You are browsing the archive for 2022 May.

by maraja

Kroes…

May 25, 2022 in Uncategorized

Mens is nooit te oud om te leer nie…

 Kroes…

Sussie is  van geboorte af geseën met die pragtigste, ligste krulkoppie wat sy by haar Pappa gekry het…en almal ooee en aaaah as dit gewas is en die son ‘n stralekrans deur die fyn krulletjies verhelder…maar sy haat dit…want dis te “Eina’ Mamma!” om te kam, wat nog te sê van was… Een foto-dag by die Kleuterskool het ek vir ‘n vreemde ma gevra hoe kry sy haar tweeling dogtertjies se fyn krulletjies dan in sulke twee perfekte vlegsels (met twee matching strikke vir afshow daarby) getem?  Sy het my haarfyn die hele proses beduie en eks nie skaam om te erken ekt nota’s geneem en na die volgende dorp gery om by Clicks en PicknPay die spesifieke detangler en Wet-Brush haarborsel te bekom nie, but what a failure… Die Anti-lice sjampoo het baie beter resultate gelewer vir die keer toe daar ‘n outbrake van gogga’s was by die Nasorg…

Ek en Kleinsus beny haar, want met ons dik, bruin straight hare kan ons nie verstaan hoekom iemand met sulke fensy hare dan sulke issues moet hê nie?  ‘n Regte prinses…is ons slotsom, hoe dan anders?  En net uit pure spitefull-geit het sy dit noudie dag stomp afgesny…sy is mos nou nie meer in kinder-garden nie en kan mos sulke groot besluite self neem, sê madam…

Elke dag by die skool verkyk ek my aan die meisies se hare… Nee, nie die mooi skoongewaste Barbie en haar Pony-tails nie, maar die klein vlegseltjies met die mooiste patroontjies kruis-en-dwars oor hul koppe.  Stilweg wonder ek dan hoe laat hulle soggens moet opstaan om so fency te lyk en dink aan my eie twee dogtertjies wat soggens my so sleg laat voel as ek net hul hare wil kam, want die trane stroom oor hul wange…Dalk is hulle albei Prinsesse? Nee wat, hierdie African Queens met hul trotse hairdo’s is definitief in a leaugue of their own… Soms vra ek hulle uit bewondering en respek of ek daaroor mag streel, want my sintuie kan dit netnie hou nie…en gelukkig begaan hulle my maar, want eks mos die weird art teacher

Maar dit bring my by ‘n heel ander soort kroes…

Laas vrydag toe dit tyd was om op te staan vir werk toe gaan, kon ek skaars my kop lig van verkoue/griep (dis ook net ‘n juffrou wat so bedagsaam is om oor naweke/vakansies siek te word) en het maar horisontaal bly lê tot maandagoggend.  By die skool het almal gevra hoe ek nou voel…seker bang ek het Corona…maar ek was steeds nie lekker nie, en al woord wat ek kon uitkry was: “Kroes, dankie…”

Ek het voor my geestesoog ouma se hoenders in die reën sien rondstaan, want dis seker presies hoe ek gelyk het…net soos Suelene…

Die laaste keer wat ek haar gesien het, het sy ook erg kroes gelyk…want sy was baie, baie siek…Maar sy was ook baie, baie bly dat ek tot in Port Elizabeth gery het om vir haar te kom kuier… Ek het nie die hart gehad om vir haar te sê dat ek eintlik kom koebaai sê nie, want sy het teen daardie tyd al haar pragtige rooi krulle (haar pride en joy) van die chemo verloor..

Ons ken mekaar al van 1995 af en het die eerste dag op Universiteit ontmoet.  Sy was altyd die life of the party en het my geleer om klasse te bunk en life te enjoy…want ons was nog jonk en die toekoms rooskleurig…

Oor die jare het ons kontak gehou…gewoonlik sy om te hoor wat ek alles aanvang en hoe dit met my artistic career (of nie) gaan…en ses jaar gelede maak sy weer kontak toe sy hoor ekt ‘n weduwee geword en is werkloos met twee baba’s…Al kry ek skaam, sponsor sy my tog vir ‘n jaar met doeke en melkgeld net tot ek weer my voete gevind het…’n regte friend in need

“Suelene is vanoggend oorlede…” (het die boodskap op my Whatsup gelees) en al was ek nie meer siek nie, het ek sommer van voor af weer kroes gevoel, maar dit was eerste pouse by die skool en ek moes my pose hou…want daar was niemand om my te troos nie…

en ek het ewe skielik gewens ek was weer klein dat my ma my lang hare kon uitkam…totdat die trane weer kon loop…soos lank, lank gelede…

Suelene Drake 1969 – 2022