Jy blaai in die argief vir 2009 Junie.

Om in ander mense se goed te krap …

Junie 17, 2009 in Sonder kategorie

Ek moes vandag ‘n huurder wat al twee maande van die aardbol verdwyn het se goed uit die huis gaan verwyder.

Dis nie ‘n lekker ding om te doen nie, maar ongelukkig so deel van my werk.  En wanneer ek so besig is om hulle goed in te pak dan wonder ek hoekom sou hulle net verdwyn?

Natuurlik hulle klere en seker die belangrikste gevat, maar wat van kleinding se stootwaentjie, teddiebere, bedjie en bad?  En mens wonder hoekom het hulle die goed gelos wat hulle gelos het?

Dit het my sad gemaak.  Veral toe een van die bokse so oopval en dis net medaljes wat uitval.  Hierdie mannetjie was nie van hier nie, nee hy was gestuur!  Allerhande toekennings vir sport en akademie.  Sertifikate, te veel om op te noem.

Hoekom die pragtige foto teen die muur los van hulle drietjies in outyd klere? 

Wat het hier verkeerd geloop? 

Om in ander mense se goed te krap is nie lekker nie 🙁

Om op jeugdag

Junie 16, 2009 in Sonder kategorie

in die bed te bly is nie ‘n maklike taak nie!  Dit verg beplanning en nogmaals beplanning.

Eerstens, moet alle mense wat jou “dalk” kan opsoek ingelig word dat jy nie by die huis gaan wees nie. 

Dan moet jy jou werknemers inlig dat jy ‘n bietjie olik voel en ‘n paar kuggies gee om die punt goed huistoe te dryf.

Jou kind moet geinspireer word om die vakansiedag te gaan geniet saam met sy vriende sodat hy verkwik kan terugkeer na die boeke.

Manlief moet besig gehou word met werkies in en om die huis.

Die inkopies moet dan gedoen word:

1.  Genoeg koffie en melk
2.  Lekker Anysbeskuit
3.  Sjokolade
4.  Sigarette (vir die wat rook)
5.  ‘n Heerlike leesdingetjie of ‘n lekker DVD

En laaste maar beslis nie die minste nie, jy moet koeponkrag aanskaf sodat jy die koffie kan maak en lig hê om te lees.

So verskoon my dat ek gou uit my knus bed klim en gaan krag koop *sug en nogmaals sug*

 

Ek hou nie van afval nie ..

Junie 15, 2009 in Sonder kategorie

want ek verkies om bo te bly!

Maar tipies soos mans maar is, hulle verkies mos hul brood gesmeer aan beide kante, is my man mal oor afval en raak liries oor bo bly 🙂

So gaan eet ons toe ‘n carvery by die Spur gistermiddag.  Manlief skep so baie afval dat ek dink hy moet in die vervolg vooraf bel en hulle vra om sommer die afvalpot op ons tafel te sit.  En as gevolg van sy ooreet en die feit dat hy gedreun het na die ete, was daar ook geen sprake van die gebruiklike “bo bly” episode op ‘n Sondagmiddag nie ….

Die Spur was stil verby!  Gewoonlik moet mens eers ‘n drinkdingetjie in die kroeg nuttig voor daar ‘n tafel beskikbaar is. Maar gister het ons sommer dadelik ‘n tafel gekry.  Geen luidrugtige kinders wat rondhardloop nie.   Geen verjaarsdag songs nie.  Niks.  Net heerlike, wonderlike stilte en ek moet bieg, ek het dit geniet.

Ek dink ek word oud

 

Swaar tye …

Junie 12, 2009 in Sonder kategorie

Vanoggend wil ek vir almal vra om op julle knieë te gaan en dankie te sê! 

Dankie vir:
werk (al is dit nie werklik lekker nie),
vir kos (al is dit nie meer die vetgemaakte kalf nie),
vir vervoer (al is dit nie die nuutste model nie en dalk net ‘n fiets),
vir klere (al is dit PEP  Boutique specials),
vir jou man en vrou (al lyk hy/sy nie meer soos die dag toe julle getroud is nie),
vir kinders (al wil jy hulle partykeer teen die mure pleister)

want

vanoggend het ek met een van my huurders gepraat omdat hulle huur nog nie betaal is nie.  En daardie eens trotse man het gehuil.  Nee, hy het geween en gepleit want hulle het al vir drie maande nie betaling gekry het nie want beide hy en sy vrou werk by Pamodzi.

Maar werk moet hulle werk.  Hy kan nie meer petrol bekostig nie en ry kilometers per fiets werk toe.  Want hulle het drie kinders en hy probeer sorg.  As hy nie werk nie, sal hy nie betaling kry wanneer die koop van die myn deurgaan nie.

Die tyd het aangebreek om dankie te sê!  Die tyd het aangebreek om in jouself te diep en te grawe en jou menslikheid te ontdek.  Dis tyd om te besef dat ons ons hande moet uitsteek en ander in nood te help met die bietjie wat ons het, al is dit net ‘n oor wat luister of ‘n skouer waarop hulle kan huil.

Bid asseblief vandag vir hierdie twee mense vir uitkoms!  En terwyl jy bid, sê sommer dankie vir alles wat jy het.

My "shotgun wedding"

Junie 10, 2009 in Sonder kategorie

Ek het die spreekwoordelike “shotgun wedding”
gehad.  Nie gemeet aan die gevorderdheid van verwagting nie (ek was al lankal
‘n sportsmodel), maar die spoed waarteen alles gereël is.

Dit was ‘n koue wintersoggend.  Ek weet mens begin nie ‘n gelukkige storie
met ‘n “doom and gloom intro” nie, maar dit was werklik koud.  
Dit was so koud dat die ysbere sekerlik nagemaakte pelsjasse sou aanskaf om die
loeiende wind te trotseer.

Daar was nie ‘n gevoel van afwagting in die lug nie.  Geen dramatiese
musiek in die agtergrond nie.  Nee, net ‘n normale koue wintersoggend.

Ek was by die werk besig om te verdrink onder my “piling system” toe
my selfoon genadiglik begin lui.

 

“Wil jy nie maar met my trou nie?”  Dit was die woorde waarmee ek gegroet was.

 

“Jy weet ek wil met jou trou.”

 

“Wat van môre?”

 

Natuurlik dink ek dit is ‘n ou grappie.  Ek ken mos die man.  ‘n Halsoorkop tiener is hy nie.

 

“Ek dink dit is dalk ‘n bietjie gou.”  Lag ek dit af.

 

“Okay, ek bel jou nou-nou weer.”

 

En sonder enige verdere groet of die gewone, “ek is lief vir
jou”, word ons gesprekkie kortgeknip.

 

Ek het maar doodnormaal, of eerder doodadnormaal aangegaan
met die sortering van die “piling system.”

 

Ook maar net so in die “groove” gekom toe lui die sel weer.

 

“Wat van Sondag?”

 

Man, dis toe daar so ‘n gewaarwording oor my spoel.  Ek besef toe die man is ernstig!  En net soos in ‘n fliek waar mense nuus kry
wat hulle nie kan
glo nie, gaan sit ek so stadig.

 

“Dit klink half beter,” antwoord ek versigtig.  Nie heeltemal seker of ek reg is oor my
gevoel van sy ernstigheid nie.

 

“Goed so.  Bel maar
solank wie jy daar wil hê, ek sal die reëlings tref.”

 

Nodeloos om te sê, die wind was uit my seile, ek was
stomgeslaan en het ‘n paar minute gevat om tot verhaal te kom.

 

Almal is haastig gebel en vertel hulle moet hulle regmaak
vir die huwelik oor twee dae.  Ek sal nie
nou ingaan in die op en aanmerkings nie, want dit sal nog ‘n folio volmaak.

 

Ek het toe sommer ook die hele “piling system” net so gelos
en teen ‘n redelike stywe boete spoed huis toe gery.

 

Ek vra hom toe wie ons gaan trou. 

 

Hy het so skaam, skaam geglimlag, die koerant nadergetrek en
‘n advertensie vir my uitgewys.

 

            Dial-a-Dominee

            Is u van
kerk vervreem?  Ek bevestig u in die
huwelik.  Enige denominasie welkom.

            Skakel ….

 

“Ons het môre oggend met hom ‘n afspraak.”

 

Die volgende oggend sit ons toe af na ons afspraak met “Dial-a-Dominee”.  Daar aangekom was ek eers baie beïndruk.  Want buite die was is ‘n klein kapel.  Dadelik “picture” ek ons daar binne met die
familie, geliefdes en elke ding.  Maar
toe ek so verby die kapel stap pryk daar ‘n bord met die woorde  “Madam Rose. 
Palm reader and spiritualist” voor op. 
Daai “picture” van ons, die familie en elke ding het skielik soos mis
voor die môreson verdwyn.

 

Ons ontmoet toe die “Dial-a-Dominee” en hy voer so ‘n
ligtelike onderhoud met ons.  Deel ons
mee dat ons sommer die huwelik daar in sy sitkamer voltrek.  Toe hy sien ek loer so na die kapel, toe
vertel hy ons dit was sy liewe oorlede vrou se besigheid en eintlik het hulle
mekaar se “callings” baie goed aangevul. 
Ek krap nog ‘n bietjie kop oor daai een.

 

Ek sê toe, nee die ou sitkamertjie gaan te klein wees.  Ek het ‘n lang familie en dat net ek en my
man en dalk een of twee ander familielede daar sal inpas.  Vra toe of hy dit by ons huis sal doen.

 

“Ja,” antwoord hy.  “Daar
is dan net die kwessie van die travelling fee.”

 

Ons handel toe die geldsakies af en hy vra toe of ons ‘n
podium of so iets het.  Want, vir ‘n
klein ekstra fooitjie, kan
hy, as ons ‘n bakkie het, sy polistireen podium saambring.  Dit was toe waar ek die streep trek. 

 

Ai, die volgende oggend was dit omtrent ‘n geskarrel om
alles reg te kry.  Dis kos regkry, stoele
regpak, ‘n soort van podium aanmekaar slaan maar einde ten laaste kon ek rustig
myself gaan opklits.

 

So tussendeur luister ek hoe almal aankom en eers toe ek die
verspotte Dial-a-Dominee se stem hoor toe ontspan ek.  Ek het so ‘n ligte vrees gehad dat hy tussen
die geldjie en ‘n bottel brannas weg sou raak. 
Maar hy was daar en op sy pos.  En
ek hoor toe ook sommer dat hy die nuwe liefde in sy lewe saam gebring het.  Hoe meer siele hoe meer vreugde!

 

Eindelik het die groot oomblik aangebreek.  Aan die arm van my Pa en my twee seuns agter
my, het ek in die sitkamer ingestap.  Ek
is seker ek het op daardie stadium een of ander koor in die agtergrond hoor
sing of was dit my hart?  Ek was so
opgewonde!  Al wat ek gesien het, was die
dierbare gesig van my man wat voor die “podium” vir my wag.

 

Die seremonie het goed afgeloop.  Plegtig soos dit hoort.  Die register is geteken en ek was mev Janse
van Rensburg.

 

Die “Dial-a-Dominee” het ook heerlik gekuier, veral toe ons
die sjampanje begin skink.  Hy het
eintlik so lekker gekuier dat my man later vir hom moes vra om asseblief huis
toe te gaan aangesien ons graag nou saam met ons familie wou kuier.  Hy is toe so slinger-slinger daar weg.  Ek sien hy adverteer nog so hy het darem sy
tuiste veilig bereik.

 

En ek?  My soekende hart
het sy rusplek gevind.

Huweliksherdenking

Junie 10, 2009 in Sonder kategorie

Ja, vandag is my derde huweliksherdenking en ek wil sê dat ek baie dankbaar is dat my Lifiki met al my grille, geite en nonsens steeds vir my lief is.

Aan die anderkant is dit moeilik om nie lief vir my te wees nie …

So klik ek op die ….

Junie 9, 2009 in Sonder kategorie

“Are you 41? Get an iPhone” skakeltjie daar op vuisboek.

Die goedgelowige Grietjie binne my glo natuurlik dat ek nou ‘n iFoontjie helemal verniet en gratis gaan kry.  Dis mos wat daar staan.

Maar ek dink die lotte dink dat wanneer mens die 40 jaar merk oorsteek dat jou breins agtergebly het en dat slegs jou middeljarige lyf vorentoe beweeg in jare.

Land ek toe daar op die webtuiste (klop myself op die skouer vir my skoon Afrikaans) en sal ingelig word dat ek nou R30 per week getjaarts gaan word!

En miskien as ek nou die een uit ‘n miljoen gelugkkige 41 jariges is, sal ek dalk, miskien, hopelik maar nie gewaarborg nie, ‘n iFoontjie kan wen.

Wat van ‘n misplaaste, misleidende, mistaykie van ‘n webtuiste (let op die suiwer Afrikaans) is die dan nou?

Moet ons werklik nog opgevoed word?

Junie 9, 2009 in Sonder kategorie

Dit is ses uur in die oggend en ek is nie uit vrye wil wakker nie!  Nee, die bure se hoenderhaan se vroegoggend relaas het my uit droomland gewek en die eerste ding wat ek in my geestesoog sien is, Matrone Netta Nortjie se gesig toe haar oog vir Vince en pop wat dans, vang.

En ek dink ek weet wat gaan volg.  Nadat ons almal nou liggies oor die vingers getik is met die Diederik en Kabelo sage dink ek nie ek is vêr verkeerd as ek sê dat die blanke Afrikaanssprekendes nou as die enigste rassiste in die land voorgehou gaan word nie.  Maar dit opsigself is nie werklik my probleem nie.  Rassisme is “alive and happy” in ons land en dit werk altyd beide kante toe.

Wat my egter dwars in die krop steek is, dat iets wat ek as “my eie” kon beskou nou weer op die keper beskou gaan word en ‘n sepie wat veronderstel is om ligte vermaak te wees, word verander in ‘n klaskamer en ‘n toets.  Ek dink ons Afrikaanssprekendes gaan nou fyn dopgehou word oor hoe ons hierdie nuwe kinkel in die kabel gaan hanteer.

Laat my dink aan die “player 23” advertensie wat skielik nou verander is sodat dit polities korrek kan wees.  En ons almal speel saam, kyk saam sonder om te dink dat ons stelselmatig van ‘n eie identiteit gestroop word. 

Dit wat ons werklik geniet en nog altyd met trots na kon verwys as “Ons sin” of eg “Afrikaans” word afgewater na ‘n spulletjie wat deur almal met ‘n mate van aanvaarding afgesluk kan word.  Dis asof daardie eg “Afrikaanse” goedjies so ‘n “flat Coke” smaak gekry het.  Maar jy drink hom maar want jy is dors en daar is nie iets anders beskikbaar nie.

My grootste begeerte is ‘n program wat 100% tot my kan spreek, in my taal (al is dit nie altyd suiwer nie) en dit moet:

  • Ligte vermaak verskaf
  • ‘n program wees waarmee ek kan vereenselwig
  • nie die blanke Afrikaanssprekende persoon as platvloers en agtergeblewe uitbeeld nie
  • nie in elke sin of “plot” vir my ‘n les wil leer nie
  • Iets wees waaroor ek kan sê “Ek like dit” sonder om skaam te kry omdat ek Afrikaans is
  • Iets wat werklik aan die Afrikaanse volk kan behoort sonder inmenging, kaping en die afdwing van ander se sienings oor hoe iets werklik moet wees.

Is dit werklik te veel gevra?

Persoonlik gee ek nie om wie met wie trou, wie met wie slaap, kuier, vry of karfoefel nie.  Dit laat my nie warm of koud nie.  Dit is tog elkeen se vrye keuse. 

Julle kan vra waarom ek nou so oor die ding aangaan en hier volg die verduideliking.  ‘n Ruk terug was daar ‘n artikel in die Huisgenoot oor Sewende laan en al die lesse en daar is pertinent gevra wanneer Sewende laan die “verhoudings oor die kleurgrens” kwessie gaan aanspreek.  En ek het toe geweet, dit sal nie lank wees nie of die skrywers sal gehoor gee.

En ek was nie verkeerd nie.  Nou vra ek.  Is dit die hond wat die stert swaai?  Of is dit die stert wat die hond swaai?

Is ons inwoners van ons pragtige land so kinderlik na-ief (sorry oor die spelling) dat ons soos skape toelaat dat ons aan ons neuse rondgelei word?

Die verloop van hoe dinge in ons land gebeur:

Stap 1 – ‘n Skynbare onskuldige berig word geplaas of iets word oor die nuus gesê (Soos toe die wêreld se ekonomie besig was om in duie te stort en ons word gepaai deur te sê dat hierdie dinge ons nie gaan raak nie.  Ek het niemand hoor kla daaroor nie.  Dit was vir niemand vreemd dat Suid-Afrika wat as “third world” beskou word, nie geraak gaan word deur “first world” gebeure nie.  Nee, ons was kamtig beskerm deur die “streng monetere beleid” en ons “o so slim” finansiële ministers en adviseurs.  En nou later moet ons hoor dat dit juis hierdie “streng monetere beleid” is wat ons eintlik kelder.  Ek krap nou nog kop oor die een.)
Stap 2 – ‘n Paar weke later gebeur dit waaroor daat geskryf en genuus is.  Die kuns is net dat ons moet leer om te onderskei tussen wat gepropageer word.  Is dit waaroor geskryf word wat werklik gaan gebeur of is dit ‘n paai om massa histerie te keer?

Ek dink ek gaan in die vervolg maar eerder die “Bewende Traan” sage hier op Litnet volg.  Al wat my egter pla van die storie is dat daar aandag gegee word aan die advertensie “breaks” maar ek kan nie altyd die “gehoorgestremde skryfsels” onderaan lees nie want die “Electricity is currently under pressure ….” ding word gewoonlik met groot fanfare daaroor geplak. 

Ek weet nie werklik of dit wat ek hier skryf, sin maak nie.  So vergewe maar want ek het dit geskryf voor ek my koffie gedrink het.

Lekker dag vir ‘n ieder en ‘n elk.

Vir Creme Soda

Junie 8, 2009 in Sonder kategorie

Oor die heuning.

Ek het vir jou gaan soek (onthou ek sê nooit iets ligtelik nie) na die huisgenoot waar die heuning lyfskrop reseppie voorkom en hier is hy:  (vir jou nuwe heuningbesigheid)

Bestanddele

1/4 koppie Koffiemoer
1 teelepel Heuning

Meng goed en gebruik oor die hele lyf.  Sirkelbewegings ens ens en spoel af, en volg met verromer … ag sorry, voggies.

En hier is die reseppie vir die voggies:

2 eetlepeles Vodka, 1 eetlepel fennel seed (weet nie wat dit in Afrikaans is nie) 1 en ‘n halwe teelepel heuning.
Meng goed, laat staan vir drie dae.
Gooi deur sif.

Gebruik volsterkte om die pleats te verminder en water af met 2 eetlepels water vir ‘n verfermer.

Cheers!

Hoe is dit dat …

Junie 8, 2009 in Sonder kategorie

jy jou mikro-omgewing tot in die fynste besonderhded beplan en dan kom die makro-omgewing en werp alles omvêr?

Raai, raai wat leer ek en die tiener vandag …