander aanvuur, opklits en opwerk.  Hulle begin baie subtiel en dan is dit soos ‘n sneeubal wat net rol en rol en groter en groter word!  En meantime, back at the range, kry hulle hoendervleis van lekkerkry!

Ek wil my verstout om te sê dat hierdie plasing van my sommer ‘n hele miernes van bedrywighede gaan oopmaak.  Ek sit al klaar en wag vir die e-posse oor wie is wie?  Wie doen wat?  Wat is die name?  Wat het ek bedoel met hierdie plasing?

Laat ek dit sommer klaar antwoord:

1.  Ek weet nie verseker wie, wie is nie, want dit is totaal en al onmoontlik.

2.  Ek ken nie name nie.

3.  Ek weet nie wat hulle hulself mee besig hou as hulle nie besig is om mense swart te smeer op die internet nie.

Al wat ek weet is, dat ek nie meer gefool gaan word nie.

“You can fool some people some of the time, but not all people all of the time!”

Die beste manier om ‘n Maandag te neem is …

September 28, 2009 in Sonder kategorie

Sluk heel in, moenie kou nie, spoel af met ‘n bottel wyn.

My hart rou

September 27, 2009 in Sonder kategorie

Ek’t gedink dit gaan maklik wees

om te vergeet en aan te gaan.

Maar jou gesig woel in my gees

en ek gee uiting in elke traan.

Ek voel swaar en in ‘n waas,

my gedagtes ‘n mengelmoes

van die goed, die sleg en dwaas.

Ek weet jy’s gelukkig waar jy is.

Ek weet jy’s beter en gesond.

Ek weet jy kan uiteindelik rus

sonder seerkry wat verwond.

Ek mis jou so baie, sonder end.

Maar, my lewe is net anders sonder jou.  So asof daar ‘n stuk weg is en maak nie saak hoe ek soek, dit is vir ewig weg.  Niks kan jou terugbring nie.  Niks kan maak dat ek weer jou lag hoor nie.  Ek mis tot die kere wat jy my vlegsels getrek het omdat ek stout was.  Ek mis die toebroodjies in die groot tupperware bak.  Ek mis jou kerrie en rys.  Ek mis jou aartappelslaai.  Ek mis jou hande wat in my hare speel.  Ek mis jou in die swembad met jou Chinese hoed waar jy bang kindertjies leer swem.  Ek mis jou skelm klavierspeel.  Ek mis jou skelm rokies.  Ek mis jou wicky waks chappies.  Ek sal vandag vir jou 100 grandpa’s gaan koop as ek kon.  Ek mis jou daar in jou stoel waar jy sit en brei.  Ek mis jou voor die naaimasjien waar jy vir ons rokkies maak.  Ek mis daai groen en oranje krullers in jou hare.  Ek mis jou pienk lipstiffie.  Ek mis jou sing.  Ek mis die glinster in jou oog.  Maar meer as als, mis ek jou arms om my as ek bang is.  Jou raad as ek verward is.  Jou kopknik as ek reg doen.  Jou frons op die voorkop as ek verkeerd doen.

Jy was my kompas van reg en verkeerd.

My atlas wat my op regte paaie gestuur het.

My lig aan die einde van die tonnel.

En al weet ek jy kyk elke dag wat ek doen ….

mis jou elke dag meer en meer.

Is daar iets anders as braai

September 23, 2009 in Sonder kategorie

soos

lawaai

eet slaai

uitbundig lag soos ‘n kraai (okay net omdat dit moet rym…)

boeke deublaai

ietsie verfraai

wat mens kan doen op nasionale braai dag nie?

Enige vuil gedagtes?

Na my dag van oorwerk is dit vanaand op die spyskaart …

September 21, 2009 in Sonder kategorie

Lekka, lekka skywa,

pap tamatie skywa.

Pappoen en rys,

gista se mince vir vleis.

Kom, kom staan nader

hier waar ons vergader.

Om die kosbak van vervloeë,

nei man! Geen vertoë!

Lek jou lippe en vingers af,

anners kry jy more, dieselle vir jou straf!

gaga

Vieruur is mos huis toe gaan tyd …

September 21, 2009 in Sonder kategorie

pffft, ek is mos by die huis.

Ek is veronderstel om te werk maar nee …

September 21, 2009 in Sonder kategorie

ek speel mos ek is ‘n hommelby! 

Hang op ouboet se stoep rond, kuier in Vormpies se tuin, drink Gharki se kleure in, droom oor ‘n vakansie met Anha, jaag hier in my gedagtes met ‘hoe om stad” se Zundapp … dit is mos harde werk of hoe?

Jitte!

September 21, 2009 in Sonder kategorie


Vrydag is ek Potch toe met my laptoppie en met die terugtog so naby Stilfontein onthou ek met ‘n f&**&*^^k dat ek my vriend, beste maatjie en nagtelike metgesel, in Potch vergeet het!


Dit het omtrent gevoel of my aarde se bodem losgegaan het en afgeplons het na ongekende laagtes. 



Die eerste ding waaraan ek gedink het was, waarmee gaan ek myself besig hou? 



Maar ek het myself besig gehou.  Een verwerasie halfpad klaargemaak en vir Lifiki ‘n braai bedekker (of so-iets gemaak). Met sy hulp natuurlik.



So as jy wonder wat om te maak met daai outydbeddens wat jou rug soos ‘n banana kromtrek, hier is vir jou ‘n gedagte.  Dit maak sommer die onooglike gate, waar almal mos alles inprop, toe.