Jy blaai in die argief vir 2008 Desember.

As jy 2008 kon oordoen …

Desember 26, 2008 in Sonder kategorie

Wat sou jy wou verander?

Wat sou jy anders wou doen?

Dit is waaraan ek nou dink as ek terugkyk na 2008.

Ek sou graag die feit dat ons deur ekonomiese drukte verkeer, wou verander.  Meer aandag aan my verhuringsbesigheid gegee het.  Nou moet ek net drie keer so hard hierdie jaar werk.  Selfde vir my website designing and hosting.  Te veel ander dinge gehad wat die aandag afgetrek nie.  Ek gaan die jaar oogklappe aansit en my oog net op my einddoel hou.

Wat ek anders sou wou doen?  Ek sou beter na my gesondheid gekyk het.  Meer vir my Ma gaan kuier het.  En ek sou vriendeliker gewees het.  Dalk ‘n bietjie my humeur onder hande neem …..

Historektomie … en als

Desember 16, 2008 in Sonder kategorie

Al gewonder hoekom dit ‘n historektomie genoem word?  Ek het beslis die antwoord.  Dis omdat ek histeries aan die lag gegaan het toe ek hoor ek moet een kry of is dit verloor?  Nie gelag omdat ek bly was nie, allermins, lag omdat ek nie daar voor die dokter met sy bloue oë wou begin tjank nie. 

Wat ‘n voorbereiding!  Eerstens nagklerke.  En nee, nie gemaklike toppies met broeke nie, nee, daai goed wat mens nagkabaai noem.  Lang rokkerige goed wat so onder jou infrommel en wat jy niks aan kan doen nie, omdat jou lyf te seer is om op te lig sodat die goed reggetrek kan word. 

Die hare kortgesny.  Was lanklaas in my lewe so kort.   Maar ek verstaan vandag want ek is nie eens lus gewees om die hand op te lig om dit te kam nie.

Voor die operasie vertel ek mooi vir my Lifiki.  Jy moet sorg dat hulle die gordyne ordentlik om my toetrek as ek terugkom.  Ek wil nie hê almal moet van hollangs tot in paraguay kan sien nie.  En as hulle klaar is met my, dan maak jy my mooi toe.  Net die gesig mag uitsteek.  Arme ding het maar ja geantwoord op elke ver(opdrag)soek.

Toe die langverwagte oomblik aanbreek loop hy saam met my na die operasiekamer.  Alles is toe nog heel okay.  Ek is braaf en glimlag liefies vir almal, maar ek weet …. ek ken myself …. daai oomblik gaan aanbreek.

En so is dit toe, die oomblik toe ek hom moet groet en hulle my so om die hoek stoot toe vloei die trane soos die dooie see begin vloei het na die Israeliete daardeur is.  En ek hik soos ek snik.  Dit het omtrent ‘n gepaai van ‘n ander wêreld gekos.  Maar gelukkig het my mooi blou-oog dokter my hand kom vashou, die trane afgevee en mooi gepraat en ek het salig weggeraak.  Na daai gevoel kan ek verstaan hoekom mense gewoond kan raak aan daai gevoel.

Maar die wakkerword slag.  Ek het gedroom daarvan.  Ek’t gedroom my Lifiki hou my handjie vas – net soos op die tv – en ek knipper my ogies so een, twee, drie keer en dan maak hulle stadig oop en kyk vas in die glimlaggende gesig van my lifikie ….. SCREEECH …. CUT …. dit voel asof ‘n swetterjoel mense om my bed staan en almal ruk en pluk aan my.  Ek soek sy gesig maar dit swem alles.  Ek skree “My Engel!!!” en probeer regop kom.  Hulle druk my af.  “Mevrou jy moet kalm raak”  maar ek beur en skree “Help my, hulle verdrink my!!!”  maar hulle hoor nie, hulle druk my vas  “Mevrou raak nou rustig” …. en dis al wat ek onthou tot ek wakker word met Lifiki wat my hand vashou en ek my ogies so drie keer knip en vir hom terugglimlag en hy my hare (stoppels) saggies vryf.

Die eerste ding wat ek wil hê – natuurlik – is ‘n sigaret.  Die nursie sê “dis nie ‘n probleem nie” (verbasend) en sy skakel ‘n portier en ek word ben-en-al buitentoe gestoot en lê daar onder die sterrehemel en rook.  Heerlik.

Daarna lekker geslaap maar ooooo weeeee!  Half flippen vyf word die ligte aangeslaan.  “Mevrou, u kan maar opstaan en gaan was terwyl ons jou bed regkry.”

Fokkit – hulle is seker nie ernstig nie.  Maar ek gaan nie wys ek is eintlik ‘n pissie nie, en beur myself orent en van die bed af.  Loop met al die parafanalia toilet toe en gaan sit daar.  Die pyn is iets wat ek nie hier kan beskryf nie.  Nodeloos om te sê, ek het net die tande geborsel en toe dankbaar weer teruggeklim in die bed.

Daar gelê soos ‘n vrotvel.  Elke keer as hulle vra of ek iets vir pyn wil hê, ja gesê en so myself gedose gehou solank ek kon.

Gelukkig kon ek vinnig huistoe.  Gepantser met ‘n sakvol setpille ( van alle dinge!!!!)  Het jy al probeer om vir jouself ‘n setpil in te sit?  Geen verdere opmerkings daaroor nie.

Maar vandag voel ek weer mens.  Die pyn is nou meer aanvaarbaar.  Kan gemakliker beweeg, maar rus, rus ek.  Ek dank die vader ek het gelukkig net een baarmoeder!  gehad 🙂

Die Gelofte

Desember 16, 2008 in Sonder kategorie

“Hier staan ons voor die Heilige God van Hemel en aarde, om ‘n gelofte
aan Hom te doen dat, as Hy ons beskerm en ons vyand in ons hand sal
gee, ons dié dag en datum elke jaar as dankdag, soos ‘n sabbat, sal
deurbring en dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit hom behaag,
en dat ons aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel
tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van Sy
naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan
Hom te gee.”

Baie dankie!!!

Desember 11, 2008 in Sonder kategorie

Baie dankie vir elke goeie wens, elke sagmoedige en bemoedigende woord van elkeen hier.  Julle het my deurgedra.  Ek is tuis, nog nie gesond nie, maar tuis.  Ek vra nog bietjie geduld met die stasie.  Sal beslis binne die volgende week weer aan die gang wees.

Kry gerus julle goedjies reg.  Julle sal nie glo hoeveel belangstelling ek gekry het met die stasie nie.  Ek wil elkeen deel daarvan maak.  Julle waardevolle insette is van kardinale belang.  Werk saam met my om Afrikaans positief te hou!

Hi almal

Desember 8, 2008 in Sonder kategorie

Vir die wat wonder hoekom ek so stil is die laaste tyd.  Net om te sê my gesondheid het my bietjie in die steek gelaat.

Ek gaan more in vir ‘n operasie en hopelik oor twee weke sal ek weer my ou self wees. 

Dan gaan die stasie en my blog weer oorkook.  So kry julle skryfgoedjies reg.  Julle skrywes is almal so goed, dit is altyd vir my moeilik om te besluit wat om voor te lees.  Stuur asseblief soveel moontlik aan.  Ek gaan vir ses weke baie tyd op hande hê.

Groete

Wanneer mens by ‘n kruispad kom …

Desember 5, 2008 in Sonder kategorie

Partykeer wil die lewe vir jou sê
staan stil, kyk stadig om jou rond
maak seker van wat jy regtig wil hê
want die lewe is eintlik van korte stond

Daar’s nie werklik soveel tyd
as wat ons in ons onkunde dink
doen reg en goed sonder spyt
iewers is ‘n kruispad wat wink

Weet jy ek is vrou?

Desember 1, 2008 in Sonder kategorie

Weet jy ek is vrou en dat jy vlindersag deur my hart moet beweeg?

Besef jy dat jou geluk, jou liefde, jou alles, soos ‘n web deur my lewe weef?

Vat my hand vanaand en kom ons vlieg weg …

Maak oop jou hart en voel my asem deur jou vleg

Sprei jou vlerke my lief, sodat ek in hul koelte rus kan vind

Vou my toe met jou hande en beskerm my teen lewe se wind.

Weet jy dat ek jou liefhet met hart, siel en vlees?

Weet jy dat jou menswees een is met my gees?

As ons saamvlieg met ons gesigte na die son

Sal jou liefde hier in my hart klop en klop soos ‘n drom.

Ja my lief, as jy net kan besef, verstaan

Dat jou liefde, my vryhed se weg oopbaan.

Weet jy ek is vrou?

Weet jy ek is lief vir jou?

Weet jy dat jy nie elke dag jou sterkte aan my moet bewys?

Dat, deur net jy te wees, gelukkig maak my lewensreis?

Weet jy dat ek oor die Drakensberg vir jou sal loop?

Wel nie kaalvoet nie, maar met tekkies by PEP gekoop?

Weet jy dat ek soos Rageltjie van ouds vir jou sal beskerm

Nie heeltemal kaal nie, omdat ek my oor my plooie ontferm?

Weet jy dat ek altyd vir jou, my lief, daar sal wees.

Dalk nie in vlees, maar altyd in gees.

Weet jy dat as jou woorde soos ‘n vulkaan oor my sproei

My hart se wande in hul hitte verskroei?

Ek vra nie baie, ek vra nie veel.

Ek wil net graag jou lewe met jou deel.

En as ek in die oggend my hare kam en my “magic wand” my gesig omtower

En ek so skalks oor my skouer vir jou loer, weet jy … weet jy rêrig

Dat jy my hart vir ewig, het verower?