Ek het oor die tou getrap …

Julie 20, 2009 in Sonder kategorie

Ja, soos baie ander vrouens wat die aarde bewandel, het ek ook oor die
tou getrap.  Ek was omtrent 20 jaar oud
en die lewe was ‘n lied.  Ek was vry en
nie meer onder die wakende oog van my ma nie. 
Natuurlik het ek alle dinge ondersoek, maar nie altyd net die goeie
behou nie.

 

So het dit gebeur dat ek swanger geraak het en toe ek vir die pa van my
kind vertel dat ek swanger is, het hy vir my vertel dat hy getroud is.  My drome van ‘n sprokieshuwelik het aan
flarde gespat en ek het gesit met die gebakte pere of eerder die brood in die
oond.

 

Die senuwees het geknaag en ek moes met die sak patats vorendag kom en
voor ek my oë kon uitvee was ek ‘n inwoner van ‘n Tehuis vir Ongehude Moeders
in Pretoria.  Dis nou Tswane vir die wat nie meer kan onthou wat Pretoria
is nie.

 

Ek gaan nie vreeslik uitbrei oor wie daar was nie maar ek is ingeboek in
‘n kamer wat ek moes deel met drie ander meisies wat in dieselfde ongehude
toestand as ek was.  Ek noem hulle sommer
Susan, Annemarie en Poppie.

 

Susan was die stil en sterk een. 
Lang donker hare met ‘n glimlag wat die kamer verlig.  Sy was nie ‘n vrou van vele woorde nie, maar
sy kon op haar regte staan.

 

Annemarie was giggelrig.  Oor
enige iets gelag – ek vermoed dit was maar die senuwees.  Sy was baie skaam oor haar toestand en ook
baie hartseer oor die verloop van haar lewe. 
Sy het baie planne gehad oor hoe sy haar lewe verder sou inrig.

 

Ons het elkeen ons storietjie gehad. 
Susan en haar vriend het besluit om die kindjie te gee vir aanneming
aangesien nie een van hulle reg was vir trou nie. 

 

Annemarie het uitgevind sy is swanger nadat sy en haar vriend opgebreek
het.  Sy het nie kans gesien vir trou nie en was loopbaan
georiënteerd en kon nie wag om weer haar loopbaan te hervat nie.

 

Poppie weer het te vertelle dat sy en die pa van haar kind so opgewonde
was oor die aankomeling dat hulle dadelik verloof geraak het.  Ongelukkig het haar verloofde toe omgekom op
die grens of een of ander weermag verwante ongeluk.  Ek is nie meer seker oor die ware feite
nie.  Maar sy het ons besig gehou met al
haar stories en natuurlik het ons aan haar lippe gehang.

 

Om in ‘n Tehuis vir Ongehude
Moeders te wees was nie baie lekker nie. 
Dit was maar bra vervelig en ons is besig gehou met skoonmaak, kosmaak
en so een keer per week kon ons die dorp invaar.  Baie soos koshuislewe sonder die skoolgaan
natuurlik.

 

Ons was ook maar almal so op dieselfde stadium van swangerskap en een
aand besluit ons, genoeg is genoeg en Poppie vertel toe vir ons dat ‘n bediende
op hulle plaas vir haar vertel het dat as mens touspring dan kan dit die geboorte aanhelp.

 

Die volgende dag is ons natuurlik in dorp toe om ‘n springtou aan te
skaf.  Daardie aand het ons so al om die
beurt tougespring dat die sweet ons aftap. 
Maar dit nie gehelp nie.  Ons was
almal nog verwagtend die volgende oggend toe ons wakker word.

 

Tydens die middagete vertel Poppie toe vir ons dat sy weet van ‘n vrou
wat ons kan
help.  Sy het al baie meisies gehelp deur
hulle water te breek sodat die geboorte vinniger afgehandel kan word. 
Sy het die adres en die foonnommer vir ons gegee.  Vir die doel van die storie gaan ek ‘n
fiktiewe adres gee, andersins sal die leser nie verstaan nie.  Burgerstraat 88.

 

Daardie aand is Poppie opgeneem en haar dogtertjie is gebore.  

 

Die volgende oggend besluit ek, Susan en Annemarie dat ons nie langer
gaan wag nie en dat ons daardie vrou gaan opsoek.  Ons was moeg gewag en het vreeslik ingehok
gevoel.  Vrouens sal nou weet waarvan ek
praat.  Ons was op daardie stadium wat
ons moes nes skrop maar daar was nie ‘n nes om te skrop nie … of so iets.

 

Ons het gemaklike stapskoene aangetrek en gewapen met ‘n padkaart het
ons soos wafferse drie musketeers begin stap. 
Nie een van ons was werklik bekend met die strate van Pretoria nie. 
Maar met die hulp van die kaart het ons wel die straat opgespoor.

 

Ons het daardie straat op en af gestap. 
Maar
nommer 88 was nêrens te vinde nie. 
Normaalweg lê 88 tussen 86 en 90, maar nie in hierdie geval nie.  
Nommer
88 was skoonveld!  Ons het later toe by
86 aangeklop en die tannie het aan ons verduidelik dat daar nog nooit ‘n nommer
88 was nie.  Vir een of ander rede het
die munispaliteit ‘n fout gemaak toe hulle die straatnommers gemaak het.

 

Mens, maar ons was baie
kwaad vir Poppie!  Daar staan ons toe in
Burger straat, ons voete seer, ons moed in ons tekkies, ons humeure op
ontploffingspunt en niks nader aan geboorte gee as die oggend wat ons die
tehuis verlaat het nie.  En sy lê en
aansterk in die hospitaal soos die Queen Mother!

 

Ons het gelukkig ‘n geleentheid
terug na die tehuis gekry by nommer 90 se eienaar en ons het tot laat in die
aand lê en bespiegel oor hoe sy geweet het dat Burgerstraat nie oor ‘n nr 88
beskik het nie.  En so met die gesels
deur het ons agtergekom dat daar ‘n hele paar goed oor haar was wat nie
gestrook het nie.  Die liggies het so een
vir een aangegaan en soos hulle aangegaan het, het ons besef hoe sy ons om die
bos gelei het.  Maar hoekom, kon ons nooit
verstaan nie.

 

Die dag wat Poppie uit die
hospitaal ontslaan is het sy haar goed by die tehuis kom haal.  Die matrone het vir ons kom vertel dat ons almal
in ons kamers moes bly en nie mag uitgaan voor sy die tehuis verlaat het
nie.  Maar vertel dit nou vir ‘n lot
verwagtende dames wat net sit en wag vir iets opwindend om te gebeur.

 

Ek, Susan en Annemarie het
agter om die huis gesluip en om die hoek geloer.  Tot ons verbasing het daar ‘n polisie motor
gestaan.  Die beampte het die tassie uit
haar hand geneem haar geboei en agterin die motor gehelp.

 

Julle kan julself voorstel hoe dit daardie aand
gegons het.  Ek weet tot vandag toe nog
nie waaroor sy in hegtenis geneem is nie, maar ons het beslis haar stories
beter verstaan.

 

Uiteindelik het my beurt ook
aangebreek.  My dogtertjie is gebore, die
pragtigste grootoog kind met swart haartjies. 
Die dag wat ek haar moes groet het ek net lank na haar gestaan en staar
en probeer om die prentjie in my gedagtes in te brand. 

 

In my hart weet ek dat daar
twee ouers op aarde is wat my kind met liefde versorg en ek hoop dat sy dit
eendag in haar hart sal vind om my op te spoor sodat my hart ook vrede kan vind.

 

Gelukkige verjaarsdag!

 

15 antwoorde op Ek het oor die tou getrap …

  1. mladanyi het gesê op Julie 20, 2009

    Die keuses wat mens maak is altyd met jou, goed of sleg. So ‘n teer storie, ek is seker sy weet jy’t haar lief.

  2. net myself het gesê op Julie 20, 2009

    ai, sterkte met die dag. ek kan nie eers probeer dink hoe moeilik dit moes wees nie. dit was seker tog die regte ding om haar te laat aanneem.

  3. DeViL010 het gesê op Julie 20, 2009

    Sterkte en mag jou wense waar word!!! Sy sal jou kom soek, glo dit net.

    Geniet die middag en aand!!!

    :>)))

  4. Dankie vir hierdie mooi stukkie egtheid en oopmaak van jou hart. Die ou gryse was skoon hartseer toe hy dit lees. Maar sterkte vir jou. En ek lei af dat daar intussen genesing gekom het. En aanvaarding. Maar die verlange? En die vrae?

  5. borrels het gesê op Julie 20, 2009

    Pragtig geskryf!

  6. Gharki het gesê op Julie 20, 2009

    Ek het so hartseer gevoel toe ek dit gelees het.

  7. Dankie Explorer. Dit is my grootste wens.

  8. Ek glo ek het die regte besluit gemaak. Al twyfel mens tog soms.

  9. Ek hoop werklik so en dankie.

  10. dankie Kobus. Met tyd kom genesing en aanvaarding. Was in die begin baie erg, maar die lewe gaan aan. Vrae … daar is baie en ek hoop dat ek eendag die antwoorde sal kry.

  11. Dankie Borrels

  12. Dankie vir die inloer!

  13. zette het gesê op Augustus 4, 2009

    Dit was baie onselfsugtig van jou om jou kindjie aan ‘n kinderlose egpaar toe te vertrou. Ek waarborg jou dat dit vir hulle antwoord op gebede moes wees. Ek praat uit ondervinding… ‘n vriendin van my het ‘n kindjie aangeneem…

  14. DallaSePa het gesê op Mei 6, 2010

    !!!

  15. maryke-anne het gesê op Mei 6, 2010

    Is jy geskok dat jy sulke uitroeptekens maak :-))

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.