Jy blaai in die argief vir 2009 Januarie.

Libido vir mans

Januarie 27, 2009 in Sonder kategorie

Om ‘n vrou spesiaal en geliefd te voel is nie werklik so moeilik nie …

L – Liefde.  Die vrou is ‘n emosionele wese en liefde is bo-aan haar prioriteitslys.  Dink aan jou bronstige tienerjare.  As jy vir die meisie gesê het, “Ek is lief vir jou.”   Was sy putty in jou hande.
I – Innovasie – Dieselfde ding oor en oor en oor is nie werklik waarna ons soek nie.  Dink aan nuwe en innoverende idees om jou vrou the romantiseer.
B – Braaf – Wees daardie ridder op die wit perd vir jou vrou.  Sorg dat die krane nie lek nie.  Sorg dat ligte brand en dat haar skedonkie waarin sy elke dag die kinders skool toe vat, altyd padw(v)aardig is.  Rol klippe uit haar pad.  Wees daar as sy jou nodig het.  En onthou, ons benodig partykeer net ‘n oor wat luister.  Nog ‘n B – Bederf haar.  Mans is geneig om te dink dat die woord, bederf, sinoniem is met ‘n groot geskenk.  Maar dit is nie.  Onthou – ‘n sagte woord keer die grimmigheid af.  As jy jou vrou ken, sal jy weet wat haar groot bederf is.  Dalk ‘n borrelbad, of skottelgoed wat gewas word, of ‘n wegneemete wanneer jy weer sy’t ‘n moeilike dag agter die blad.
I – Intiem – Maak seker dat julle spesiale tye alleen kan wees.  Skep ‘n intieme oomblik met ‘n bietjie wyn, sagte musiek, ‘n blom of twee en daardie spesiale lig wat uit jou oë skyn as jy jou vrou sien.
D – Deoderant 🙂  Dit is nou nie ‘n ding wat mens kan versmaai nie.  Daar is niks so lekker soos ‘n man wat lekker ruik nie.  Maar nie so oordadig dat sy hooikoors kry van die walms nie.  En ‘n bier/brannas asem is so uit soos ‘n opblaaspop op Valentynsdag.
O – Oorrompel haar.  Nie die “sleep na die grot aan haar hare” oorrompel nie.  Nee, oorrompel haar met aandag, sagte woorde en liefde.  As jy nou ‘n spesiale aandjie met jou vroutjie wil spandeer, stuur vir haar warm sms’e, e-posse.  Verras haar met ‘n bos blomme wat by haar werk of tuis afgelewer word met ‘n mooi nota.  Bou stap-vir-stap op na ‘n aand wat julle albei na nuwe hoogtes voer.

Onthou, elke geleenthed wat jy misloop, kan jy nooit weer inhaal nie.  En ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat elke grys haar op ‘n man se hoof, ‘n teken is van ‘n verlore geleentheid.

Die vrou vra op vuisboek hoekom …

Januarie 26, 2009 in Sonder kategorie

mans nie tevrede kan wees met wat hulle het nie.  Dan gaan sy aan deur te vertel hoe onafhanklik sy is – eie besigheid, selfonderhoudend, sterk – en die wonderlike verhouding wat hulle gehad het.

Sy gaan ook aan en vertel dat sy daarvan gehou het dat hy soveel ouer was as sy en dat hulle ‘n oop en eerlike verhouding gehad het.  Hulle het nie mekaar se geld of aansien nodig gehad nie want hulle was altwee twee besigheidsmense in eie reg.

Maar toe sterf die man en sy moes toe uitvind dat hy ‘n verhouding gehad het terwyl hulle ‘n verhouding gehad het.

Ek antwoord haar toe dat mans ‘n behoefte het om te voel dat hulle benodig word.  Hulle wil die ridder op die wit perd wees.  En ek roer toe so liggies daaraan dat sy dalk TE onafhanklik was en vir hom nie die geleentheid gegee het om haar ridder te wees nie.  Dit het nie so lekker afgegaan nie.

Ek glo ‘n vrou moet aan ‘n man wys dat sy hom nodig het.  Daarmee sê ek nie, die vrou moet niks kan doen nie.  Allermins!  Maar as ‘n vrou absoluut alles vir haarself kan doen, verloor sy nie ‘n tikkie vroulikheid nie?  Moet daar nie iewers ‘n stukkie weerloosheid aan ‘n vrou wees nie?  Daai stukkie wat vir ‘n man sê, “Hier is ek, vat my, beskerm my en wees my veilige hawe.”  Is ons nie daai klein stukkie aan die manne in ons lewens verskuldig nie.  Beteken “kompromie” die aflegging van jouself, of beteken dit die bewys van jou liefde? 

Is dit nie waar dat meeste buite egtelike verhoudings spruit uit die feit dat die derde party hulp nodig het nie?  Uit dit wat ek al ondervind/gelees/gesien het, is dit gewoonlik wanneer die man die “ander vrou” bystaan in tye wat vir haar moeilik is, hetsy dit ‘n egskeiding is waardeur sy gaan of as sy haar man aan die dood afgestaan het.  Dit is wanneer die man sy geleentheid kry om die ridder op die wit perd te wees.  En een ding lei tot ‘n ander en so meer ensovoorts.

Wat, per slot van rekening, is fout daarmee om jou man toe te laat om die lampie te vervang, of om die lekkende kraan reg te maak al kan jy dit self doen?  Is dit dan eerder ‘n bewys as ‘n swakheid, of is dit ‘n bewys dat jy genoeg omgee om jou man die geleentheid te gee om behulpsaam te wees?

Ek wonder maar net. 

En dan wil ek sommer op die “stoute” trein klim en julle laat met die volgende.

L – Listige Delila.  Wees so listig dat jou man nie kan wag om sy krag te verruil vir ‘n stukkie van jou nie.
I – Inhibisieloos – Speel ‘n bietjie.  Wees avontuurlistig.
B – Brand met passie vir jou man.
I – Innigheid.  Hou hom styf vas en vertel hom hy is jou hero.  Vertel hom hoe sterk en aantreklik hy is.  Vertel hom dat hy ‘n wonderlike minnaar is.  (Nie die beste nie – want dan wonder hy met wie jy hom vergelyk.
D – Druk hom vas.  Op meer as een manier.  Daar is mos ‘n paar spiertjies wat ons dames het wat ons kan gebruik.
O – Oop vir geleenthede.  Onthou, elke geleentheid wat jy misloop, kan jy nooit weer inhaal nie.

Blou Maandag

Januarie 26, 2009 in Sonder kategorie

Vandag is Blou Maandag
Blouer as die blouste blou

Met intriges en krisisse
wat een vir een ontvou

Hoekom kan ons hierdie
dag nie iets anders noem?

Soos hierdie is Maandag
van die groenste groen

Of ‘n dag van vele kleur
geel, pienk, pers en rooi

Dan kan ons die Maandag
met ‘n nuwe gesiggie tooi.

Lekker Maandag vir almal!!!

Dankie, dankie …

Januarie 23, 2009 in Sonder kategorie

My seun se bakkie is opgespoor want die ding het onklaar langs die pad geraak, omdat hulle deur diep water gejaag het.  Dit klink nie asof daar groot skade is nie.

Ons is verskriklik dankbaar dat die bakkie gaan staan het en dat hy gevind is!

Ek wil kla, en ek gaan kla ….

Januarie 22, 2009 in Sonder kategorie

As gevolg van die feit dat dit meeste mense in Suid Afrika se stokperdjie is om te steel het ons, as ‘n huishouding, die afgelope 2 jaar die volgende afgestaan aan nasiebou:

1.  Laptop – Het versekering gehad, dus is hy uitbetaal.
2.  My selfoon
3.  My jongste se selfoon terwyl hy met ‘n (bibi)geweer aangehou is
4.  My man se bakkie
5.  My oudste seun se selfoon
6.  My kinders se fietse
7.  Weereens my selfoon
8.  My man se selfoon en sy werkers se lone
9.  My jongste se selfoon terwyl hy met ‘n mes gedreig is
10.  En laaste maar nie die minste, gisteraand is my oudste seun se bakkie gesteel. 

So, my hartjie is seer vir my kind.

Ek wonder soms

Januarie 21, 2009 in Sonder kategorie

Ek wonder soms of jy deur die dag se aanhoudende geknetter,
my stem kan hoor.

Wanneer woorde soos rooi granaatstroop oor jou lippe drup,
ek jou aandag verloor.

Dit is wanneer ek jou wil roep, jou nader wil trek, jou asem
teen my wang wil voel.

Jou in my, oor my, onder my en om my soos die reën om my voete
wil laat poel.

Ek wonder soms …

Ek kan net sê dankie …

Januarie 21, 2009 in Sonder kategorie

Gistermiddag, toe die donderwolke saampak en die wind huil en die blitse blits, toe kom lê my jongste langs my op die bed met ‘n koffietjie vir sy ma met ‘n mashmellow in.  Ek het sommer so ‘n warm gevoel om my hart gekry.

En ons het gesels en gesels.  Hy wou weet wat ek dink van godsdiens, van die natuur, oor medikasie, oor AIDS en oor soveel ander dinge.

En daarvoor sê ek dankie, dankie dat ons kon gesels, dankie dat ons ‘n oomblik gehad het waarvoor ek nou al seker ‘n jaar voor bid.

En ek moet bieg.  Die mannetjie het insig.  Meer as wat ek gedink het.

Ek bly mos in Prostitiet Hoofstad

Januarie 20, 2009 in Sonder kategorie

en kyk waarmee hou die polisie manne hulself besig.

Klik hier

Sommer so helder oordag, in die middel van ‘n stopstraat gesels hulle so ‘n bietjie met die vrou van die hoek.  Dis net jammer my selfoon het nie genoeg geheue gehad nie.  Maar die gesprek het so ongeveer 10 minute geduur terwyl motoriste om die polisie bussie moes ry.

My maag trek sommer op ‘n knop …

Januarie 19, 2009 in Sonder kategorie

as my Lifiki se verjaarsdag aanbreek.  Want ek weet nie wat om vir hom te koop nie!  Dit help nie om te vra nie, want hy trek net die skouers op en sê, “Moenie oor my worry nie.  Ek het niks nodig nie.” 

Jitte, ek beplan my geskenk al maande voor die tyd en maak voorbereidings.  Wys eers prentjies, skimp en vertel oor wat ek van hou.  So maak ek seker dat ek kry wat ek wil hê, want as ek dit aan hom oorlaat, sal hy tien teen een vir my iets koop wat ek in die huis kan gebruik.  En dit is ‘n kans wat ek nie sal vat nie.  En natuurlik om die proses van geskenk soek vir hom aansienlik makliker te maak omdat hy so ‘n besige mens is, en nie tyd sal hê om te soek nie.

Maar hy is soos ‘n toe boek.  Eintlik meer soos ‘n sekere deel van ‘n klei-os se anatomie, maar ek is te oordentlik om dit te sê. 

Dan dink en bepeins ek.  Loop deur winkels, weeg die opsies, bekyk, bevoel en bevat.  Terwyl my kop al hoe deurmekaarder raak met elke ding wat ek dink gepas kan wees. 

Ek hoop maar dit wat ek hom gekoop het, hom belangriker sal laat voel as Barak Obama wat more ingesweer word as die eerste swart president van die VSA. 

So my raad aan mans vir as julle die perfekte geskenk wil hê:

1.  Sorg dat daar genoeg onderbroeke, dasse, sakdoeke en kouse in jou kas is en dat daar genoeg tools in die garage is.
2.  Koop ‘n tydskrif met ‘n foto en verkieslik ‘n beskrywing van die item, omkring dit met ‘n “permanent marker” en sit dit waar sy dit kan raaksien.
3.  Vertel hoe jou vriend “Piet” so ‘n ding het, en hoeveel gemakliker sy lewe daarmee is.
4.  Praat oor al die voordele wat dit inhou.
5.  Vergelyk dit met soortgelyke items
6.  En vra so nou en dan of sy gesien het dat die item op ‘n uitverkoping is by die en daai winkel.
7.  Vat haar na die winkel toe en terwyl sy daar ronddrentel, maak onopsigtelik seker dat sy sien hoe jy die item ondersoek en elke woord op die verpakking lees.  Roep sommer die bestuurder nader en vra hom ‘n paar vragies oor die item.  Natuurlik binne onopsigtelike hoorafstand.
8.  Wanneer julle huistoe ry en sy vra jou of dit is wat jy graag wil hê, dan antwoord jy liefies.  Ag enige iets wat jy vir my koop sal reg wees my skat.  Solank dit net uit die hart uit kom.

So maak jy omtrent 99% seker dat jy gaan kry wat jy wil hê.

Ek erken … ek is pieperig ….

Januarie 18, 2009 in Sonder kategorie

Maar hierdie man van my gee pieperigheid ‘n slegte naam!  Dit mor en grom, moan en groan, sug, hoes en proes.  Maar van gaan lê wil hy niks weet nie.  Nee, hy moet die heeltyd vir my kom vra wat ek doen.  Hoekom is ek op Facebook?  Hoekom lê ek so op litnet ens ens ens.  Plaas dat hy net gaan slaap.  Dan het ons altwee vrede!!!!

So – eintlik wat ek vir hom wil sê is ….

Word gesond of …..