Jy blaai in die argief vir 2009 Julie.

Sewentig maal sewe.

Julie 29, 2009 in Sonder kategorie

Ek het ‘n hele ruk terug die woorde van die liedjie iewers hier op my blog neergepen. 

Vir die wat wil, die opgeneemde demo kan hier geluister word.

Sewentig maal sewe.

Plekkie in die son

Julie 26, 2009 in Sonder kategorie

Ons wil elkeen ‘n plekkie in die son hê en daar is welliswaar ‘n plekkie vir ons elkeen!

Ons is gebore om ‘n plekkie in die son te hê en ons elkeen se strewe is om daardie plekkie te vind.

Hoekom?

Want ons weet instintief dat dit die plek is waar ons kan groei, blom en ons klein verskil aan die wëreld kan maak. 

Baie keer vind ons daardie plek en vir ‘n wyle vertoef ons daar.  Ons groei, ons blare sit uit, ons skiet wortel en ons bloeisels blom.  Maar dan kom die vertwyfelings.  Is ons goed genoeg?  Is ons mooi genoeg?  Is ons maer genoeg?  Is ons slim genoeg?  En wanneer ons daardie saadjie langs ons in ons plekkie in die son geplant het, dan water ons hom met negatiewe gedagtes.  En voor ons ons oë uitvee, het daardie saadjie gegroei in ‘n hemelbesem van ‘n boom wat die son van ons afkeer.  En in daardie ongevraagde koelte kan ons nie groei nie.

Al wanneer ons ‘n bietjie son voel is wanneer die winde van erkenning en waardering deur daai boom waai en die sonstraaltjies so saggies swiep-swiep oor ons gemoed.  Maar dit is altyd kortstondig.

Kort voor lank sit ons maar weer in daardie boom se koelte en bibber!

Daar is twee maniere om van daardie boom ontslae te raak.

1.  Jy kan ‘n ander plekkie gaan soek, jouself verplant en weer probeer wortel skiet op ‘n ander plek.  Maar ongelukkig is dit net ‘n tydelike oplossing.  Want daardie boom wat jy agterlaat, kan weer saad skiet en daardie saadjie gaan weer langs jou land.  Kort voor lank sit jy weer en bibber in ‘n boom se koelte.

2.  Roei daai boom wortel en tak uit!  Kyk jou vertwyfelinge vierkantig in die oë en besweer hulle een vir een.  Kap hom stukkie vir stukkie af deur vir jouself te vertel dat jy iets werd is.  Brand die sade deur weer in jouself te glo.  Elke mens op aarde beteken iets.  Ons het dit elkeen in ons om groot hoogtes te bereik as ons net bereid is om van die bome ontslae te raak.

Jy is geregtig op jou plekkie in die son.  Maar wees versigtig dat jy nie ‘n koelteboom vir iemand anders word nie!

Ek het oor die tou getrap …

Julie 20, 2009 in Sonder kategorie

Ja, soos baie ander vrouens wat die aarde bewandel, het ek ook oor die
tou getrap.  Ek was omtrent 20 jaar oud
en die lewe was ‘n lied.  Ek was vry en
nie meer onder die wakende oog van my ma nie. 
Natuurlik het ek alle dinge ondersoek, maar nie altyd net die goeie
behou nie.

 

So het dit gebeur dat ek swanger geraak het en toe ek vir die pa van my
kind vertel dat ek swanger is, het hy vir my vertel dat hy getroud is.  My drome van ‘n sprokieshuwelik het aan
flarde gespat en ek het gesit met die gebakte pere of eerder die brood in die
oond.

 

Die senuwees het geknaag en ek moes met die sak patats vorendag kom en
voor ek my oë kon uitvee was ek ‘n inwoner van ‘n Tehuis vir Ongehude Moeders
in Pretoria.  Dis nou Tswane vir die wat nie meer kan onthou wat Pretoria
is nie.

 

Ek gaan nie vreeslik uitbrei oor wie daar was nie maar ek is ingeboek in
‘n kamer wat ek moes deel met drie ander meisies wat in dieselfde ongehude
toestand as ek was.  Ek noem hulle sommer
Susan, Annemarie en Poppie.

 

Susan was die stil en sterk een. 
Lang donker hare met ‘n glimlag wat die kamer verlig.  Sy was nie ‘n vrou van vele woorde nie, maar
sy kon op haar regte staan.

 

Annemarie was giggelrig.  Oor
enige iets gelag – ek vermoed dit was maar die senuwees.  Sy was baie skaam oor haar toestand en ook
baie hartseer oor die verloop van haar lewe. 
Sy het baie planne gehad oor hoe sy haar lewe verder sou inrig.

 

Ons het elkeen ons storietjie gehad. 
Susan en haar vriend het besluit om die kindjie te gee vir aanneming
aangesien nie een van hulle reg was vir trou nie. 

 

Annemarie het uitgevind sy is swanger nadat sy en haar vriend opgebreek
het.  Sy het nie kans gesien vir trou nie en was loopbaan
georiënteerd en kon nie wag om weer haar loopbaan te hervat nie.

 

Poppie weer het te vertelle dat sy en die pa van haar kind so opgewonde
was oor die aankomeling dat hulle dadelik verloof geraak het.  Ongelukkig het haar verloofde toe omgekom op
die grens of een of ander weermag verwante ongeluk.  Ek is nie meer seker oor die ware feite
nie.  Maar sy het ons besig gehou met al
haar stories en natuurlik het ons aan haar lippe gehang.

 

Om in ‘n Tehuis vir Ongehude
Moeders te wees was nie baie lekker nie. 
Dit was maar bra vervelig en ons is besig gehou met skoonmaak, kosmaak
en so een keer per week kon ons die dorp invaar.  Baie soos koshuislewe sonder die skoolgaan
natuurlik.

 

Ons was ook maar almal so op dieselfde stadium van swangerskap en een
aand besluit ons, genoeg is genoeg en Poppie vertel toe vir ons dat ‘n bediende
op hulle plaas vir haar vertel het dat as mens touspring dan kan dit die geboorte aanhelp.

 

Die volgende dag is ons natuurlik in dorp toe om ‘n springtou aan te
skaf.  Daardie aand het ons so al om die
beurt tougespring dat die sweet ons aftap. 
Maar dit nie gehelp nie.  Ons was
almal nog verwagtend die volgende oggend toe ons wakker word.

 

Tydens die middagete vertel Poppie toe vir ons dat sy weet van ‘n vrou
wat ons kan
help.  Sy het al baie meisies gehelp deur
hulle water te breek sodat die geboorte vinniger afgehandel kan word. 
Sy het die adres en die foonnommer vir ons gegee.  Vir die doel van die storie gaan ek ‘n
fiktiewe adres gee, andersins sal die leser nie verstaan nie.  Burgerstraat 88.

 

Daardie aand is Poppie opgeneem en haar dogtertjie is gebore.  

 

Die volgende oggend besluit ek, Susan en Annemarie dat ons nie langer
gaan wag nie en dat ons daardie vrou gaan opsoek.  Ons was moeg gewag en het vreeslik ingehok
gevoel.  Vrouens sal nou weet waarvan ek
praat.  Ons was op daardie stadium wat
ons moes nes skrop maar daar was nie ‘n nes om te skrop nie … of so iets.

 

Ons het gemaklike stapskoene aangetrek en gewapen met ‘n padkaart het
ons soos wafferse drie musketeers begin stap. 
Nie een van ons was werklik bekend met die strate van Pretoria nie. 
Maar met die hulp van die kaart het ons wel die straat opgespoor.

 

Ons het daardie straat op en af gestap. 
Maar
nommer 88 was nêrens te vinde nie. 
Normaalweg lê 88 tussen 86 en 90, maar nie in hierdie geval nie.  
Nommer
88 was skoonveld!  Ons het later toe by
86 aangeklop en die tannie het aan ons verduidelik dat daar nog nooit ‘n nommer
88 was nie.  Vir een of ander rede het
die munispaliteit ‘n fout gemaak toe hulle die straatnommers gemaak het.

 

Mens, maar ons was baie
kwaad vir Poppie!  Daar staan ons toe in
Burger straat, ons voete seer, ons moed in ons tekkies, ons humeure op
ontploffingspunt en niks nader aan geboorte gee as die oggend wat ons die
tehuis verlaat het nie.  En sy lê en
aansterk in die hospitaal soos die Queen Mother!

 

Ons het gelukkig ‘n geleentheid
terug na die tehuis gekry by nommer 90 se eienaar en ons het tot laat in die
aand lê en bespiegel oor hoe sy geweet het dat Burgerstraat nie oor ‘n nr 88
beskik het nie.  En so met die gesels
deur het ons agtergekom dat daar ‘n hele paar goed oor haar was wat nie
gestrook het nie.  Die liggies het so een
vir een aangegaan en soos hulle aangegaan het, het ons besef hoe sy ons om die
bos gelei het.  Maar hoekom, kon ons nooit
verstaan nie.

 

Die dag wat Poppie uit die
hospitaal ontslaan is het sy haar goed by die tehuis kom haal.  Die matrone het vir ons kom vertel dat ons almal
in ons kamers moes bly en nie mag uitgaan voor sy die tehuis verlaat het
nie.  Maar vertel dit nou vir ‘n lot
verwagtende dames wat net sit en wag vir iets opwindend om te gebeur.

 

Ek, Susan en Annemarie het
agter om die huis gesluip en om die hoek geloer.  Tot ons verbasing het daar ‘n polisie motor
gestaan.  Die beampte het die tassie uit
haar hand geneem haar geboei en agterin die motor gehelp.

 

Julle kan julself voorstel hoe dit daardie aand
gegons het.  Ek weet tot vandag toe nog
nie waaroor sy in hegtenis geneem is nie, maar ons het beslis haar stories
beter verstaan.

 

Uiteindelik het my beurt ook
aangebreek.  My dogtertjie is gebore, die
pragtigste grootoog kind met swart haartjies. 
Die dag wat ek haar moes groet het ek net lank na haar gestaan en staar
en probeer om die prentjie in my gedagtes in te brand. 

 

In my hart weet ek dat daar
twee ouers op aarde is wat my kind met liefde versorg en ek hoop dat sy dit
eendag in haar hart sal vind om my op te spoor sodat my hart ook vrede kan vind.

 

Gelukkige verjaarsdag!

 

Hier is jy welkom as jy …

Julie 11, 2009 in Sonder kategorie

vet is, geskei is (hoe meer hoe beter) en rekmerke het.  Hier is dit seksie, hier is dit aantreklik, hier is vet iets om oor te “drool.”

So ek sien julle so oor ‘n jaar of wat?

So word ek mos gesê …

Julie 7, 2009 in Sonder kategorie

Daar is ‘n uitnodiging op my blog …. dalk is dit vir jou?  Dit nogal van so ‘n cute ou hondjie!

En natuurlik weet julle dat my liggaam mos ‘n Nuuskierige Netta huisves en dadelik gryp ek my muis en met ‘n klik-klik hier en ‘n klik-klik daar, vind ek my weg na die “uitnodiging”.

Jitte, daar beland ek op die blog der blogs.  ‘n Hele blog toegewy aan gewigsverlies.  Jong net daar en daar trek ek die boep in sodat my rug so snaakse ronding in die verkeerde rigting kry en dadelik wonder ek of die blogger x-traal oë het of gebruik maak van astrale projeksie of ken die blogger my dalk?

Toe begin ek dink dit kan net ‘n man wees want jong, julle ken mos ons vroulike geslag wat ons so bekommer oor seksies op seksies en ek sal sekerlik dit nooit oor my hart kry om ‘n vrou so ‘n openbare uitnodiging te stuur nie.

Maar gelukkig hou ek my in want toe ek ‘n ander blog besoek, toe sien ek die uitnodiging daar en nog een en nog een.

Toe blaas ek die asem uit, die boep is weer op sy regte plek en ek dink steeds dit is die cuteste ou hondjie 🙂

Hierdie blesitse koue ….

Julie 6, 2009 in Sonder kategorie

Maak my op.  Hier sit ek nou ge”huddle” voor die gasverwarmer onder ‘n kombers op my sitkamerbed met ouma se kombersie oor die knieë en beloer so skuinsweg vir binnelanders.

Ek hou nou maar een maal van my sepies en vanaand is daar genoeg om vir my vir ‘n paar ure op ‘n seepbel “high” te hou.

Nou binnelanders gevolg deur 7de laan.  Dan die nuus wat ‘n treurmarerige sepie op sy eie is en dan Army Wifes en as die kersie op die koek … Private Practise.

Wat het ek gedoen om soveel sepies te verdien?

‘n Nuwe uitdaging!!

Julie 6, 2009 in Sonder kategorie

So besluit ek laasweek, toe ek so deur die koerantjie blaai, op die ingewing van die oomblik om vir ‘n pos aansoek te doen.  Eintlik net om te sien of ek darem nog bemarkbaar is.

En jou wrintiewaar daar slaat ek vir my ‘n ou joppie los!  Ek is so bly want in hierdie ekonomiese krisis is elke sent ekstra ‘n bonus …

Ek het ‘n tjip op my skouer ….

Julie 6, 2009 in Sonder kategorie

En hierdie tjip is nie daai klein Simba tjippie waaroor die perfekronde aartappeltjie sing nie, nee dis sommer een van daardie groot Mc Cain tjips wat per helikopter op tafelberg neergesit word.  So groot is daardie tjip op my skouer!

En hoekom het ek daardie tjip op my skouer?  Omdat ek hom kan hê.  En ek dra lekker aan hom en hy het al so deel van my geword soos die vuvuzela deel is van Suid-Afrikaanse sokker.

Hoekom dink ek vanaand aan daardie tjip?  Miskien omdat die gedagtes van die lewe my ver teruggevat het en ek my lewe so op die keper beskou het en besef het dat dinge so anders kon wees as ek tjiplose besluite kon neem.

‘n Tjip kan ‘n lekker ding wees as hy so knarserig gaargemaak is en amper toegegooi is onder die 36 tamaties in een bottel tamatiesous. 

Maar as ‘n tjip so op my skouer lê en en so half sawwerig raak omdat ek hom nie wil eet nie, dan is hy nie meer lekker nie. 

Partykeer raak die skouer lam van daardie groot swaar tjip dat ek sommer so skuins bedonnerd raak of hy raak so warm dat hy verander in ‘n tranetrekker.  Maar sit sal hy daar sit en my koggel. 

Daai tjip sal dinge in my oor fluister en ek sal luister en ek sal hom glo.  Partykeer laat ek iemand toe om daardie tjip vir ‘n rukkie af te haal, maar dis net ‘n stonde voor ek hom weer teruggryp en terugplaas waar hy hoort.  So wissel my lewe van tjipvoos tot tjiploos en weer terug na tjipvoos.  Dag in en dag uit.  Dis soos ‘n refrein wat oor en oor homself afspeel.  Sonder ophou …

Maar miskien, net miskien vandag … gaan ek daardie tjip van my skouer afgooi en op hom trap sodat daar van hom net ‘n vetkol oorbly.