Jy blaai in die argief vir 2008 September.

Ek wil ‘n lorrie hê

September 30, 2008 in Sonder kategorie

Soos meeste van julle weet, was ek voorheen getroud met ‘n baie lui, maar
diepgelowige man.  Ons het baie swaar
gekry en van die hand na die mond geleef.

 

Chromosoom (dis my bynaam vir hom, nadat ons geksei is) was nie baie groot op die werksoek ding nie.  Ek dink hy’t werk gesoek maar gebid hy kry
nie.  Snaaks, die gebed van hom is altyd
verhoor.

 

Maar ek moet hom krediet ook gee. 
Hy was nooit sonder ondernemingsgees nie.  Altyd aan’t dinke aan die volgende “scheme.”

 

Graag vertel ek vir hulle van die een wat my altyd sal bybly. 

 

‘n Barmhartige samaritaan reël vir Chromosoom dat hy ‘n lot hout by ‘n
boer kry.  Die hout kan
dan verkoop word sodat ons ‘n paar rand kan
maak.  Daar is egter net een klein – of
eerder groot – probleem.  Chromosoom moet
reël vir ‘n lorrie sodat die hout gehaal kan
word.  Ek het darem gereël by ‘n persoon
in Potch om die hout by ons te koop.

 

Dan moet ek ook vir Chromosoom nog krediet gee.  Sy geloof is groot.  Hy het geglo dat as mens bid, dan val alles
sommer so vanself uit die hemel.

 

Hy besluit toe ook, dat ipv om pro-aktief te soek vir iemand om die
lorrie vir ons te leen/huur,  hy eerder
gaan bid vir die lorrie.  Mense, dit was
‘n gebid uit ‘n ander wêreld!

 

Op daardie stadium was ons huur ook agter.  Geen kos in die huis.  Geen krag, niks.  So as ek vir julle sê ek het al swaar gekry,
dan bedoel ek dit.

 

So bid chromosoom die hele middag. 
Ek voel later so skuldig dat ek ook maar saam begin
bid.   Want as ons die lorrie kry sal ek weer ook
nie die einde van my kleingelowigheid hoor nie.

 

So onder die gebede deur hoor ons toe die wondergeluid.  Die gedreun van ‘n lorrie!  Ek kon nie my oë glo nie.  Daar stop ‘n lorrie reg voor ons deur!

 

Chromosoom het sommer opgespring en opgewonde na die deur gehardloop.

 

Ja mense, daar was ‘n lorrie. 
Maar nie die lorrie wat ons gedink het nie.  Nee, dit was toe al die tyd die balju wat ons
goed kom opskryf vir die huur wat ons skuld.

 

Die “moral of the story” – as mens bid, moet mens spesifiseer presies
wat jy wil hê.  Want dit wat jy kry, is
gewoonlik nie dit wat jy ingedagte gehad het nie.

 

Maar ek het positief gebly, chromosoom onder sy alie geskop en ‘n
splinternuwe wonderlike lewe vir my en my kinders begin.  En daaroor sal ek nooit spyt wees nie.

 

Maak nie saak hoe negatief iets is nie, mens kan altyd iets positiefs daaruit leer.

 

Goeie môre my sonskyn …

September 30, 2008 in Sonder kategorie

Goeie môre my kind …

Dis die liedjie wat altyd in my gedagtes kom woel as ek die dag in ‘n goeie bui opstaan.  En ek dink terug toe ek nog by een van die groot Versekeringsreuse as adviseur gewerk het.

Daar was ‘n dametjie wat nie baie gewild was nie.  Eintlik was sy baie stil en op haar plek, maar ongelukkig vir haar, die baas se witbroodjie.  Sekerlik nie haar skuld nie.  Sy was maar net een van daai mense wat alles volgens die boek doen.  Geen plek vir draaie vat of ‘n kortpad inwerk nie.  Nee, sy het dinge reg gedoen. 

My groot vriendin se kantoor was net langs hare en so swarrel ek die oggend – vroeg vir ‘n verandering – die kantoor se gang binne.  Ek kyk nie links of regs nie.  En daar waar ek dink my vriendin se kantoor is, drapeer ek myself in die deur en sing uit volle bors.

“Goeie môre my sonskyn, goeie môre my kind”

En toe ek nou mooi tot verhaal kom en die kantoor so op die keper beskou, besef ek dit is nie my vriendin se kantoor nie.  Agter die lessenaar sit juffrou “prim and proper” met ‘n glimlag so wyd soos die Heer se genade, op haar gesig.

“Môre Maryke,” het sy geantwoord.  “Dit is sekerlik die mooiste oggendgroet wat ek al ooit gehad het. Lekker dag vir jou ook.” 

Wat meer kan ek sê?

Leë nes simptoom …

September 29, 2008 in Sonder kategorie


Vir my oudste wat nou uit die huis uitgetrek het …


Wens ek kon jou hand vat

En jou paaie vir jou loop.

 

Wens ek kon jou drome sien

En dit alles vir jou koop.

 

Wens ek kon al die einas

Van jou lewe wegstroop.

 

 

Maar ek kan net op ‘n afstand

Met my raad jou probeer lei.

 

Met liefdevolle moederswoorde

Die angste vir jou bestry.

 

Met uitgestrekte hande

Jou optel as jy gly.

 

 

‘n Groot geskenk uit
Vadershand

Om op te pas en te leen.

 

‘n Kind aan my toevertrou

Vir liefde, leiding en steun.

 

My kind, my kleinood, my hart
se punt

Mag, altyd, vrede en vreugde
op jou reën.

Om getrip te word …

September 29, 2008 in Sonder kategorie

Dit is snaaks, die bekoring
wat skoene van kleinsaf vir my ingehou het, en elke paar skoene in my kas, het
my altyd soos ‘n ander mens laat voel.

 

Ek het al baie verskillende
soorte skoene gehad.  Rooies, geles,
pienkes, swartes, plattes met strikkies, hoeës met diamantjies, plakkies,
klompe, sandale en stewels.  Noem ‘n
soort en jy kan
seker wees dat so ‘n tipe skoen al ‘n draai in my kas gemaak het. 

 

My gunsteling skoene is ‘n
paar swart wighakskoene, met borduursel en blinkers op die tone.  Daardie opreg ingevoerde skoene vanuit China.

 

Wanneer ek hierdie skoene
aantrek is dit soos daardie Samsung advertensie.  Die een waar die man en vrou in die kamer
besig is om aan te trek.  Wanneer die
vrou haar skoene aantrek gooi sy haar hare so oor haar skouer en glimlag.  Julle weet mos.  Ek kan nie
vir julle vertel hoe die selfoon lyk nie, maar die skoene wat sy aantrek, kan ek in die fynste
detail aan jou beskryf.

 

Ja, dit is hoe ek voel as ek
my swart skoene se bandjies om my enkels bind. 
Dis asof daar ‘n lied van êrens begin speel.  Ek vergeet van alles en almal om my en ek
verander in die mees aantreklikste vrou Suid van die Sahara.  My hare val nou weliswaar nie so golwend oor
die skouers nie, maar hulle val.  My bene
lyk nie so asemrowend soos hare nie, maar met ‘n paar Photoshop-sessies,
behoort hulle tog deur te gaan as “nie te sleg nie.”

 

So bind ek daardie bandjies
vanoggend om my enkels.  Trek die bloes
‘n bietjie afwaarts om die ou magie wat so effens wys, te verbloem, glimlag vir
myself in die spieël en gee selfs so ‘n skelm oogknip gepaardgaande met ‘n
skalkse glimlaggie.  Want ek het die skoene aan. 

 

Hierdie skoene verander my
uitkyk oor die lewe.  Hulle gee ‘n huppel
in my stap, en vir een of ander onverklaarbare rede, voel ek soos ‘n koningin
in hierdie skoene en die wêreld is my onderdane.  Niks kan
my keer nie.  Ek is op die oorwinningspad
met my getroue skoene wat my lei na paaie waar ek nie voorheen was nie.

 

As ek hierdie skoene aanhet,
kan ek net
nie my neus uit die lug uit kry nie.  Dit
is amper asof ek iemand moet huur, om vir die skare mense om my, met ‘n wit
handskoen te waai.  Ek is in die sewende
hemel, my persoonlike skoen-geindusseerde “high.”

 

So stap ek, skouers
agtertoe, neus in die lug die straat af. 
Die musiek in my ore, die wind in my “golwende hare”, my byderwetse romp
wat swiep, swiep teen my bene en KARPLAKS sloeg ek neer op die sypaadjie.

 

Jy sien net lipstick,
mascara en ander meer privaatgoed trek oor die sypaadjie en met pyn wat soos
messteke deur my knieë klop, skraap ek al my “belongings” bymekaar, terwyl ek
onderlangs probeer loer wie my gesien het.

 

Dit is toe ek die netjies
gepoleerde skoene voor my gewaar.  My ma
het altyd gesê, “Jy kan
‘n man ken aan sy skoene.”

 

So vervang die warm gevoel
wat om my hart sprei stadig maar seker die kloppende pyn in my knieë.

 

My oe gly stadig van die
blinkswart skoene op teen die “designer” broek wat seker “gepress” is by die
“drycleaners”, op na die blink gespe wat ‘n skaflike middel omgord.  Dan die syhemp, oor die adamsappel en dan oor
die skerp ken en word dan vasgevang deur die diepblou oe wat my vraend aankyk.

 

Kan ek help?” vra hy vriendelik.  “Het jy seergekry?”

 

“Ughm, nee, ja, dankie, nee
. . .,”  stotter ek onsamehangend.  Al wat seergekry het is my trots
natuurlik.  As my neus nie so hoog in die
lug was nie, sou ek die dekselse boks raakgesien het.  O ja, en my knieë wat my nou weer sterk begin
herinner aan my neervalslag.

 

Kan julle julself die prentjie indink?  ‘n Vrou wat helder oordag handeviervoet voor
‘n man op ‘n sypaadjie staan, en soos ‘n “lovesick puppy” in sy oe staar?

 

Dan, na seker ‘n paar
dekades se oomblikke verby is, sien ek hy het sy hand na my uitgesteek.

 

“Gee my jou hand,” glimlag
hy.

 

Ek sou rêrig eerder hierdie
woorde iewers anders wou hoor, maar nou ja, hier is seker beter as nêrens.

 

Ai, toe ek my hand in syne
sit, is dit asof daar ‘n trilling deur my lyf gaan.  Ek is totaal en al verlore.  Versigtig staan ek op.  Ek weet nie of ek nou regtig versigtig was,
of was dit ek wat die oomblik langer wou uitrek nie.  Maar dit was ‘n wonderlike oomblik.  My hart het in my keel geklop.

 

Toe ek regop voor hom staan,
haal hy sy ander hand agter sy rug uit met ‘n pragtige bos geel rose.  My gunsteling blomme!

 

“Ek het hierdie vir my vrou
gaan koop,”  verduidelik hy.  “Sy was in die laaste tyd so anders en
stil.  Ek het gedink dit sal haar
opbeur.”

 

Ek het die rose uit sy hand
gevat en teen my bors vasgedruk en die aroma diep ingeasem.

 

“Kom ons gaan drink ‘n
koppie koffie hier by die koffiekroeg.”

 

Ek het hom woordeloos
gevolg.  Hy het vir ons ‘n tafel gekry.

 

Kan ek vir jou bestel?”

 

“Ja,”  stotter ek. 
“Ek wil net gou ‘n draai gaan loop.”

 

In die badkamer haal ek my
selfoon uit en skakel ‘n nommer.

 

“Erasmus en Kirstein
Prokureurs,” antwoord ‘n jong stem.

 

“Dit is mevrou Klein wat
praat.  Ek wil graag my afspraak met mnr
Erasmus kanselleer.  Ek en my man het
mekaar weer gevind.  Ek wil nie meer skei
nie.”

 

“Is u seker mevrou,” vra sy.

 

“Ja, ek is seker.  Dankie.”

 

Toe keer ek terug na die
tafel in die hoek waar ons altyd sit. 

 

“Ons moet praat my vrou,” se
hy terwyl hy my hand in syne hou.  “Ek is
jammer ek het jou afgeskeep.  Jammer dat
ek nie wou luister nie.  Ek besef ek was
verkeerd.  Kan jy my vergewe?  Kan
ons weer probeer?”

 

Met trane in my oe, pynende
knieë en ‘n dankbare hart het ek natuurlik ingestem.

Wat’s in? Wat’s uit?

September 28, 2008 in Sonder kategorie

Ek moet bieg … ek is ‘n tydskrifvraat!  Tydskrifte is so deel van my begroting soos die pak “one ply” toiletpapier wat noodgedwonge elke maand gekoop moet word.  (Die probleem is, as ek nou die nuwerwetse “three ply ” koop, dan moet ek nou een of ander, ander meer belangriker plesiertjie opsy skuif sodat ek daai sagter as sag sensasie kan beleef.  En “afterall” ….)

Dan moet ek nog verder bieg … ek gooi nie maklik ‘n tydskrif weg nie!  Nee, elke Saterdag pluk ek ‘n jaaroue tydskrif uit en lees hom van A to Z.

Hierdie Saterdag was dit ‘n Sarie.  My jarelange vriendin deur dik en dun (letterlik en figuurlik).  Hierdie Sarie was die een van laasjaar September.  ‘n Bumper issue!  ‘n Volle 256 bladsye en as bonus, pryk die pragtige Bertha voorop.  Werklik waarde vir geld!

En kort voor lank land ek op bladsy 157 by “wat’s in? wat’s uit?”

Laas jaar hierdie tyd, lees ek, was Angeliere, Amarrillas, Fuschia pienk, oorgrootte knyp-handsakke en pa’s soos Brad Pitt en Johnny Depp in.

Wat uit was, was Babertonse Madeliefies, uitgewaste pastelkleure, klein kettinghandvatsel-handsakke en pa’s soos David Hasselhoff.

En my eerste gedagte?  “Sê wie!?”

En het nog nooit van Angliere ghou nie!  Vir my was dit nog altyd begrafnisblomme.  ‘n Angelier is vir my soos wilde diere.  Mooi op die TV en in die veld waar hulle hoort.  Ek sal nou nie uit my pad uit gaan om een te sien nie.

Fuschia pienk – ‘n pragtige kleur!  Dit skree warmte, liefde en lewe!  Mooi, asemrowend mooi!  Maar pastelkleure is ook mooi.  Daardie mooi pienk wat jou aan roomys laat dink.  Die blou wat jou kan laat glo dat jy kan vlieg to hoog bo, daar waar die lug suiwer en skoon is, daar waar die son op jou vlerke kan speel.  Dan die groen, “clean and crisp”.  Vars soos ‘n lentebries!

Dan die groot handsakke debakel.!  ‘n Onderwerp wat uitgebrei kan word tot in oom Daantjie en sy kallerhok.  ‘n Oorgroot handsak is nice!  Maar so is tee, flou koffie en mens se allerdaagse bestaan.  Persoonlik hou ek ook nie van daai klein “clutch bags” nie.  Jy kan tog niks noemenswaardig daar inpak nie.  Nee, gee my eerder ‘n gewone middelslag handsak wat nie aan alles vashaak en boonop soos ‘n “glorified tog bag” oor my skouer hang nie.  Groot genoeg vir al’s wat ek daagliks nodig het en klein genoeg sodat my stoof en yskas nie kan inpas nie.

‘n Pa soos Brad Pitt kan ek nog so op ‘n manier verstaan.  Sag op die oog, mooi glimlag en sekerlik ‘n hand wat kan raakvat as dit moet.

Maar, o wee, Johnny Depp!  Spaar my dit!  Dit lyk nie eens asof hy sal weet wat om met ‘n hammer en spyker te doen nie.  Wat nog as daar ‘n ongure karakter op die huis se voorstoep verkyn?

Gee my eerde ‘n pa soos David Hasselhoff.  Daai weerbarstige krul kuif wat so op sy voorkop speel.  ‘n Man wat lyk asof hy al ‘n paar draaie op die lewenspad gestap het.  ‘n Man waar karakter oor sy gesig geskilder is.  ‘n Man wat sy man kan staan.  Dit is ‘n man wat enige tyd my pa kan wees.  En as hy vir sy dogter kom kuier met ‘n bos Babertonse Madeliefies … des te beter!

So – is ek in of is ek uit?  Ek gee nie werklik om nie.  Want net laasweek is gehekelde goedjies aangeprys as DIE nuwe modebykomstigheid as jy jou huis wil dekordeer sodat die nie afsteek by die Van der Merwe’s, die Mamepe’s en die Mohammed’s nie.

Dankie tog dat ek ouma se gehekelde goedjies mooi weggesteek het diep agter in my linnekas.  Nou kan ek hulle uithaal en tentoostel met trots.  Net een vraag … wat doen ek nou met die kitch suiwer wit linne (of is dit nou katoen) die burnt orange, rooi en die kilms wat ek twee jaar terug op aanbeveling van ‘n ander toonaangewende tydskrif gekoop het?

O ja my naskrif ….

Dankie tog vir Sondag Rapport wat vandag verklaar het dat bolletjie borste, soos Victoria Beckham sin, nou uit is en dat ontwerpers druppelvormige borste nou die in ding is.

Dit is jou werklik ‘n groot verligting.  My druppels is nou nie “designers” nie … maar hulle is ook nie ‘n d..druppel in die emmer nie!!

Dis naweek …

September 26, 2008 in Sonder kategorie

Ek weet dis maar skaars Vrydag hier waar ek sit, maar ek is so kratervol vir die week dat ek sommer besluit het die naweek begin … nou!!!!

Ek onthou nog die dae toe ons kinders was.  As pa en ma moeg was, het hulle sommer die phone uitgeplug en voila, jy is afgesny van die buitewêreld.  Geen oproepe nie, niks nie.  En in daai tye het mense nog respekte gehad.  Hulle het nie sommer net opgerock wanneer hulle jou nie in die hande kry nie.  Nee!!  As jy hulle weer raakloop in die dorp of by die kerk, dan vertel hulle vir jou dat hulle bietjie wou oorkom, maar daar was nie antwoord nie.

Maar in vandag se samelewing is jou privaattyd mos nou nie meer jou eie nie.  As ek my kekkelboks afskakel vir ‘n bietjie stilte, dan moet ek die aand by my wederhelfte hoor, “Die en die het jou gesoek.  Hulle sê hulle kry jou nie in die hande nie.”  En dan ook nie met die mees vriendelikste uitdrukking op sy gesig nie.

Wat is dan so moeilik om te verstaan?  As iemand se foon af is, is daar tog ‘n rede.  Of die foon is pap, of die persoon is nie lus om te gesels nie.  En wat my nog meer dwars in die krop steek is die feit dat die mense dink hulle is SO belangrik, dat ek “come hell or high water” met hulle moet praat!  Of ek nou lus het of nie.

En wat my nog meer de vieste in maak, is wanneer mense met die “unknown number” funksie bel.  Duidelik weet die persoon, dat as jy kan sien dis hy wat bel, sal jy nie met hom wil praat nie, daarom probeer hy jou flous om met hom te praat.  Ek val nie meer vir daai een nie.  Ek ignoreer ‘n “unknown number” soos my skaal in die badkamer.  En as die persoon weer bel en ek sien die nommer, en die persoon hak af met, “Ek kry jou nie in die hande nie.”  Dan is my verweer altyd, ek het nie ‘n “missed call” van jou gehad nie.  En dan begin die verduidelikings.  “OOOOO,” sal ek dan antwoord, “Ek kan nie ‘n “unknown number” terugbel nie.”

Maar die mees verwaandste is die een wat drie of vier keer bel, en dan besluit, hy sal tog maar net ‘n kans vat en kyk of jy nie by die huis is nie.  En ek moet bieg, gewoonlik is die dae wat ek my foon afsit, die dae wanneer ek nie mense wil sien nie.  Dan slons ek rond in my oudste klere, my hare sommer so bo-op die kop saamgenes en die gesig het nie eens ‘n beduiding van kleursel nie.  En as die iiritant met ‘n skaapglimlag voor die deur vir jou sê, “Ek hoop nie ek pla nie.”  Hemele behoede my!!!  Dan kan jy nou ‘n eier in my oor kook!  Ek haat dit as mense my dwing om omverkoning te vra vir my voorkoms. 

Maar vandag, vandag is my foon af, die deurklokkie ontkoppel en dis net ek en my musiek en my getroue laptop wat nie terugpraat of in my ore kerm nie.

Ek dink, as daar iemand is met ‘n bietjie ondernemingsgees en ‘n klankdigte slaapfasiliteit op die been kan bring, waar mense soos ek vir ‘n week kan gaan slaap, sal ek die eerste customer wees.  Ek smag na stilte.  Ek wil nie die gezoem van die yskas hoor, of die ge”shissss-shisss” van die verkeer in die verte, en die alewige gekraai van my bure se hoenderhaan hoor nie.  Ek wil stilte hê.  Daai stilte wanneer die krag afgaan.  Daai hemelse stilte ….

Om straf deur te voer …

September 25, 2008 in Sonder kategorie

Ek kan partykeer hard en ongenaakbaar voorkom, maar waar dit my kinders aanbetref, is ek soos putty.  Hoekom, hoekom en nogmaals hoekom?

Na die sms storie met my seun het ek hom gestraf.  Sy jaarlikse instelling is om met Aardklop vir die week Potch toe te gaan en daar saam met sy maats te kuier.  Maar agv sy oortreding, het ek vir hom gesê, as ek deurgaan vir die dag, dan kan hy saam, en die aand kom hy saam terug.  Dit is sy straf!

Maar vanoggend kom staan hy hier voor my met sy “puss in boots ogies van die fliek Shrek” en vra my of ek dit in heroorweging sal bring.

Ek het so in die verte uitgestaar en saggies gesê “nee”, en my hart het gebreek, want ek weet hoe graag hy daar wil wees.

Maar ek kan mos nie teruggaan op my woord nie.  Al is dit hoe moeilik.  En nou, kry ek die “silent treatment” wat ek haat, haat en nogmaals haat.  Dis mos nie ek wat verkeerd is nie, of is dit?

Ai, waar is daai operation manual dan nou?  Of Dr van Alphen, of dalk sal ou Dr Phil gou vir my ‘n e-possie stuur oor hoe om dit te hanteer …

Saterdag …

September 24, 2008 in Sonder kategorie

Ja, ja, jaaaaaa ek weet dis nie Saterdag nie, maar dis klein Saterdag.  So julle sal my vergewe nê?

En ek verklaar hierdie nasionale braai en rekon”silly” dag as my amptelike Saterdag! 

Saterdag is, van die dag dat ek my chromosoom geskei het, DIE belangrikste dag in my week.  Dit is MY dag en ek laat niemand toe om te kom interveer nie. 

Ek gooi sommer vroeg-vroeg vir my ‘n glasie Vier Seisoene se Soet Roos (nee ek drink nie daai grênd kiewe saamtrek een of ander bekende naam wyn nie), pluk blomme in die tuin (en as daar nie is nie, het ek al Vrydag vir my aangeskaf by die local Spar) rangskik dit in ‘n vaas en plaas dit in my badkamer.

Ek draai die haai faai op vol volume en maak my benodigdhede bymekaar.  Vaselien en suiker – vir die hande, Oats vir die bad (nie fênsie borrelbad wat vel uitdroog nie) sykous, om om die kraan te draai met Oats in, Sigarette en asbak, wierook en dan verkas ek badkamer toe.  En daar sluit ek my vir 3 ure toe.

Die selfoon, deurklokkie en die werke word ge-ignore soos ‘n stopstraat en ek verdwyn in ‘n wêreld van my eie.  Kan daar nou iets beters wees as ‘n Saterdag?

Saterdag in my retjaarts dag.  So as julle my sal verskoon, my bad roep my …

Swarrel

September 23, 2008 in Sonder kategorie

Ai, ek probeer my uiterste bes om iets diep uit te dink.  Nou nie net sommer diep met ‘n “ie” nie, nee eerder diep wat mens so met ‘n ligte “u” moet sê, amper so …. du-weep, of so iets.

Dit torring aan my.  Dit krap hier aan my binneste as ek die ander blogs lees (en hier is mooies en du-weepes en ligtes en pragtiges en snaakses – ‘n potpourri van skryfstyle) en ek voel so half verdwaal omdat ek ook daai ingredient (sê dit in Afrikaans in-gri-die-hand) vir myself wil hê. 

Dit is wanneer ek dan gaan sit ek en begin speel met woorde en gister toe skep ek die een … swarrel.  Dit rol so lekker van die tong af en is ‘n wonderlike kombinasie van die Engelse woord “swirl” en ons lekker sê woord “dwarrel”.  Of dit nou eendag in ons woordeboek opgeneem gaan word, dit kan ek nou nie sê nie, maar ek “like” my woord.

So ek groet julle nou so dat ek ‘n bietjie kan gaan rondswarrel op die internet. 

Ag ja …

September 22, 2008 in Sonder kategorie

Saggies val die blare
rooi, oranje, geel en bruin

Ja, tokkel my hart se snare
tot my vrese, saggies, een vir een verdwyn.

Gister se vrae, wonder en seer
dwarrel in winde van gedagtes rond

Maar jy dring deur my harde verweer
en maak die wonde skoon, heel en gesond

Ag ja ….