Vandag is een van die take wat ek my seun mee moet help – die opstel van ‘n gesonde spyskaart vir ‘n week. Ai, jai, jai, jai, jai!
Ek besef toe so met die rondkrap tussen die miljuisende blaaie wat toegewyd is aan die gesond eet konsep, dat mens eintlik stinkryk moet wees om daar die kosse moet eet! En baie tyd op hande. Jitte, hoekom het hulle nie sommer pille vir van die goed nie???
Ek het sommer ook geleer van “Angel food.” Ek het nog altyd gedink dit is die manna van die hemel. Toe nie hoor! Dit is daardie oorskietkossies wat jy op jou bord moet los net om te wys jy’s nie heeltemal ‘n vraat nie. En dis gewoonlik daardie laaste happies wat soos engeltjiepiepe op die tong proe! Daai “ek eet net agter die lekker aan” happie. Daai laaste happie wat jy so sluk en dan jou lippe aflek, jou drom bietjie trommel en sug en jouself behaaglik uitstrek. Dis nou daardie spesiale happie wat jy so half eensaam daar op jou bord moet los. Sjoe!
Ook gelees van die Calorie Shifting ding. So shift jy jou kalorieë deur die dag mmmmm amper soos jy van kanaal tot kanaal skuif om die alewige advertensies te mis. So “trick” jy mos jouself dat jy kwaliteit kyktyd geniet. Nou met die dieët “trick” jy jou liggaam om te dink jy dieët nie, “meantime back at the ranch” dieët jy so skelmpies sonder dat die rolletjies ‘n benul het dat jy eintlik besig is om van hulle ontslae te raak. Klink vir my meer na kantoorpolitiek as jy my vra.
Ek het toe ook sommer so per toeval ‘n “No more heartburn” dieët opgespoor. Ek wonder nou of die ou heeltemal imuun is teen die vreeslike komkommer toebroodjie sooibrand. Want sien, daardie toebroodjie is deel van die spyskaart. En glo my, as jy nou sooibrand kry van ‘n komkommer toebroodjie, sal jy met my saamstem dat dit die koning van sooibrandland is! Dis daai een wat brand so vanuit jou binneste tot by jou keel en opstoot tot dit die trane uit jou oë uit pers. Daai een wat 6 pakkies Eno’s nie eers in ses ure, wat nog te sê van 6 sekondes, sal kan stuit nie.
Dan is daar natuurlik die “diet without diet” dieëte. Daardie wat jy pakke pille, byvoegings, aanvoegings en aarvoedings voor nodig het. Jy pop die pilletjie en dan eet jy waarvoor jy lus is. En soos ons maar is, het ons mos nie die fynskrif gelees dat jy ten minste elke dag ‘n paar “contortionist” bewegings moet uithaal en ten minste 30 kilometer moet stap nie. Anders werk dit nie. Die redenasie is, jy dieët nie maar jy moet oefen sussie!!!!
Ek verkies natuurlik die ligte dieët. Die prinsiep is heel eenvoudig … wanneer die ligte aangaan dan eet jy … of so iets. Baie makliker, veral omdat ek in ‘n huis bly waar daar elke dag ‘n lig MOET brand, maak nie saak of ons soos goeie burgers “energy” wil “save” nie. En ‘n mens kan tog nie energie bespaar nie, want dit wat jy nie gebruik nie, sit om in vet …. of wat praat ek alles?
Onlangse kommentare